ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Stiaan (17) en Coetzee van der Walt (6).

Gemeenskap in rou

Date: 26 June 2015 By: Isabel Venter

“Dis ongelooflik tragies. Ek’t nog nooit soveel rou seer, flenterse mense beleef nie.”

So het mev. Rina Fourie van Hoërskool Eric Louw gesê, nadat twee boeties van Musina kort na mekaar dood is.

Klein Coetzee van der Walt (6), met sy ondeunde gesig en wilde blonde hare, orals bekend op die grensdorp as 'n “klein busybody” en sy ouer broer, Stiaan (17), is Saterdag dood toe hulle pa se bakkie met ‘n voertuig gebots het wat stukkend in die pad gestaan het. Coetzee was ‘n leerling aan die Laerskool Messina en Stiaan ‘n Graad 10-leerling aan die Hoër Tegniese Skool (HTS) Tom Naudé.

“Ons vat elke dag soos dit kom ... dag vir dag ... maar dit gaan onder die omstandighede goed met ons,” het Stiaan en Coetzee se ma, Philna, Dinsdag gesê. Sy was toe nog by die MediClinic in Polokwane waar sy haar man, Kobus, bygestaan het. “Ek was ook opgeneem gewees ... die skok ... dit was net te veel vir my ... ek kon nie meer nie.”

Philna is by die hospitaal bygestaan deur haar oudste dogter, Marianné (20). “Sy vat dit baie swaar; sy verlang na haar boeties,” het Philna gesê.

Stiaan, Coetzee en pa Kobus was omstreeks 22:00 met hul bakkie op pad terug na Musina, nadat hulle die dag op die familieplaas by hulle ouma gekuier het. Philna sê die seuns het baie na die jagseisoen uitgesien, veral met die skoolvakansie wat so te sê om die draai was. Daar was juis Saterdag jagters gewees op die plaas, sowat 60 km uit op die Venetiamyn-pad.

Die ongeluk het sowat 10 km vóór die dorp gebeur. Volgens die polisie se inligting het die gebreekte voertuig, ‘n enkelkajuit bakkie, op ‘n blinde hoogte gestaan en Kobus het dit nie gesien nie.

Kobus se bakkie het etlike kere gerol voordat dit in die bosse tot stilstand gekom het. Stiaan was vasgekeer in die wrak en is op slag dood. Coetzee is uit die bakkie geslinger, maar het nog geleef. Hy het veelvuldige kopbeserings opgedoen.

“...ek weet jy is nou in ‘n beter plek, maar ek vra baie, baie mooi kyk mooi na ons van daar bo af en vra mooi dat almal vir my klein boetie Coetzee, wat in ‘n baie kritieke toestand is asseblief bid...vra ons Liewe Vader elke sekonde om hom mooi in sy hande te dra en om terug vir ons te gee asseblief bid...” het Marianné kort na die ongeluk op haar Facebook-blad gevra.

Coetzee se lyfie was baie stukkend gewees, en hy het in die ambulans kort voor Polokwane beswyk aan sy beserings.

Kobus het harsingskudding opgedoen en ‘n paar van sy ribbes is ook gebreek. Philna het Dinsdag bevestig dat daar dalk senuwees in sy nek vasgeknyp word, maar dat ‘n spesialis eers ‘n beslissing sal moet maak. “Hy is darem buite gevaar,” het sy gesê.

Daar sal hierdie Donderdag ‘n roudiens vir Stiaan en Coetzee wees vanuit die Hervormde Kerk op Musina. “Daar is soveel maatjies wat hulle gaan mis,” het Philna gesê.

Die seuns sal dan Vrydag op die familieplaas begrawe word, het Philna gesê, op ‘n stukkie grond wat spesiaal vir hulle uitgekies is.  

Intussen word die ongeluk ondersoek. Volgens reddingwerkers het dié bakkie op die pad gestaan sonder enige waarskuwingstekens of –ligte. So ver daar vasgestel kan word, het die bestuurder nie enige beserings opgedoen nie.

 
 
 

Viewed: 776

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Die oorlaaide bakkie waarteen Kobus gebots en die lewens van sy twee seuns geëis het. Foto verskaf.

Die Van Der Walts se bakkie waarin hulle gery het.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT