ADVERTISEMENT:

 

 
 

Bergcare doen kindersorg, gemeenskapsorg en bejaardesorg in die Soutpansberg. Hulle wil graag instansies en individue met dieselfde passie se hande sterk. Drie van die Bercare direkteure het na afloop van Donderdagaand se vergadering verder oor 'n nagskuiling gepraat. Van links na regs is mnr. Andries Smal, me. Jana Smith en mnr. Schalk Corbett.

Inwoners het al meer begrip vir ander se nood

Date: 28 August 2015 By: Linda van der Westhuizen

Die Soutpansberg raak al hoe meer betrokke by die nood van hawelose en behoeftige mense, met Bergcare aan die stuur. ‘n Nagskuiling vir volwassenes is die volgende projek op die agenda.

Bergcare is ‘n nie-winsgewende organisasie wat oorkoepelend help met barmhartigheidswerk en wil ‘n voertuig wees waardeur ander instansies en individue kan werk. Dat Bergcare reeds grootliks in hul doel slaag, het duidelik na vore gekom tydens hul inligtingsvergadering wat op 20 Augustus in die saal van die Soutpansberg Gholfklub gehou is.

“Sien julle nog hawelose kinders in die strate van Louis Trichardt?” het mnr. Andries Smal, een van die direkteure van Bergcare, gevra. Hy het voorts vertel hoe die totstandkoming van die Tshitandani Kindersorgsentrum in Tshikota hierdie probleem aangespreek het. Straatkinders word na Tshitandani geneem om daar te woon en versorg te word. “Dit is verblydend dat ‘n groter bewustheid van die nood van mense van die hele gemeenskap besig is om te groei,” het mnr. Frans van der Merwe na afloop van die vergadering gesê. Hy wy sy lewe daaraan om Zimbabwiese weeskinders te help en die droom om meer vir hulle te doen, het in Tshitandani gestalte gekry.

Te oordeel aan die aantal mense wat onder ‘n brug of in die veld slaap, is ‘n nagskuiling ‘n wesenlike  behoefte. Smal het gesê dat sowat  30 volwassenes een maal per week hul honger kom stil by die sopkombuis by Ayob Motors. Dan is daar ook nog die groep wat stukwerk in die dorp kom soek en nie saans vervoer na hul blyplek in die omliggende gebiede kan bekostig nie.

Die nagskuiling-idee is die vorige week deeglik deurgetrap deur rolspelers van 15 organisasies. “Die munisipaliteit het ook ingekoop en voorlopig ‘n huis aangebied wat tussen die dorp en Tshikota geleë is,” het Smal gesê.  Me. Jana Smith, ‘n Bergcare direkteur en lid van die subkomitee vir die nagskuiling, het die belangrikheid van opleiding in bemarkbare vaardighede beklemtoon.

Bergcare het ook terugvoer gegee oor die Bergcare kommune op die Vondeling-pad. Hul gemeenskapsorg sluit in die weeklikse uitgee van 123 kospakkies, waarvan 80 vir bejaardes is.

Ds. Petrus Kriel van die NG Kerk Levubu-gemeente het die nood van kinders in Levubu wat hul laerskoolloopbaan voltooi het en nie befondsing het om ‘n hoërskool by te woon nie onder die vergadering se aandag gebring. Die gedagte is om ‘n paar kinders wat die vermoë en wil het te identifiseer en hul vervoergeld en skool- en koshuisgeld te borg. Met so ‘n projek kan daar deur Bergcare gewerk word.

Hoewel Bergcare ontstaan het vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente, waar hul welsynswinkel ook geleë is, het Smal dit duidelik gestel dat Bergcare ‘n breë gemeenskapsorganisasie is wat alle kerke en instansies se hande wil sterk deur hul ondersteuning. Bergcare het reeds al die nodige registrasieprosesse afgehandel. Mnr. Andries Smal kan geskakel word by 082 899 9543.

 

 
 
 

Viewed: 154

 

 
 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT