ADVERTISEMENT:

 

 
 

Henk Stavast en Derik Francis het hul besoek aan Louis Trichardt Woensdag afgesluit met ‘n praatjie by Laerskool Louis Trichardt, waarna hulle per fiets na Vivo gery het. Hulle is tot by Schoemansdal deur lede van die plaaslike Christen-motorfietsklub begelei, asook lede van die P&L Fietsryklub (in die agtergrond). In die middel, voor, staan Derik en ds. Stavast. Links van Derik staan mnr. Louis Cilliers (hoof van Hoërskool Louis Trichardt) en regs van Stavast mnr. Louis Linde (hoof van Laerskool Louis Trichardt). Beide skoolhoofde ondersteun die projek en het ook tot by Schoemansdal met hul fietse saamgery.

Fietstoer veg vir plek vir Godsdiens in skole

Date: 12 June 2015 By: Andries van Zyl

Inwoners van Louis Trichardt is hierdie week uitgenooi om hul stemme te voeg by die duisende Christene wat wil keer dat Godsdiens in skole verbied word.

Die dorp het Dinsdag en Woensdag gasheer gespeel vir ds. Henk Stavast (van die Gereformeerde Kerk Totiusdal) en Derik Francis (van die NG Kerk Moreletapark), die twee manne van die Hou Godsdiens in Skole-fietstoer. Hulle is met hul aankoms by die Gereformeerde Kerk op gesellige wyse onthaal met ‘n bring-en-braai en talle plaaslike geestelike leiers het die geleentheid bygewoon.

Dit was egter meer as net ‘n kuiersessie. Dit was ook ‘n inligtingsessie om die erns van die saak te benadruk en te verduidelik waarom hulle skole besoek. In samewerking met AfriForum samel Stavast en Francis geld in om ses skole wat deur die organisasie Ogod (Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie) voor die hof gedaag is om hulle te verbied om Godsdiens op hul skoolterreine te beoefen, finansieel te ondersteun. Die twee mans het sedert Junie verlede jaar reeds meer as 6 000 km deur Suid-Afrika gery en meer as 43 000 kinders by skole toegespreek.

“Ons praat met die kinders en ons roep hulle op om met die Here te praat in hulle lewe. Ons roep hulle op om na die Here te luister deur Sy Woord oop te maak. Ons roep hulle op om dit wat hulle in die Woord hoor, nie net te hoor nie, maar te lewe elke dag van hulle lewe. Dat hulle nie moet skaam wees om kinders van die Here te wees nie … want as hulle vir Christus lewe, dan maak hulle ‘n verskil waar hulle is … dit is in kern ons boodskap aan die kinders,” het Stavast gesê.

Stavast het gesê dat hulle dan ook vir die kinders vertel van die hofsaak en wat hulle kan doen om te help om keer dat Godsdiens in skole verbied word. “Hulle kan stry hierteen deur in die eerste plek op te staan vir hulle geloof. In die tweede plek dan ook om finansieel by te dra,” het Stavast gesê.  Hy het bygevoeg dat, sou die skole hierdie hofsaak in die Hooggeregshof wen, Ogod reeds aangedui dat hulle dit op appèl sal neem in die Grondwetlike Hof. In hierdie stadium is daar reeds meer as R2 miljoen op die hofsaak spandeer. In totaal word daar egter nog  R8 miljoen benodig.

Stavast het ook uitgebrei oor hoe ouers die projek ervaar. Hy sê dat daar wel ouers is wat voel dat Christelike onderrig by die huis hoort, nie by skole nie. “Daarmee stem ons saam in die opsig dat dit eerstens die ouers se verantwoordelikheid is, maar Christus is nie net by die huis nie, Hy is ook by die skool … So, die ouer het ‘n verantwoordelikheid, maar ook by die skool moet die kind leer dat God ook daar is … ons kinders is die meeste van hulle tyd by die skool, nie by die huis nie,” het Stavast gesê.

Wat voorafgaande betref, het Stavast bygevoeg dat dit hartseer is dat ‘n groot deel van ouers nie meer in die kerk kom nie. “Hulle maak nie meer hulle Bybels oop in die huis nie en praat nie meer oor God nie. So, die enigste plek waar daardie kind kan hoor van die verlossing in Jesus Christus, is by die skool. Ons kan dit nie van hulle ontneem nie. Ons kan nie die Blye Boodskap van hulle af weghou nie,” het Stavast gesê.

Stavast het ook genoem dat daar ook ouers is was sê dat as Ogod Godsdiens by skole wil verbied, Christene bloot hul eie privaatskole moet stig. Die realiteit is egter ontnugterend. “Die feit van die saak is dat die meerderheid van ons ouers dit nie kan bekostig nie. ‘n Groot deel van ons Christene is nie by die vermoë om hulle kinders in ‘n privaatskool te sit nie. Die staatskool is die enigste plek waar sy of haar kind kan wees, so dit is vir ons uiters, uiters belangrik om hierdie hofsaak te bestry,” het Stavast gesê.

Stavast en Derik het hul besoek aan Louis Trichardt Woensdag afgesluit met ‘n praatjie by Laerskool Louis Trichardt, waarna hulle per fiets na Vivo gery het. Hulle is tot by Schoemansdal deur lede van die plaaslike Christen-motorfietsklub begelei, asook lede van die P&L Fietsryklub. By Triegies was hulle boodskap duidelik: “Hoekom doen ons dit? Om vir julle te help, want weet julle daar het mense na ons land se howe gegaan en gesê ons moet ons land se wette verander? Daar mag nie meer by skole gebid word nie. Hulle wil hê ons land se wette moet sê ons mag nie meer Bybel lees by die skool nie … en ons mag nie meer sing vir die Here in ons skool nie. Dit kan ons mos nie doen nie, want by die skool is ons ook mos God se kinders en by die skool moet ons ook kan hoor wat sê die Here vir ons,” het Stavast gesê. Hy het dus vir die kinders, en derhalwe ook hul ouers, gevra om die projek te ondersteun.

Hoe kan mense betrokke raak? Deur R10 te skenk deur jou naam te SMS na 38315, die petisie aanlyn te teken by www.hougodinskole.co.za of per e-pos te kommunikeer by [email protected]. Daar kan self gereël word vir ‘n eenmalige donasie of maandelikse debiet aftrekorder.

 
 
 

Viewed: 348

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Die dorp het Dinsdag en Woensdag gasheer gespeel vir ds. Henk Stavast (tweede van regs agter) en Derik Francis (regs agter), die twee manne van die Hou Godsdiens in Skole-fietstoer. Hulle is met hul aankoms by die Gereformeerde Kerk op gesellige wyse onthaal met ‘n bring-en-braai en talle plaaslike geestelike leiers het die geleentheid bygewoon. Die Gereformeerde Kerk het ook die aand ‘n donasie aan die projek oorhandig, asook hulle petisielyste ter ondersteuning van die projek.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT