ADVERTISEMENT:

 

 
 

Mnr. Johan de Beer word omring deur lede van die Makhado Polisie, kort nadat sy winkel beroof is en hy een rower doodgeskiet het.

Rower doodgeskiet

Date: 05 June 2015 By: Isabel Venter

Daar was min simpatie vir die man wat verlede week deur ‘n plaaslike sakeman doodgeskiet is tydens ‘n gewaagde gewapende roof in die sentrale sakegebied van Louis Trichardt.

Die sakeman, mnr. Johan de Beer, kon klaarblyklik daarin slaag om die gewapende roof by sy onderneming, De Beers Juweliers, verlede Vrydag te stuit, hoewel die polisie aangedui het dat die oorblywende rowers met 'n onbekende hoeveelheid geld en goedere weggekom het.

Volgens inligting vanaf die polisie verkry, het die roof net voor middagete plaasgevind. ‘n Groep van nie minder nie as ses mans het die juweliersware-onderneming omstreeks 12:30 binnegekom. Een het glo ‘n pistool by hom gehad. Hulle het die kluis se sleutels en geld van De Beer geëis.

De Beer kon gelukkig daarin slaag om sy vuurwapen in die hande kry en een van die rowers dood te skiet. Toe die skote begin klap, het die ander rowers die hasepad gekies en hul makker net daar gelos.

Die geweerskote het feitlik die hele middedorp tot stilstand gedwing. Omstanders het om die winkel begin saamdrom, wat die plaaslike polisie genoodsaak het om die hele gedeelte van Songozwistraat tussen Krogh- en Burgerstraat af te kordon.

Nuus van die rower wat sy Moses teëgekom het, het soos ‘n veldbrand oor die sosiale media versprei, en gelukwense vir De Beer het teen laatmiddag ingestroom.

“10 uit 10 vir De Beer,” was maar net een van vele kommentare op die nuus. Menige het gemeen dat hy nou hulle nuwe held is, en van reg oor Suid-Afrika was daar talle wat so via Facebook ‘n klop op die skouer aangestuur het. “Give that man a Bell's,” het nog ‘n aanhanger laat weet.

Teen druktyd was die polisie nog op soek na die mans en nog geen arrestasies is tot dusver gemaak nie.

Die dooie rower kon ook nog nie geïdentifiseer word nie. Volgens die polisie se inligting het dié man meer as 20 verskillende aliasse. Daar is glo ‘n sterk vermoede dat die man van Gauteng afkomstig is en ‘n professionele krimineel kan wees.

Die polisie het ‘n saak van gewapende roof by 'n besigheid geopen vir verdere ondersoek. Daar word ook ‘n klag van moord ondersoek teen De Beer. Die koerant verneem dat dit standaard prosedure van die polisie is om so ‘n saak te open in die geval van ‘n gewapende aanval waar ‘n aanvaller gedood word, en dat De Beer nie sommer aangekla sal word nie.

Teen Dinsdag (2de) was De Beer se winkel nog gesluit vir besigheid. Hy het gesê dat hy nie sal kommentaar lewer oor die aangeleentheid tot die saak afgehandel is nie.

Intussen is nog ‘n plaaslike besigheid, die Vleispot op die hoek van Burger- en Vorsterstraat, laat Dinsdagmiddag beroof deur twee mans. Een verdagte is gearresteer, terwyl die tweede een ontsnap het. Meer besonderhede was nie teen druktyd bekend nie.

 

 
 
 

Viewed: 478

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT