ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic Image

Beloftes van water net so leeg soos die krane

Date: 05 June 2015 By: Isabel Venter

Terwyl daar baklei word oor watervoorsiening aan Louis Trichardt, bly inwoners se krane steeds droog en is die antwoorde min.

Daar is heelwat inwoners wat met die hande in die (vuil) hare sit, omdat dat daar bloot net nie water is nie.

Die Zoutpansberger het oor die afgelope twee weke klagtes ontvang van inwoners wat al vir die hele Meimaand nog geen water het nie - nie net ‘n bietjie nie, niks nie!

Een gesin in die nuwe uitbreiding het gekla dat hulle al hul toilette met swembadwater moes begin spoel. Daar is ook heelwat gesinne in Wolmaransstraat wat by die koerant gekla het dat hulle al vier weke aaneen nie water het nie.

Besighede in die dorp gaan net so swaar gebuk onder die las. “Hoe moet ons ons blomme vars hou?” het die bestuur van Sophie’s Choice in die sentrale sakegebied van die dorp gekla.

Louis Trichardt se huidige watertekorte het in Maart weer begin kop uitsteek. In Mei is daar onderbrekings afgekondig, nadat herstelwerk aan die voorsieningsnetwerk gedoen is. Sowat twee weke gelede is nog onderbrekings afgekondig nadat Pompstasie 3 herstel moes word op die Albasini-netwerk.

Ongelukkig vir inwoners blyk daar nie binnekort verligting te wees nie.

Die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM), wat feitlik leierloos moet funksioneer, swyg soos die graf. By navraag het die VDM se woordvoerder, mnr. Matodzi Ralushai, gesê hy sal ondersoek instel of daar nog watertekorte is. Hy het belowe om op die koerant se vrae te reageer, maar teen druktyd is daar geen terugvoer van hom ontvang nie. Daar is spesifiek gevra wie tans in die sleutelposisies by die munisipaliteit aangestel is wat betref watervoorsiening, en wanneer die poste gevul sal word indien daar tans net tydelike amptenare in die pos aangestel is. Verder het die koerant ook navraag gedoen oor die vordering van herstelwerk aan die Alabsini-lyn.

Intussen is dit ook steeds onbekend wat AfriForum, wat van die begin betrokke is by die dorp se waterstryd, gaan doen rondom die nuwe krisis. Plaaslike takvoorsitter mnr. Wally Schultz is ook genader vir kommentaar nadat hy op Facebook bekendgemaak het dat AfriForum ‘n nuwe plan van aksie bedink. Hy kon teen druktyd nie bevestig wat dié plan behels nie. 

 

 
 
 

Viewed: 282

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT