ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic Image

Genoeg twyfel om onskuld te wys, sê advokaat

Date: 15 May 2015 By: Isabel Venter

Daar bestaan genoeg twyfel in die bedrogsaak teen dr. Philip Arnoldus Venter (58) om hom onskuldig te bevind en die klagte teen hom te laat vaar.

Dit was die argument van Venter, ‘n leraar van Louis Trichardt, se advokaat, mnr. Neil Duvenhage, in die Louis Trichardt Distrikshof waar Venter teregstaan op ‘n klag van bedrog en oortredings van die Vuurwapenwet. Venter het Donderdag (7de) weer in die hof verskyn.

Daar is vooraf in die saak skriftelike betooghoofde by die hof geliasseer, nadat die Staat sy saak reeds in Februarie vanjaar gesluit het.

Venter word daarvan aangekla dat hy gedurende April 2006, onder valse voorwendsels, besit geneem het van drie van mev. Cecile Steyn van Louis Trichardt se oorlede man se vuurwapens. Hy sou haar glo onder die indruk gebring het dat hy ‘n geregistreerde wapenhandelaar was. Al drie wapens het intussen vermis geraak, met Venter wat aanvoer dat hy dit vir sy oorlede vriend, mnr. Tewie Wessels, gegee het om te deaktiveer. Ná Tewie se dood in 2009, het Venter egter in 2010 in twee briewe aan Steyn erken dat die wapens steeds in sy besit was, met die nodige bergingspermitte (SAPD 539-vorms).

Duvenhage het Donderdag repliek gelewer op Venter se betoogskrif deur aspekte aan die hof uit te lig waar daar moontlike twyfel in die Staat se getuienis bestaan. “U hoef nie te bevind of die beskuldigde [Venter] ‘n leuenaar is (nie). As u kan bevind op die getuienis voor u dat sy getuienis redelik moontlik waar mag wees, dan moet hy die voordeel van die twyfel kry ... ek wil met eerbied aan die hand doen, as u na die hele saak kyk, is daar twyfel,” het Duvenhage aan die hof gesê.

Duvenhage het volstaan by die stelling dat die plaaslike polisie se wapenlisensiekantoor in wanorde was. Hy het ook gesê dat Steyn nooit getuig het dat Venter aan haar voorgestel het dat hy [Venter] die nodige magtiging het om besit te neem van die vuurwapens soos dit op die klagstaat aangedui word nie. Verder het Duvenhage geargumenteer dat Steyn se getuienis nie moontlik waar kan wees nie, omdat sy getuig het dat Venter Turner's Wapenhandelaars wou oorkoop en daarvan melding gemaak het in 2006 toe sy haar wapens aan hom oorhandig het. “Volgens die onbetwiste getuienis van Venter en sy vriend mnr. Peet Visser was Turner's in daai dae nog nie ter sprake nie, so sy moet ‘n fout maak daar ... haar getuienis is dus nie heeltemal aanvaarbaar nie,” het Duvenhage gesê.

Verder het Duvenhage ook gesê dat Visser se getuienis - toe die wapens aan Wessels oorhandig is met die uitgereikte permitte - aanvaar moet word, omdat dit onder kruisondervraging van die Staat nie juis veel aangeval is nie. Hy argumenteer dat Visser, alhoewel hy nie die permitte van naderby ondersoek het nie, dit wel gesien het. “Hy het getuig dat hy die permitte en die wapens die betrokke dag gesien het ... die hof kan nie sy getuienis verwerp nie ... en as die hof tot daardie gevolgtrekking kom, dan moet die hof die beskuldigde [Venter] ontslaan, want dan is daar permitte vir die vuurwapens aangevra en kan daar derhalwe nie rede vir die bedrogklagte wees nie, ook gesien in die lig van Steyn se getuienis van Turner's.”

Na Duvenhage se repliek is die saak uitgestel tot en met 21 Mei vir uitspraak deur die hof.

Lees ook:

22 Mei 2014 - Advokaat meen getuies wil dominee net sink

14 November 2014 - Leraar was nie geregistreer nie, getuig deskundige

06 Maart 2015 - Saak teen leraar sluit na laaste getuienis

 
 
 

Viewed: 333

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT