ADVERTISEMENT:

 

 
 

Philip Venter verlaat die Louis Trichardt Distrikshof kort nadat hy skuldig bevind is op drie oortredings van die vuurwapenwet.

Leraar nie so skuldig

Date: 29 May 2015 By: Isabel Venter

Ds. Philip Venter is Donderdag (20ste) in die Louis Trichardt Distrikshof skuldig bevind op drie klagte dat hy die Vuurwapenwet oortree het.

Hy is ‘n boetevonnis en opgeskorte tronkstraf opgelê. Die 58-jarige leraar van Veritas Gemeenskapskerk is streng vermaan om nie weer die wet te oortree nie. Landdros Marcelle Pieterse het ook gesê aangesien Venter ‘n eerste oortreder is, dit onbillik sal wees om hom onbevoeg te verklaar om ‘n vuurwapen te besit.

Sy het ook gesê weens sy posisie, en as lid van sekuriteitsorganisasies van die dorp, daar meer verwag word van hom as die gewone man op straat en dat sy wapenlisensies altyd in orde moet wees.

Venter is onskuldig bevind op die klag van bedrog, dat hy valslik vir mev. Cecile Steyn onder die indruk sou gebring het dat hy ‘n gemagtigde vuurwapenhandelaar was.

Venter is daarvan beskuldig dat hy gedurende April 2006, onder valse voorwendsels, besit geneem het van drie vuurwapens van Steyn. Hy sou haar glo onder die indruk gebring het dat hy die nodige magtiging gehad het om die wapens in besit te neem. Dié wapens het vermis geraak, en gedurende Mei 2013 het Steyn ‘n klag by die Makhado Polisie ingedien, omdat die wapens nog op haar naam geregistreer was.

Sy het vir die Staat getuig dat Venter gedurende 2006 aan haar te kenne gegee het dat hy in die proses was om Turner’s Wapens te koop. Juis hierom het sy Venter vertrou, en die wapens aan hom as geskenk gegee, omdat sy dit nie meer wou gehad het nie. Steyn het eers amper vier jaar later agtergekom dat die wapens nog op haar naam geregistreer was en navraag gedoen. Hierop het Venter in 2010 in twee briewe aan haar erken dat hy nog die wapens in sy besit gehad het.

Venter sou nog later beweer dat hy die wapens aan sy oorlede vriend, mnr. Tewie Wessels, gegee het sodat hy dit weer op sy beurt aan ‘n wapensmid kon gee om te laat deaktiveer.

Hiervan was die plaaslike polisiestasie, het lt-kol Bez Bezuidenhout vir die Staat getuig, nie bewus nie. Daar is geen bergingspermitte vir Steyn se wapens uitgereik nie. Bezuidenhout het ook getuig dat Venter nooit ‘n geregistreerde vuurwapenhandelaar was nie, omdat sy registrasieproses net halfpad voltooi was.

Wessels se suster, mev. Zanette Wessels, het ook vir die Staat getuig dat haar broer in Februarie 2009 oorlede is, dat hy nie ‘n wapensmid was nie, en dat sy nooit Steyn se wapens by hom gesien het nie. Sy het ná sy afsterwe vir Venter help soek na die wapens, maar dit was nie in Tewie se kluis nie.

Venter se advokaat, mnr. Neil Duvenhage, het beide Steyn en Bezuidenhout se getuienis hewig aangeval. Volgens hom was Steyn se getuienis nie heeltemal waar nie, en moes sy iets gehad het om weg te steek.

“Die getuienis dat Steyn wapens aan Venter geskenk het, is bewys dat hy [Venter] nie ‘n wanvoorstelling aan haar gemaak het om die wapens te verkry nie ... en faal die Staat se saak op alle aspekte in verband met die beweerde bedrog,” het Duvenhage tydens ‘n vorige verskyning skriftelik betoog.

Duvenhage het verder betoog dat Bezuidenhout onreëlmagtig opgetree het deur gereeld half-voltooide bergingspermitte uit te reik. Hier het hy baie gesteun op die getuienis van mnr. Peet Visser, wat ‘n jarelange vriend van Venter is. 

“Venter se saak was eenvoudig, hy het permitte vir die wapens gekry en Tewie ook,” het Duvenhage gesê.

Tydens uitspraak het landdros Pieterse gesê dat Steyn nie heeltemal ongeloofwaardig was nie. Sy het wel toegegee dat Steyn dalk onseker kon wees oor die tydrelevansie van wanneer Venter Turner’s sou koop, omdat sy ‘n kwesbare tyd deurgemaak het. Daar was in 2006 verskeie inbraakpogings by haar huis.

Omdat Visser getuig het dat Turner’s se aankoop eers in 2008 ter sprake gekom het, het Pieterse gelas dat die “fout in Steyn se getuienis nie uitgesluit kan word nie,” en die voordeel van die twyfel aan Venter moet gaan. “Dit is vir die hof ongehoord dat Steyn meer as vier jaar lank gewag het om navraag oor die wapens te doen.”

Verder het Pieterse bevind dat Venter nie wederregtelik of valslik opgetree het toe hy die wapens bekom nie, en dat Steyn geen finansiële skade gely het toe die wapens vermis geraak het. Pieterse het wel haar kommer uitgespreek dat die wapens nog steeds, na nege jaar, vermis is. “Ons weet dat misdaad met gesteelde, onwettige wapens gepleeg word,” het sy gesê.

Derhalwe het Pieterse vir Venter onskuldig bevind op die klag van bedrog. Wat betref die drie klagtes waarvolgens Venter versuim het om ‘n bergingspermit en skriftelike toestemming van Steyn te kry, voordat hy die wapens in sy besit geneem en homself as wapenhandelaar voorgedoen het, het Pieterse hom skuldig bevind.

Sy het gesê dit was vreemd dat Venter nie die permitte aan die hof kon voorlê om sy onskuld te bewys nie. Verder het sy toegegee dat die polisie foute kon gemaak het op die lisensiedokumente, maar dat al was daar ook hoeveel beweerde wanorde, Venter nogtans die permitte in sy besit moes gehad het. “Dit is die hof se submissie dat Venter nooit die permitte kon toon nie, omdat hy nooit die permitte bekom het nie. Om te beweer dat hy die permitte bekom het en later vernietig het, is onaanvaarbaar.”

Verder het Pieterse ook gesê dat die gewone man op straat Venter se briewe aan Steyn sou aanvaar het as bevestiging dat hy ‘n geregistreerde wapenhandelaar was. Sy het hom skuldig bevind op al drie klagtes.

Vir haar vonnis het sy dié drie klagtes saamgeneem, en Venter tot ‘n boete van R8 000 of ses maande gevangenisstraf, wat vir ‘n tydperk van drie jaar opgeskort is, gevonnis. 

 
 
 

Viewed: 540

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT