ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image

Eerste lentereën bring groot verligting

Date: 10 September 2015 By: Andries van Zyl

Dieselfde week waarin waterbeperkings vir Limpopo in die Staatkoerant gepubliseer is weens die heersende droogtetoestande in die provinsie, het die hemel se sluise bietjie oopgegaan en het die streek sy eerste lentereënneerslae vir 2015 aangeteken.

Die koue wat die neerslae vergesel het, het geensins inwoners se vreugde oor die reën gedemp nie. Tuiniers en boere glimlag eweneens breed en menige het die hoop uitgespreek dat nog goeie neerslae binnekort sal volg.

Goeie reënbuie is van regoor die streek gerapporteer. Op Waterpoort is tussen 30 mm en 40 mm op plase gemeet. Soortgelyke reënvalsyfers is ook op plase in die Adam's Apple Hotel- en Bandelierkop-omgewing aangeteken.

Boere in Levubu het veral rede om te glimlag. In Levubu Wes is reënvalsyfers van 90 mm aangeteken en in Levubu Oos het reënmeters tot 108 mm gemeet. Louis Trichardt self het 80 mm aangeteken, alhoewel sommige inwoners sê hulle het meer as 90 mm uit hul meters gegooi. By Alldays het boere tot 50 mm gemeet en op die Witvlag-pad het boere neerslae van tot 73 mm aangeteken.

In die Vivo-omgewing is neerslae van digby 30 mm gerapporteer, alhoewel die reën hier met erge wind gepaard gegaan het, wat oesskade veroorsaak het. Dit is egter moeilik om ‘n geldwaarde aan die skade te heg, want dit is voor oestyd en markpryse is nog nie bepaal nie.

Soos genoem het veral boere die hoop uitgespreek dat goeie opvolgreën binnekort sal voorkom. Ten minste vir die res van die lente lyk die prentjie vir goeie reën rooskleurig. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens word bo-gemiddelde reën vir die noordoostelik dele van die land vir die res van die lente voorspel. Die prentjie lyk egter minder rooskleurig vir die komende somer, met die Weerdiens wat voorspel dat die somer weereens gekenmerk kan word aan uiters warm en droë toestande.

Wat die waterbeperkings vir Limpopo betref, het Margaret-Ann Diedericks in haar hoedanigheid as Direkteur-generaal van die Departement Waterwese en Sanitasie in die Staatskoerant van 2 September aangekondig dat daar sterk gronde is om te glo dat waterskaarste in die provinsie bestaan weens die huidige droogtetoestand. Derhalwe het sy waterbeperkings aangekondig vir die Nzhelele area stroomop van Mutshedsi en die Nzheleledam se opvangsgebied, sowel as die Nwanedzi-, Klein Letaba-, Molototsi- en Tzaneen opvangsgebiede.

By Mutshedsidam is daar ‘n 35% beperking op huishoudelike gebruik van water uit die dam en by Nzehelele ‘n 10% beperking ten opsigte van landbou besproeiing. Uit die Middel Letabadam is daar ‘n 65% beperking geplaas op landbou besproeiing, en by Nsamidam ‘n 60% beperking op besproeiing en 20% beperking op huishoudelik gebruik. ‘n Beperking van 20% is ook van krag uit die Modjadjidam vir huishoudelike gebruik en by Tzaneen is daar ‘n 35% beperking op besproeiing en 10% beperking op huishoudelik gebruik. Vir die Nwanedzi- en Luphephe sub-sisteemdamme is daar onderskeidelik ‘n 55% en 50% beperking geplaas op besproeiing. Die aankondiging in die Staatskoerant maak geen melding van enige beperkings ten opsigte van die Albasini- of Nandonidam nie.

 
 
 

Viewed: 198

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT