ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle oom Naas Pohl (96).

Soutpansberg verloor nog een van sy pioniersfigure

Date: 07 August 2015 By: Andries van Zyl

Nog ‘n hoofstuk is afgesluit in die verhaal van die Soutpansberg en sy kleurvolle mense.

Oom Naas Pohl is verlede Woensdagaand, 29 Julie, in die rype ouderdom van 96 jaar in die Zoutpansberg Privaathospitaal oorlede. Ten spyte van oom Naas se hoë ouderdom, is sy dood maar steeds vir die familie moeilik om te verwerk. Buiten sy een been wat vyf jaar gelede afgesit is weens ‘n sirkulasieprobleem, was sy gesondheid andersins 100% het die familie gesê.

Oom Naas was voorwaar een van daardie kleurvolle mense wat die Soutpansberg karakter gegee het. Hy en sy vrou, tannie Lettie (of Girlie soos hy haar genoem het), het in 1953 na Louis Trichardt gekom saam met hul kinders Attie, Philip en Lynette. Hy en tannie Lettie was toe 10 jaar getroud gewees. (Terloops, in Januarie vanjaar het die Zoutpansbeger ‘n artikel gedoen oor oom Naas en tannie Lettie met die viering van hul 72ste huweliksherdenking – voorwaar ‘n mylpaal vir enige paartjie. Die egpaar het toe hul geheim vir ‘n gelukkige huwelik gedeel deur te sê hulle moes hard saam werk, daar min tyd was vir baklei, en dat hulle nooit kwaad vir mekaar gaan slaap het nie).

Op Louis Trichardt aangekom, het oom Naas se kop Alldays toe gestaan. Hy het egter ‘n ou polisievriend van hom, wyle oom Roelf Steyn, in die straat raakgeloop. Dié het hom meegedeel dat hy sy tyd gaan mors in Alldays en oom Naas oorreed om die Milkbar (in Songozwistraat, naby waar Edgars vandag is) te koop.

As besigheidsman het oom Naas altyd vooruit probeer gaan. Kort nadat hy die Milkbargekoop het, het hy gehoor dat die legendariese Great North Kafee (waar ABSA Bank vandag is) in die mark is. Hy het die Milkbar verkoop en toe die kafee gekoop.

Oom Naas het Great North vir ‘n hele paar jaar bedryf. In 1959 het die idee van ‘vorentoe gaan’ weer begin pla en hy het toe ‘n perseel aangrensend tot die kafee gekoop. Hy het Great North Kafee verkoop en die perseel ontwikkel, en so het Permac droogskoonmakers (wat vandag nog sake doen) tot stand gekom.

In 1966 het oom Naas sy sakebelange verder uitgebrei. Hy en sy oudste seun Attie (wie sterf in ‘n motorongeluk in 1986) het Robot Elektries in die Rentmeester gebou begin, met hulle deure wat op 1 November van daardie jaar geopen het. (Robot Elektries word vandag nog as familiebesigheid van die Pohls bedryf). Intussen sou tannie Lettie aangaan om Permac Droogskoonmakers te bedryf tot in 1973, toe die onderneming verkoop is.

As sakeman was oom Naas baie gerespekteerd. Hy was beslis nie lui nie, soos duidelik blyk uit sy besluit om eers op die ouderdom van 87 jaar af te tree in 2006. “Tog was hy nog baie helder,” sê skoondogter Inez. Hy sou aangaan met sy sakebelange tot sy dood as mede-aandeelhouer van die Rentmeester gebou.

Hy was welbekend vir sy sakevernuf, maar as meelewende lid van die gemeenskap was hy eweneens bekend en bemind. Buiten sy oop hart en hand, was hy vir dekades lid van die plaaslike Rotariërs. Sy gunsteling posisie by die Rotariërs was in die amp van “Sergeant”. “Hy het dit vreeslik baie geniet,” sê Inez. Nadat hy weens die verlies van sy been nie meer baie beweeglik was nie, het die Rotariërs ere-lidmaatskap aan hom toegeken.

Vir die kleinkinders is die verlies van hul oupa ook moeilik. “Ons harte is seer … Hy het gelewe sonder enige pretensies, hy het ‘n groot sin vir humor gehad en nooit kwaad geword nie – hy was ‘n familiemens,” sê kleindogter Elisma.

Oom Naas laat sy vrou, Girlie (90), seun Philip, dogter Lynette, twee skoondogters, skoonseun, agt kleinkinders en agt agterkleinkinders agter. ‘n Roudiens is Saterdag, 1 Augustus, vir hom gehou by Gateway Gastehuis.

 
 
 

Viewed: 211

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT