ADVERTISEMENT:

 

 
 

Tydens die koerant se besoek op Donderdag, 16 April, het dit ook sommer vinnig duidelik geword hoekom daar so baie ongelukke by die berugte KFC-kruising is. Behalwe vir ‘n bus wat oor ‘n rooi verkeerslig gejaag het, was daar meer as een minibus wat ook die rooilig verontagsaam het. 

Talle sukkel steeds om reëls te gehoorsaam

Date: 08 May 2015 By: Isabel Venter

Motoriste in Louis Trichardt en omstreke se bestuurgewoontes bly steeds ‘n bron van kommer.

Die Zoutpansberger het weer gaan kyk of die situasie van mense wat nie by stoptekens en rooi verkeersligte stop nie, enigsins verander het. Verskillende vierrigtingkruisings is oor ‘n tydperk van drie weke gemonitor tydens drukverkeer asook in stil tye.

Die koerant het gedurende 2011 ‘n soortgelyke studie gedoen waar daar getel is hoeveel motoriste in ‘n uur oor ‘n betrokke kruising gaan sonder om by die stopteken te stop. Daar is toe bevind dat, van die nagenoeg 2 000 motoriste, sowat 8% glad nie gestop het nie, terwyl 52% van motoriste wel ‘n poging aangewend het om spoed te verminder, maar steeds nie gestop het nie. ‘n Totaal van 40% van al die motoriste het wel gestop. Volgens wet word blote spoedvermindering egter nie geag as stop nie.

Kruisings wat die Zoutpansberger se ondersoekspan besoek het, het ingesluit die berugte KFC-kruising op die hoek van Songozwi- en Groblerstraat. Dié betrokke kruising is gereeld in die nuus weens ongelukke wat daar plaasvind.

Tydens die koerant se besoek op Donderdag, 16 April, het dit ook sommer vinnig duidelik geword hoekom daar so baie ongelukke by die kruising kan wees. Behalwe vir ‘n bus wat oor ‘n rooi verkeerslig gejaag het, was daar meer as een minibus wat ook die rooilig verontagsaam het. Daar was ook heelwat motoriste wat vinnig versnel het die oomblik as die lig na geel oorslaan, sodat hulle net-net die kruising kan oorsteek voor die lig na rooi oorslaan. 

By ander kruisings wat nie so besig is nie, soos op die hoek van Rissik- en Cellierstraat, is daar gevind dat meeste motoriste wel gestop het wanneer daar reeds ‘n ander voertuig in of by die kruising was. Ander motoriste het weer tot in die middel van die kruising gery voordat hulle tot stilstand gekom het.

Die gewildste neiging onder motoriste blyk steeds egter te wees om so paar meter voor die stopteken spoed te verminder, in die kruising van rat te verwissel en verder te ry.

Indien ‘n motoris wel behoorlik stop by ‘n kruising, het dit sommer vinnig duidelik geword dat ander motoriste vinnig vies begin word, omdat dinge nou te lank vat. Daar was ook heelwat motoriste te sien wat op hul selfone praat terwyl hulle bestuur.

Gedurende die besoeke aan die kruisings was daar geen verkeerspersoneel sigbaar gewees nie.

Dit is ook nie net in die dorp waar motoriste die padreëls verontagsaam nie. ‘n Leser, mnr. Chris Breytenbach, wat gereeld tussen Musina en Louis Trichardt op die N1 reis, het besluit om ‘n mobiele kamera (GoPro) voor op die paneelbord van sy motor te installeer.

Sy beeldmateriaal het talle laat wonder of daar nie alternatiewe maniere is om oor die bergpas te kom nie. In een geval het Breytenbach selfs ‘n gemerkte bakkie van die Musina Verkeersafdeling afgeneem wat oor ‘n sperstreep verbysteek.

Buiten vir motoriste, is voetgangers net so skuldig as dit kom by die nakoming van stoptekens. Heelwat kruis die pad ten spyte daarvan dat die lig vir hulle rooi is. By stopstrate was dit ook duidelik dat die kyk-regs-links-regs-reël nie meer toegepas word nie. Motoriste stop nie vir voetgangers nie, en voetgangers ook nie vir motoriste nie - dit was by al die kruisings ‘n geval van elkeen vir hom- of haarself.

 

 
 
 

Viewed: 332

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT