ADVERTISEMENT:

 

 
 

Oom At en tant Maria van Coller. Foto: Martie Briers.

Oom At het sy eie pad na sukses oopgekap

Date: 22 May 2015 By: Isabel Venter

Dit was in die tyd toe teerpaaie maar yl gesaai was, alles per trein vervoer is en die draadloos die amptelike bron van nuus was in die Bosveld.

Dit was in die tyd van oom At van Waterpoort.

Die jaar was 1955 toe oom At van Coller aan die werk gespring het en soos die spreekwoordelike “’n boer maak ‘n plan” begin het met die bou van Van Collerspas. Hy het dit gedoen uit die harde klip van die Soutpansberge wat met handtoerusting gekerf is.

Sestig jaar later, op 5 Mei vanjaar, is oom At se harde werk gevier deur sy nageslag. Die bekende pas, wat naby Waterpoort oor die hange van die berg kronkel, is vandag nog in gebruik.

In ‘n brief aan oom At se nageslag vertel sy dogter, Martie Briers, uit Australië hoe dit dan gekom het dat haar pa aan die werk gespring het.

Boerdery was in oom At se bloed en hy het altyd daarvan gedroom om ‘n volwaardige boer te word. Voordat hy en sy gesin hulle kom vestig het in die Soutpansberge, het oom At met snyblomme geboer noord van die Magaliesberg. Vertel Martie, haar pa was een van die eerstes wat daardie jare blomme aan die Johannesburgse varsprodukte mark gelewer het.

Later jare het hy ook sy eie slaghuis, die Strydfontein Slaghuis en Abattoir, net buite Pretoria, oopgemaak. Dié besigheid bestaan vandag nog, en word deur ‘n kleinseun bedryf.

Hierdie slaghuis lei oom At uiteindelik na die noorde, en in 1943 word hy die trotse eienaar van die plase RobertsonGeorgeGlasco en Carnavon, almal geleë aan die westelike kant van die Sandrivier, in ‘n vallei bo-op die berg.

Aanvanklik het oom At en sy wederhelfte, tant Maria, en die kinders net vakansie op die plaas gehou in die wintermaande as dit biltongtyd was. Die rivier het dit ook nie juis maklik gemaak om die plaas uit te kom nie, veral as dit vol afgekom het in die reëntyd.

In daardie jare was Martie ook nog klein gewees en as die gesin se laatlammetjie, wou haar ma haar nie kosskool toe stuur nie, en het hulle nog in Magaliesberg gebly.

Daar het dus ‘n paar jaar verby gegaan, sê sy, maar toe dit tyd word vir die hoërskool, kon niks oom At meer terughou nie - sy kop het Bosveld toe gestaan.

In 1954 het die Van Collers op die trein geklim met net die nodigste lewensmidde, tot by die Phareng-halte op die buurplaas. “Terloops,” sê Martie in haar brief, “die teerpad was daardie jare slegs tot op Warmbad.”

Oom At en tant Maria was toe albei al in hulle sestigs gewees en Martie is die volgende jaar koshuis toe op Louis Trichardt, min wetende dat sy haar ouers eers weer drie maande later sou sien!

Die rivier het met mening afgekom en daar is die egpaar vasgekeer op hulle ‘nuwe’ plaas met slegs die ou FM radio om saans na die nuus te luister. ‘n Werker kon daarin slaag om te voet oor die berg, na oom Steve Fourie se winkel op Waterpoort, te loop, sodat Marietjie darem kon hoor dit gaan nog goed met haar ouers.

Dit was boonop elke keer ‘n staptog van drie-myl (5 km) tot op Waterpoort as daar proviand gekoop moes word, en dit sou net nie deug nie.

Derhalwe het oom At ‘n waterpas gegryp en saam met die plaasvolk aan die werk gespring en van die plaas se kant af begin bou aan die pas. Pikke en grawe was hulle enigste toerusting. Van die grootpad af tot waar oom At die nuwe opstal wou bou, was dit amper twee myl. Op baie plekke was die rotse so los dat die geringste stampie ‘n vloedreën van klippe in die kloof laat loskom het.

Maar selfs nie eens dit, of die massiewe rotse, kon haar pa keer nie. Net voor huis toe gaan tyd het hulle vuur gepak op die klippe wat moes waai, sodat dit tydens die afkoeltyd in die nag kon kraak.

Soms wou oom At moed opgegee, maar dan het tant Maria hom bemoedig en die pas is nege maande, en R2 700 later, voltooi. Die Weëraad (destydse paaiedepartement) het darem ook R300 bygedra vir springstof.

Op 5 Mei 1955 het oom At en die tante met hulle motor vir die eerste keer van Waterpoort – waar dit maar pal gestaan het – oor die pas tot by hul plaas gery. “Wat ‘n geskiedkundige dag vir ons familie!” sê Martie.

Ná die pas het oom At hom voltyds op sy boerdery begin toespits, en boorde en landerye aangelê dat dit bars. Hy was wyd in die streek bekend vir die watertand nartjies wat hy gekweek het - daar is selfs in ‘n koerantberig in die 30 Junie 1961 uitgawe van Die Brandwag melding gemaak van dié feit.

Op die plaas Robertson het oom At ook vir tant Maria ‘n praghuis gebou, met terrasse en rotstuine rondom, waar hulle tot die einde van hul dae saam geboer het.

 

 
 
 

Viewed: 965

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Die Van Collerspas, afgeneem in 1961 deur J.F. Uys, 'n joernalis van Die Morester koerant. Uys skryf dat die pas op plekke 800 voet (nagenoeg 200 m), bokant die Sandrivier deur die kranse loop. Derhalwe het oom At het ook verkeerstekens soos "Gee Vet" en "Moenie die klippe afrol nie" aangebring.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT