ADVERTISEMENT:

 

 
 

Amanda (links) en haar seun Stephan (regs), afgeneem saam met Amanda se dogter, Antoné. Amanda is dankbaar dat sy en Stephan nie doodgeskiet is tydens die aanval nie. Foto verskaf.

Skoot gaan nie af nie

Date: 08 May 2015 By: Andries van Zyl

‘n Ma en haar seun moes die afgelope week traumaberading ontvang, nadat hulle deur nie minder nie as ses gewapende mans by hul woonstel op Laerskool Messina se skoolterrein aangeval is.

Dié nagmerrie-gebeure het omstreeks 03:30 verlede Woensdagoggend afgespeel aan huis van Amanda Taute en haar seun Stephan. Stephan, ‘n leerling van Hoërskool Eric Louw, was die afgelope week ook in die nuus nadat hy en twee van sy spanmaats gekwalifiseer het vir die derde rondte keuring vir die Limpopo Cravenweekspan.

Amanda is werksaam by Venetia Myn en verlaat 04:00 elke oggend haar woonstel op die skoolterrein om betyds die bussie na die myn te haal. Sy vermoed hulle moes haar bewegings dopgehou het.

Op pad na buite het Amanda se twee hondjies verby haar gestorm, die trappies af. Sy is agterna maar skielik staan daar ‘n man met ‘n mes. “Hy het my mond toegedruk en my geslaan met die agterkant van die mes,” sê Amanda. Haar aanvaller wou weet waar haar man was, waarop Amanda gesê het sy het nie een nie.

Die man wou ook weet waar haar selfoon en sleutel van die woonstel was? “Ek het vir hom gesê dit is in die woonstel,” sê Amanda. Intussen het nog mans uit die donker nag verskyn. Dit klomp is dadelik na haar woonstel, maar is deur Stephan verras, wat uitgekom het om te sien wat aangaan.

Wat volgende gebeur het, kan sekerlik net as ‘n wonderwerk bestempel word. Toe die aanvallers Stephan gewaar, het een ‘n pistool in sy gesig gedruk en die sneller getrek. Wonderbaarlik het die skoot nie afgegaan nie.

Amanda en Stephan is eenkant in ‘n kamer op ‘n bed aangehou deur van die aanvallers met vuurwapens en messe, terwyl die res hul woonstel geplunder het. Feitlik al hul besittings is haastig in tasse, lakens, sakke en komberse gepak. Kort daarna het die mans op die vlug geslaan. “Hulle het ons in die woonstel toegesluit en ek en my seun het vensters gebreek om aandag te trek. Hier is geen sekuriteitswagte nie, behalwe vir die buurtwag wat telkens ‘n draai kom maak,” sê Amanda. Die skool, sê sy, het by die buurtwag aangesluit na ‘n roof by hul hoofingang in Junie verlede jaar.

Gelukkig vir Amanda en Stephan het ‘n buurvrou die geraas gehoor en dadelik ‘n onderwyser wat ook op die perseel woon se hulp ontbied. Die rowers, sou dit later blyk, wou by die onderwyser se woonstel ook inbreek maar het net die voordeur beskadig. Daar is ook by ander woonstelle gepeuter.

Die hulp van die polisie is ook ontbied. By nadere ondersoek is gevind dat die rowers toegang tot die perseel verkry het deur die sekuriteitsheining oop te knip aan die beboste deel langs die skool. Hulle het ook deur die gaping in die heining weer ontsnap. Volgens spore het hulle na die Malaladrif-pad, sowat 500 m vanaf die skool, gevlug waar ‘n voertuig vir hulle gewag en hulle opgelaai  het.

Die aanval het Amanda en Stephan erg ontstel. In gesprek met ander inwoners is dit duidelik dat almal maar bietjie onrustig slaap. “Ek is nou al twee jaar woonagtig hier op die perseel en daar gaan nie een aand verby dat daar nie iemand in of om die perseel is nie. Ons is gelukkig om nie dood of beseer te wees nie,” sê Amanda.

Teen druktyd was dit nie seker of enige arrestasies al in verband met die roof gemaak is nie. 

 
 
 

Viewed: 398

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT