ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image

Optrede oordrewe, troos vir makadamiaboere

Date: 13 August 2015 By: Andries van Zyl

Ons Suid-Afrikaanse makadamiaboere se kommer oor die Chinese afsetmark, wat weens korrupte bedrywighede toegeslaan het, is oordrewe. Ons neute is steeds welkom op die vasteland mits dit deur die regte kanale bemark word.

So sê mnr. Derek Donkin, die uitvoerende hoof van Subtrop in Tzaneen, wat onder meer na die welstand van makadamiaprodusente omsien.

China het onlangs toegeslaan op invoerders en agente wat vrugte en neute onregmatig na die land ingevoer het. Hulle het nie die nodige invoerbelasting betaal nie en die ware via Hong Kong en Viëtnam ingebring, waar geringe of geen belastingtariewe ter sprake was nie.

Etlike Suid-Afrikaanse produsente van makadamias is die afgelope tyd deur gretige agente genader, met boverwagte pryse vir hul produkte. Nadat China toegeslaan het, het dié agente soos mis voor die son verdwyn en nie weer van hulle laat hoor nie.

Me. Jackie Whyte, die uitvoerende hoof van die makadamiagroep Green Farms Nut Company, het in ‘n onlangse verklaring gesê sekere produsente het tot 90% van hul oeste aan die Chinese mark toevertrou. Dit is hulle wat nou die ergste deurloop, want die skyn-agente het verdwyn. 
Green Farms volg ‘n vaste beleid met uitvoere en verskaf jaarliks slegs 20% van hul produkte aan China. Die res gaan na ander lande soos in Europa en Amerika (Our eggs are not in one basket).

Mnr. PJ Venter van Mayo Macs SA in Mpumalanga sê hulle word ook nie deur die Chinese se besluit geraak nie. Hulle voer al 10 jaar daarheen uit en het kontrakte met betroubare agente wat die reëls noukeurig toepas.

‘n Gerug doen ook in die wêreld van makadamias die rondte dat van die besendings in die Ooste dwelms bevat het, maar geen bevestiging hieroor kon gevind word nie.

Suid-Afrika is die grootste leweraar van makadamias ter wêreld, met 40 000 ton wat op 21 000ha geproduseer word. Dit sorg vir ‘n inkomste van R1,5 miljard. Die indiensneming is 4 400 mense by 450 kommersiële en 110 opkomende boere. Die grootste produsente is in Mpumalanga en die Oos-Kaap, terwyl verskeie nuwe aanplantings in Limpopo en ander streke gedoen word.

Die SA Makadamia Kwekersvereniging (SAMAC) is hierdie week gasheer vir ‘n wêreldkongres wat in Skukuza in die KNP aangebied word. (LiN Nuus – Bulletin)

 

 
 
 

Viewed: 216

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT