ADVERTISEMENT:

 

 
 

Watertekorte belemmer werksaamhede

Date: 07 August 2015 By: Isabel Venter

Mnr. Jack Ramalatso, bestuurder van die Makhado-brandweerstasie, is al rasend ongelukkig oor die dorp se waterprobleme.

Hy het verlede week by navraag gereageer en gesê dat die stasie se werk nie net belemmer word deur kroniese watertekorte nie, maar ook deur die feit dat die Makhado Munisipaliteit agterlosig is met hul brandvoorsorgmaatreëls.

Hy het spesifiek verwys na die brand by Bush Valley en dat die gras daar heuphoogte gegroei het, sonder dat daar enige brandbane gesny is. “Selfs hier in die dorp is daar baie leë erwe met lang grasse wat ‘n gevaar kan inhou vir ander eiendom,” het Ramalatso gesê.

Ramalatso het weereens ‘n beroep gedoen op die publiek om nie gedurende Augustus, September of Oktober enige oop vure te maak nie. “Augustus is bekend vir sy droogte en kwaai winde – iets wat vure maklik buite beheer kan laat raak,” het hy gesê. Verder het Ramalatso boere, veral opkomende boere, gewaarsku om brandbane op hul plase te maak.

Ramalatso het ook aanbeveel dat boere by die Makhado Vuurassosiasie aansluit. Hier kan nuttige inligting soos brandrisiko-voorspellings bekom word. Die organisasie kan ook lede bystaan tydens ‘n brand.

Lesers kan nou ook, gedurende die brandverbod tydperk, in die Zoutpansberger asook op die koerant se webblad (www.zoutpansberger.co.za) ‘n daaglikse brandgevaarindeks volg. Dié indeks word weekliks op ‘n Maandag opgedateer, met die vriendelike vergunning van die Makhado Vuurassosiasie.

Dié glyskaal neem faktore soos vogtigheid, windspoed en reënval in ag en kategoriseer dan ‘n brandgevaar in vyf kleure, naamlik blou, groen, geel, oranje en rooi.

Blou dui ‘n brandgevaar van tussen 0 en 20% aan, groen ‘n gevaar tussen 21 en 45%, geel tussen 45 en 60%, oranje tussen 61 en 75% en rooi tussen 76 en 100%. Onderskeidelik dui die kleure ‘n brandgevaar van veilig, gematig, gevaarlik, baie gevaarlik en uiters gevaarlik aan.

‘n Vuur waaroor daar beheer uitgeoefen word, kan nog toegelaat word om te brand in groen omstandighede. Geen oop vure word toegelaat as die indeks ‘n brandgevaar van 45%, d.w.s. geel, en hoër aandui nie. Die brandweer en vuurassosiasie is dan ook outomaties op ‘n gereedheidsgrondslag, sou daar dan ‘n brand uitbreek. In terme van die Wet op Nasionale Veld- en Bosbrande van 1998 word die grondeienaar verantwoordelik gehou vir die begin en verspreiding van ‘n veldbrand en as die brand iemand anders skade berokken, kan strawwe boetes opgelê word.

Vir die komende week word daar ‘n brandgevaar wat wissel tussen 50 en 60% vir die Soutpansberg voorspel. 

In geval van nood of vir meer inligting kan die brandweerstasie geskakel word by 015 516 0554.

Die Vhembe sowel as die Makhado Munisipaliteit is genader vir kommentaar oor die watertekorte en persele wat nie instand gehou word nie, maar teen druktyd was daar geen antwoord op die koerant se vrae rondom enige brandvoorsorgmaatreëls wat in plek gestel is gedurende die brandverbod tyd nie.

 
 
 

Viewed: 2671

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT