ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Truworths-tak in Louis Trichardt was een onderneming wat deurgeloop het. Foto: Soutpansberg Dorpswag.

Misdaad toon onrusbarende toename gedurende Junie

Date: 06 July 2015 By: Isabel Venter

Dalk is dit die langer aande, of miskien die groter aantal donker aande (danksy Eskom), maar misdaad het gedurende Junie ‘n skielike toename getoon.

Ondernemings en inwoners het almal deurgeloop. Veral in die laaste twee weke was wonings die teiken van diewe – in die meeste gevalle terwyl die mense van die huis nog geslaap het. In die jongste voorval is ‘n vrou in haar huis aangeval en vermoedelik deur ‘n rower(s) met ‘n kettie in die gesig geskiet terwyl sy geslaap het. Haar linkeroogbank is oopgekloof en sy het so baie bloed verloor dat die mense wat tot haar hulp gesnel het, aanvanklik gedink het sy is geskiet.

Verlede Donderdag is daar by die Truworths-tak op die hoek van Songozwi- en Kroghstraat ingebreek. Die diewe het toegang verkry tot die winkel deur die vertoonvenster uit te slaan. Die volgende dag is daar by Doors le Roux jnr. se plaashuis op die plaas Welgevondeningebreek. Die rampokkers het toegang verkry deur die diefwering oop te buig. Hulle het toe die voordeur van binne-af oopgesluit en verskeie huishoudelike items uitgedra. Van dié goedere is nie ver van Le Roux se huis nie weer teruggevind, waar dit versteek was in die veld.

Saterdag is twee vermeende rowers aangekeer toe hulle die Tydstroomwinkel by die minibus-staanplek in Krugerstraat probeer beroof het. Die rowers se plan, naamlik om deur die dak te klim om arrestasie te probeer vryspring, het lelik skeefgeloop. Hulle het nie rekening gehou dat die hangplafon sal insak nie, en hulle is gearresteer toe hulle deur die dak geval het. ‘n Staanyskas en kasregister in die winkel het skade opgedoen toe die rowers en plafon na benede getuimel het.

Ingevolge ‘n moratorium mag die polisie nie maandelikse misdaadstatistieke uitreik nie. Die plaaslike polisie is Maandag genader vir kommentaar oor vier voorvalle van roof, maar het teen druktyd nie gereageer nie, ten spyte van opvolgoproepe.

Die Zoutpansberger het daarom die Soutpansberg Dorpswag genader in ‘n poging om die omvang van misdaad in en om Louis Trichardt bepaal. Lesers moet asseblief daarop let dat daar wel leemtes in hierdie syfers kan wees, omdat nie alle misdaadgevalle altyd gerapporteer word nie, hetsy aan die dorpswag óf die polisie. Daar is ook gevalle waar die dorpswag se hulp ingeroep is, maar die klaer verkies om dan nie ‘n saak by die polisie aan te meld nie. Net so is daar ook gevalle waar die polisie in kennis gestel word, maar nie die dorpswag nie.

Gebaseer op hulle statistieke het die woordvoerder van die dorpswag, mnr. Barend le Roux, gesê dat daar ‘n kommerwekkende toename is in geweldsmisdade, soos in die geval van De Villiers. Hy sê daar is al hoe meer gevalle waar rowers voorbereid (dit is met een of ander wapen) ‘n huis of onderneming sal beroof. Daar was vanaf 22 Junie een geval van motordiefstal, een gewapende roof, vier inbrake by huise, een inbraak by ‘n onderneming en een geval van diefstal.

Inbrekers is nou al so astrant, sê Le Roux, dat hulle op 26 Junie vir hulle slagoffer gesê het om net stil te bly en verder te slaap toe sy gegil het. Daar is by oopgebuigde diefwering ingeklim en ‘n skootrekenaar en selfoon is gesteel.

Verder het Le Roux bevestig dat daar nog steeds gevalle is van huiseienaars wat laks is met die sekuriteit in en om hul huise. “Daar is nog mense wat eerder hul geld sal spandeer op luukshede instede van byvoorbeeld ‘n alarm,” het Le Roux gesê. Sy raad aan inwoners was om meer paraat te wees, veral tussen 01:00 en 04:00. ‘n Eenvoudig maatreël is om seker te maak vensters is op knip. As ‘n skelm dan wil inkom, moet die glas eers gebreek word, wat die huismense sal wakker maak. Daar is ook baie gevalle, sê Le Roux, waar mense hul gordyne tot laat in die aand oop los, wat ‘n gul geleentheid skep vir inbrekers.

Inwoners kan ook gratis by die dorpswag aansluit. Daar is ook geleenthede om betrokke te raak by die dorpswag, anders as om patrollies te ry. Vir meer inligting kan hulle kantore geskakel word by  082 251 0827.

 

 
 
 

Viewed: 385

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Twee rowers het op hulle hêrrie gekry nadat hulle verlede week ingebreek het by die Tydstroomwinkel naby die taxi-staanplek in Louis Trichardt. Hulle het deur die dak probeer klim, maar die plafon kon nie albei se gewig dra nie. Foto: Soutpansberg Dorpswag.

Verlede Vrydag (26ste) het inbrekers toegang gekry tot 'n vrou se huis in Andersonstraat deur die diefwering oop te buig. Die dorpswag waarsku hierteen en maan inwoners om eerder hul vensters op knip te hou. As skelms eers die glas moet stukkend slaan om by die diefwering te kom, kan dit die huismense waarsku dat daar fout is. Foto: Soutpansberg Dorpswag.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT