ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die stryd tussen 'n bekende wildboer van die streek en die Staat, wat renosters se toekoms drasties kan verander, is nog lank nie verby nie. Indien die moratorium op die handel in renosterhorings opgehef word, kan dit verreikende gevolge hê.

Kruger-uitspraak kan hulle laat vry loop

Date: 10 August 2015 By: Isabel Venter

Die stryd ten opsigte van die toetssaak wat die toekoms van renosters drasties kan verander, is nog lank nie verby nie.

Mnr. Johan Kruger, ‘n wildboer van Alldays, is reeds in ‘n jarelange stryd met die Staat betrokke om die moratorium op die handel in renosterhorings opgehef te kry. Sy saak het Dinsdag, 3 Augustus, weer voorgekom in die Noord-Gautengse Hooggeregshof.

Kruger se saak is uitgestel tot September vanjaar, waarna ‘n beslissing gefel sal word. Hierdie beslissing sal ook ‘n groot rol speel in die uitkoms van Dawie Groenewald se kriminele saak.

Beide Kruger en Groenewald se prokureur, mnr. Hennie Erwee van Musina, het Dinsdag bevestig dat die sake nou verbind is met mekaar.

Erwee het verduidelik dat indien die Hooggeregshof in Kruger se guns beslis, dit tot gevolg sal hê dat Groenewald se saak dalk uit die hof gegooi kan word.

Deel van Kruger se aansoek poog om sekere dele van die Wet op Biodiversiteit se regulasies oor beskermde of bedreigde spesies – spesifiek renosters – te hersien en ongeldig te verklaar.  

Kruger boer self met renosters en ander skaars wildsoorte, en meen dat die kommersiële handel in renosterhorings, met behoorlike beheer, 'n meer sinvolle en volhoubare oplossing vir renosterstropery sal wees. Kruger het ook in die verlede die hoop uitgespreek dat die hersiening van die regulasies renosterboere in staat sal stel om ‘n wins te maak. Hy het gesê dat, indien sy aansoek slaag, dit die handel sal oopstel, wat daartoe sal lei dat die vraag na en aanbod van renosterhorings behoorlik gemonitor sal word.

Erwee het verder bevestig dat nog ‘n groot naam in die renosterbedryf toegetree het tot Kruger se hofstryd. Mnr. John Hume, Suid-Afrika se enigste grootskaalse renosterteler, is nou saam met Kruger ‘n mede-aansoeker.  

Hulle aansoek sal op 22 September aangehoor word. Dit is nog nie duidelik of die hof dadelik uitspraak sal lewer nie. Erwee is egter vol hoop dat die volbank regters wat aangestel is om die saak aan te hoor in Kruger en Hume se guns sal beslis.

Intussen het Groenewald en sy 10 medebeskuldigdes, wat beskuldig word van die onwettige jag op renosters, ook Dinsdag in die Pretoriase Hooggeregshof verskyn. Hulle saak, wat nou al meer as vyf jaar sloer, sou na verwagting ‘n aanvang neem, maar is weer vir ‘n jaar uitgestel terwyl daar gewag word vir uitslag in Kruger en Hume se aansoek.

Die ander beskuldigdes is Groenewald se vrou Sariette (38), twee veeartse, Karel Toet (50) en Manie du Plessis (41), Toet se vrou, Marisa (421), Toet se werknemer, Jacobus Marthinus Pronk (52), drie professionele jagters, Tielman Erasmus (37), Gys du Preez (33) en Nardus Rossouw (46), ‘n helikopter vlieënier, Dewald Gouws (29) en ‘n plaaswerker, Paul Matoromela (65).

Saam staar die 11 'n totaal van 1 872 klagtes, wat onder meer insluit permitoortredings, geldwassery, onwettige jag en die handel in en die verkoop van renosterhorings, asook oortredings van die Wet op Biodiversiteit en die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad, in die gesig.

Hulle sal weer op 28 Julie 2016 in die hof moet verskyn.

 

 
 
 

Viewed: 3489

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Dawie Groenewald.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT