ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle oom Louis Botha (84). Foto verskaf.

Soutpansberg neem afskeid van legendariese oom Louis Botha

Date: 21 August 2015 By: Andries van Zyl

Die Soutpansberg het afskeid geneem van nog een van hul legendariese pioniersfigure, veral in die Levubu-omgewing, met die afsterwe van oom Louis Botha (84) op 4 Augustus vanjaar.

Wyle oom Louis is gebore op die plaas Fanie in die Mopane-distrik op 21 Maart 1931. Die familie het daarna verhuis na Levubu, waar oom Louis een van Laerskool Levubu se eerste leerlinge was wat daar skoolgegaan het vandat die skool in 1940 sy ontstaan gehad het. 

Ná sy hoërskoolloopbaan by Hoërskool Louis Trichardt, het hy gaan boer vir sy pa, wyle oom Pat Botha, en sy oom, wyle oom Jo Redelinghuys. In daardie stadium het hulle met piesangs geboer, waarna hy en sy neef, Martin Knoetze, hul eie boerdery begin het op die plaas Klein Australië (Levubu). Aanvanklik het hy ook net met piesangs geboer, maar dit was nie lank nie of die neutbedryf het hom begin interesseer.

Oom Louis het ‘n groot rol gespeel in die destydse Levubu Koöperasie en lank as direkteur gedien. Hy was ook op die destydse Piesangsraad, en het ook as veldkornet in die Brig B van die destydse kommando gedien.

Oom Louis het saam met ander pioniers in die makadamiabedryf soos Bertie le Roux, Willie Schutte en ander die moed gehad om makadamias in Suid-Afrika op ‘n kommersiële skaal aan te plant en sodoende die grondslag te lê van die snel-ontwikkellende en groeiende bedryf wat dit vandag is.

Oom Louis was die eerste voorsitter van Levubu/Venda Samewerkingskomitee.  Hy was instrumenteel in die vestiging van die eerste kommersiële neutkraakaanleg in Suid-Afrika met die Zetpro fabriek (vandag bekend as Zetmac en in later jare geskuif na Mambedi) wat in Venda gebou is as ‘n gesamentlike onderneming tussen die verskillende rolspelers. 

As geestelike en gemeenskapsleier het oom Louis diep spore getrap en ‘n groot invloed gehad op baie mense se lewens in Levubu. Hy het later sy uiters suksesvolle boerderybelange aan sy seun, Johan, en skoonseun, Hardus, oorgedra en in Ceres in die Kaap gaan aftree.

Oom Louis en Tannie Alta het einde verlede jaar verhuis na Groot Brak, waar hy tot en met sy afsterwe gewoon het. Hy was in die ware sin van die woord ‘n pionier, nie net as boer en gemeenskapsleier in die vroeë jare van Levubu nie, maar ook in die makadamiabedryf, waar hy diep spore getrap het. Hy is na ‘n kort siekbed skielik oorlede en laat sy vrou, tannie Alta, dogter en skoonseun, Annelie en Hardus Knoetze, seun Johan en sy vrou Elise, met hul drie kinders, agter.

 
 
 

Viewed: 468

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

‘n Baie jong oom Louis as skoolgaande kind. Hy was een van Laerskool Levubu se eerste leerlinge wat daar skoolgegaan het vandat die skool in 1940 sy ontstaan gehad het.  Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT