ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die twee weldoeners wat me. Lila Seegers se verlore foon gevind en aan haar terugbesorg het. Links is mnr. Cedrick Sadiki en regs is me. Patricia Mametje. Foto’s verskaf.

Eerlikheid darem nog nie heeltemal dood nie

Date: 14 August 2015 By: Andries van Zyl

Ordentlikheid en eerlikheid is darem nog nie heeltemal dood nie … Daarvan kan me. Lila Seegers van Louis Trichardt getuig.

Op 31 Julie het sy haar selfoon op haar motor se dak vergeet, ingeklim en gery. By haar bestemming aangekom, het sy onmiddellik besef haar foon is weg. Sy het dadelik weer in haar voertuig geklim en haar roete teruggery, maar sonder sukses.

Intussen het ‘n vrou, me. Patricia Mametje (werksaam by Ocean Basket), die foon in die pad sien lê by die besige Munnik- en Erasmustraat-kruising. Sy het dit opgetel en van haar vriende daarvan vertel. Een van hulle was ‘n karwag in die Checkers-parkeerarea.

Bykans ‘n week het verbygegaan vandat Lila haar foon verloor het. Sy was baie hartseer oor die verlies, veral vanweë al die familiefoto’s wat sy daarmee geneem het, onder andere van haar kleinkinders van hul geboorte af. Toe sy inkopies by Checkers gaan doen het, het sy onder meer vir die karwag wat altyd haar voertuig oppas van haar hartseer verlies vertel. Lila is toe daar weg.

Glo dit of nie maar die karwag, mnr. Cedrick Sadiki, was die einste karwag aan wie Patricia vertel het van die foon wat sy opgetel het. Uit sy eie het hy met Patricia kontak gemaak en haar vertel van die vrou wat haar foon verloor het. Ongelukkig het hy nie geweet waar Lila bly of hoe hy haar kan bereik nie.

Dit het Cedrick egter nie gestop nie. Op 6 Augustus het hy mense in die parkeerterrein begin vra of hulle vir Lila ken. Ná vele beskrywings en verduideliking het hy toe wel ‘n vrou, me. Mariska Bothma, gevind wat vir Lila ken.

Mariska het dadelik na Lila se werk gejaag en haar vertel van die karwag wat op soek is na die vrou wat haar selfoon verloor het. Lila sê sy het dadelik geweet Mariska praat van Cedrick en ook met opgewondenheid verneem dat Patricia die foon opgetel het. Sy het met Patricia kontak gemaak en haar foon is aan haar terug besorg.

“Hoe wonderlik is dit om sulke eerlike mense se pad te kruis. Baie, baie dankie aan Patricia, Cedrick en Mariska. Ek is hulle ewig dankbaar!” het Lila gesê. Intussen sê sy het sy al haar kosbare foto's op rekenaar afgelaai en gestoor, net vir veiligheid!

 
 
 

Viewed: 237

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT