ADVERTISEMENT:

 

 
 

Bonnema egpaar

Verdagtes agter tralies

Date: 10 August 2015 By: Andries van Zyl

Die Levubu-gemeenskap voel hulle kan bietjie rustiger slaap, met die nuus dat die polisie twee verdagtes aangekeer het wat positief verbind word met ‘n onlangse vlaag gewelddadige rooftogte.

Die aanval op die Bonnema-egpaar van Levubu, die 62-jarige Jan Bonnema en sy 61-jarige vrou Elise, op Maandag, 27 Julie, het die gemeenskap op ‘n gereedheidsgrondslag gehad. Twee gemaskerde mans het die egpaar die aand in hul plaashuis oorval en wreed aangerand. Beide is onder meer met ‘n panga toegetakel en die rowers kon daarin slaag om met Jan se rewolwer en haelgeweer te vlug. Jan het na afloop van die aanval inwoners gemaan om paraat te wees, en die hoop uitgespreek dat die twee vinnig aangekeer sal word, alvorens hul weer kan roof of selfs moor. Hulle het immers nou ook vuurwapens gehad. Tog, het Jan gesê, hy is daarvan oortuig dat polisie en gemeenskap vinnig ‘n deurbraak sal maak, sodat hy sy wapens kan terug kry.

Die nuus dat twee verdagtes Sondag, 2 Augustus, deur die polisie aangekeer is, het as goeie nuus gekom, maar nie alvorens daar nog slagoffers was nie.

Vroeg Saterdagoggend is die bestuurder van Tshakuma Spar, mnr. Jaco Burger (31), by die Thohoyandou/Levubu-kruising oorval en beroof.

Burger het omstreeks 05:00 by die winkel aangekom en gesien dat die voordeure nog gesluit was. Hy het agterom beweeg en van sy personeel daar gevind wat gewag het om in te klok vir werk. Nadat hulle die winkel binnegegaan het, het hy besluit om sy voertuig van voor die gebou na agter te skuif. Kort nadat hy parkeer en uit die voertuig geklim het, het twee mans, soos in die geval van die Bonnemas, uit die donker verskyn en hom oorrompel. Hulle was gewapen en het hom forseer om op sy maag op die grond te lê. Daarna het hulle hom beroof van ‘n sak geld, sy beursie en selfoon. Die aanvallers het toe te voet op die vlug geslaan.

Saterdagmiddag is me. Cora Schoeman by haar plaaswoning op Levubu aangeval en beroof. Details oor hierdie aanval was teen druktyd egter nie geredelik beskikbaar nie.

Provinsiale polisiewoordvoerder kol. Ronel Otto het Dinsdag bevestig dat twee verdagtes aangekeer is en dat hulle positief verbind word met die aanval op die Bonnemas en Schoeman. Die twee, Maxwell Sonti Matamela (24) en Gezani Maswanganyi (25), is vasgekeer by Mashau. Drie vuurwapens is in hul besit gevind, asook 59 rondtes lewendige ammunisie. Twee van die wapens is positief uitgeken as dié wat tydens die Bonnema-aanval gebuit is. Die oorsprong van die derde vuurwapen was egter teen Dinsdag steeds onbekend.

Matamela en Maswanganyi het Dinsdag in die periodieke hof op Levubu verskyn. Hulle saak is egter uitgestel tot Dinsdag, 11 Augustus, vir verdere ondersoek. Tydens hul volgende verskyning in die hof sal hulle in die Landdroshof op Louis Trichardt verskyn.

Jan het intussen die arrestasie van die mans as baie goeie nuus beskryf, asook die feit dat hy sy wapens kan terugkry. “Die polisie, lyk vir my, het dag en nag gewerk om hulle in die hande te kry,” het Jan Woensdag gesê. Hy het gesê dit wys die speurders is wakker. “Ons is baie dankbaar daaroor, maar ek dink hulle [die polisie] het ook maar ons ondersteuning en samewerking nodig. Dan sal ons darem ‘n positiewe reaksie kry,” het Jan gesê.

Jan en die ander slagoffers wag nou vir die hofsaak om sy verloop te neem. “Maar jinne … ek het nie gedink ‘n gemeenskap kan ‘n ou so ondersteuning gee nie, en dit is wonderlik. Ek is positief die polisie werk hard om die ander kriminele ook uit te haal,” het Jan gesê. Wat hul fisiese en emosionele herstel na die aanval betref, het Jan gesê: “Nee wat, dit gaan goed. Ons kry maar so af en toe nog ‘n spook wat opkom, maar eintlik gaan dit baie goed met my en Elise.”  

 
 
 

Viewed: 2484

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT