ADVERTISEMENT:

 

 
 

Plaaslike AfriForum voorsitter mnr. Wally Schultz sê ‘n nuwe plan was nodig, aangesien die hofbevel nie meer as swaard gebruik kan word nie. 

AfriForum se nuwe plan om water te verseker

Date: 11 June 2015 By: Isabel Venter

Daar heers tans baie vrae oor watervoorsiening aan Louis Trichardt, en tot onlangs toe was die antwoorde min gewees.

AfriForum, wat van die begin af betrokke is by die dorp se waterstryd, het vandeesweek besonderhede oor ‘n nuwe aksieplan bekendgemaak.

Daar is Woensdag ‘n skriftelike ultimatum op die waterkomitee van die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) beteken deur AfriForum se regsafdeling. “Dinge in Louis Trichardt gaan al hoe meer agteruit, en dit is vir ons van kritiese belang dat ‘n tipe vermoë in plek gestel moet word sodat inwoners gehelp kan word,” het die provinsiale verteenwoordiger van AfriForum, mnr. Morné Mostert, Dinsdag gesê.

AfriForum stel ‘n saakwaarneming voor indien die VDM nie hulle sokkies gaan optrek nie.

In die brief is die VDM sewe dae gegun om gebreke op die dorp se huidige boorgate te herstel, sodat daar water gepomp kan word. Volgens plaaslike AfriForum voorsitter mnr. Wally Schultz het die komitee in ‘n vorige vergadering aangedui dat hulle al die gebreke in ‘n week kan herstel.

‘n Onlangse gedetailleerde lys van al die gebreke is deur AfriForum saamgestel en ingesluit by die brief. Indien die VDM nie by die spertyd kan hou nie, sal AfriForum dié taak oorneem en watervoorsiening bestuur, op die koste van VDM.

Die eerste sal wees om te sorg dat die huidige boorgate – daar is 12 – so gou as moontlik herstel word. Daar is van die boorgate wat gebrekkige sekuriteitsmaatreëls het, pompe wat nie werk nie of lekkende pype het. AfriForum het reeds twee privaatmaatskappye genader vir kwotasies, en sal van hulle dienste gebruik maak indien VDM teen die einde van die sewe dae nie alles by dié boorgate in orde het nie.

Schultz het verduidelik dat ‘n nuwe plan nodig geword het omdat die hofbevel wat AfriForum op 2 Oktober 2012 gekry het, nie meer ‘n swaard is wat hulle teen die VDM kan gebruik. ‘n Tweede hofbevel wat AfriForum op 17 Mei 2013 teen die destydse munisipale bestuurder mnr. Masala Makumule gekry het, het ook nie geslaag nie.

Schultz sê dit sou ook nie gehelp het om Makumule aan te kla van minagting van die hof nie. “Ons sou die enigste bekwame VDM-leier verloor het,” het Schultz gesê. “Ek dink dit is hoekom hy afgedank is, omdat hy sy werk gedoen het. Nou sit ons met ‘n leierskapleemte by die VDM... daar is niemand om verantwoording te doen nie, en ook niemand wat ons kan aankla nie, omdat die wet sê mens mag nie iemand aankla wat tydelik aangestel is nie.”

Intussen swyg die VDM steeds. Hulle woordvoerder, mnr. Matodzi Ralushai, het vandeesweek belowe om die koerant se navraag van 'n week gelede te beantwoord. Teen druktyd is daar nog geen antwoord van hom ontvang nie, ten spyte van talle opvolg oproepe, e-posse en SMS'e.

Die VDM sal in terme van AfriForum se brief tot en met 24 Junie kans hê om die 12 boorgate in 'n werkende toestand te kry.

 

 
 
 

Viewed: 332

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT