ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Danie de Beer (50). Foto verskaf.

Rit eindig in tragedie

Date: 12 June 2015 By: Andries van Zyl

Die een oomblik het hy nog met sy kenmerkende glimlag met sy vriende gesels en sy verloofde gesoengroet, opgewonde om saam met sy 11-jarige aanstaande stiefdogter deel te neem aan die 10km Kremetart pretrit. Minute later het die skoknuus egter gekom - Danie is dood!

Die 50-jarige Danie de Beer van Louis Trichardt se dood Saterdagoggend was skielik. “Niemand wou dit glo nie ... dit was ‘n skok vir almal,” het sy verloofde, Rachel, Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.

Danie was fiks en het gereeld fiets gery. Hy was wel ‘n diabeet en het kolesterolprobleme gehad, “maar hy het sy pille soos klokslag elke dag gedrink,” sê Rachel.

Danie is dood vermoedelik vanweë ‘n bloedklont deur die hart skaars drie kilometer nadat hy en Charlene saam weggespring het. “Hy het die oggend gekla van ‘n kramp in sy been. Toe vryf ek die kramp uit. Ek het vir hom gevra of hy seker is hy wil ry? Toe sê hy nee, hy isfine, hy voel net bietjie snaaks. Hy het opgestaan en was baie happy gewees,” sê Rachel. Sy en Danie sou op 1 November vanjaar trou. Hulle ken mekaar al twee jaar en het in Augustus verlede jaar verloof geraak.

‘n Huisvriend van Danie, Johan Steyn, het saam met hom en Charlene gery. “Sy laaste woorde aan Johan was: ‘Ek voel moeg ... baie, baie moeg,” sê Rachel. Die volgende oomblik het hy met sy fiets geval. Charlene het in daardie stadium, onwetend van hoe ernstig Danie se situasie was, nog aanhou ry.

Rachel en Hannetjie, Johan se vrou, het by die wegspring gewag. Hannetjie se foon het gelui. Dit was Johan. “Sy [Hannetjie] het skielik uitgeroep dat iemand ‘n ambulans moet bel. Ek het saam met haar gehardloop na die toerisme sentrum waar ons parkeer het,” sê Rachel.

Aanvanklik het almal by die wegspring gedink dit was ‘n kind wat geval het. Die wegspring was maar rof vir die jonger ryers, en skaars oor die wegspringlyn het ‘n paar al in mekaar vasgery. Rachel self het gedink dit was dalk Charlene wat geval het.

Op pad na waar Danie in Rissikstraat geval het, het Hannetjie se telefoon weer gelui en sy het dit vir Rachel aangegee. “Toe hoor ek net hoe skreeu Johan: 'Dit is Danie!' Steeds het ek gedink hy het maar net geval en seergekry, of dit was miskien sy suiker...”

Niks kon egter vir Rachel voorberei op wat vir haar gewag het nie. “Toe ons daar stop toe sien ek hulle doen mond-tot-mond asemhaling. Ek het gesien hoe skud Johan sy kop vir Hannetjie om te sê dit is te laat ... dit is klaar ... en toe ek Johan se gesig sien – toe weet ek.”

Charlene was ook op die toneel, nadat sy die omdraaipunt bereik het en begin terugry het. Omstanders het vir Rachel weggehou van Danie. “Hulle het my kar toe gevat en iets gegee om te drink. Charlene het die groot skok weg, want sy was die heeltyd daar en het alles gesien,” sê Rachel. Sedert die noodlottige dag sukkel Charlene om te slaap en huil kort-kort. “Sy moes vanoggend gaan eksamen skryf, maar het nie skool toe gegaan nie,” sê Rachel. Sy het Dinsdagmiddag vir Charlene vir berading gevat.

‘n Ambulans het opgedaag om vir Danie hospitaal toe te neem, maar dit was reeds te laat.

Rachel sê sy het berusting met wat gebeur het, alhoewel dit nie haar hartseer minder maak nie. “Almal daar het gedoen wat hulle kon. Dit was sy tyd gewees.”

Vir Danie se vriende is sy dood eweneens hartseer. Almal wat hom geken het, het hom geken as ‘n goeie mens met ‘n goeie hart.  Hy het nooit sy hand toegehou vir iemand nie en was altyd hulpvaardig.

As gesinsman het hy gelewe vir sy aanstaande familie. “Sy [Charlene] was baie lief vir Danie. Hulle was soos battery en torch ... en my seun [Jean-Pierre] en Danie was ook baie, baie naby aan mekaar. Hulle kon oor enige iets praat ... dit was net liefde! Die hele huis was net liefde. Hy het ‘n groot hart gehad, liefdevol ... woorde kan hom nie beskryf as jy hom nie geken het nie ... hy was alles in een. Hy was een pakket – altyd geglimlag en altyd vriendelik. Hy was ontsettend lief vir ons. Om ons gelukkig te sien was vir hom die wêreld,” sê Rachel. Danie het elke netbalwedstryd van Charlene bygewoon. “Hy het haar na elke oefening en skool toe geneem. Met elke ietsie wat by die skool gebeur het, was hy daar. Hy was altyd saam met haar. Mens sou sweer hy was die ma en die pa,” sê Rachel met ‘n glimag.

Wyle Danie word Vrydag, 12 Junie, om 11:00 vanuit die Emmanuel Kerk in Louis Trichardt begrawe. Hy word oorleef deur sy broer Koos, susters Martie, Magda en Ria, verloofde Rachel, Charlene, Jean-Pierre en aanstaande skoonma Doreen De Roubaix.

“Hy is in God se hande nou. Dit is waar hy wou wees. Hy het gereeld vir my gesê om altyd gereed te wees vir die dood, maar nie om daarvoor bang te wees nie. Hy was ‘n groot Christen en ‘n mense mens. Hy het altyd geglimlag en nooit vir iemand gewys as hy bekommernisse gehad het nie ... ‘n wonderlike mens ... ‘n stunning mens – dit was Danie,” sê Rachel.

Danie was vir bykans agt jaar die eienaar van DAB Pompe. Hy was welbekend by dorpsbewoners, boere en buitegemeenskappe. Die familie het sy kliënte om verskoning gevra dat die onderneming hierdie week gesluit is vanweë die begrafnisreëlings. DAB Pompe sal weer eerskomende Maandag oop wees vir sake.

 
 
 

Viewed: 680

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Sekerlik een van die laaste foto's wat van Danie geneem is, sekondes nadat hy Saterdag weggespring het vir die 10 km Kremetart pretrit saam met sy 11-jarige aanstaande stiefdogter. Minute late moes sy verloofde die skoknuus hoor dat hy dood is.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT