ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic Image

Onmin oor nuwe datum

Date: 30 April 2015 By: Isabel Venter

Die organiseerders van die gewilde jaarlikse Kremetart Fietswedren, die P&L Fietsryklub, het verlede week aangekondig dat hulle noodgedwonge die wedren van die naweek van 13 Junie moes verskuif na die naweek van 6 Junie.

Met minder as ses weke oor voor die wedren, het dié aankondiging deelnemers wat reeds inskrywings- en akkommodasiegelde betaal het warm onder die kraag. Sowat 500 fietsryers het reeds vir die wedren ingeskryf. “Die bestuurspan het geen ander keuse gehad as om alle betrokke partye, deelnemers en belanghebbendes, in kennis te stel dat die datum vir die wedren verander het nie,” lees die persverklaring wat die klub verlede Donderdag (23ste) uitgereik het.

Volgens die verklaring het die klub reeds op 25 November 2014 ‘n faktuur vanaf die Limpopo affiliaal van Fietsry Suid-Afrika (FSA) ontvang, waarin die datum vir hierdie jaar se Kremetart, asook die 70 km padwedren, vir 13 Junie gereël en betaal is. “Maar as gevolg van ‘n appèl deur die vise-president van FSA, Hendrik Wagener, is ons in kennis gestel op 19 April 2015 om die datum ‘n week vroeër te skuif om voorsiening te maak vir die Tour Vet in Mpumalanga, wat vanaf 13 tot 16 Junie aangebied word,” lui die verklaring. Die Tour Vet is ‘n internasionale wedren wat glo voorkeur geniet bo nasionale wedrenne.

Renda Alexander, wedrenorganiseerder van die P&L Fietsryklub, het verder verduidelik dat die klub aan al FSA se stipulasies voldoen het om ‘n kalenderaansoek te bring vir die Kremetart om te verseker dat dit op 13 Junie kon plaasvind. Volgens FSA, het Alexander gesê, moet sulke reëlings deur hul provinsiale filiaal, in dié geval Limpopo Fietsry, gedoen word. Alexander het, nadat sy die kalenderfooie betaal het, aangegaan om die nuwe datum te adverteer, en fietsryers kon sedert die begin van Februarie al begin inskryf vir die Kremetart. “Volgens ons papierwerk het ons alles gedoen wat FSA en Limpopo Fietsry van ons verwag, en kan nie verantwoordelik gehou word nie,” het Alexander gesê.

By navraag het Wagener die Zoutpansberger meegedeel dat FSA nie verantwoordelik gehou kan word nie. Volgens hom het hy persoonlik, by verskillende geleenthede sedert November 2014, vir Alexander gesê om die datum van die Kremetart te verander omdat dit met dieTour Vet se datum bots. “Daar het niks van gekom nie. FSA is glad nie verantwoordelik vir die ongelukkigheid nie,” het Wagener Dinsdag telefonies aan die koerant gesê. “Die Tour Vet word, net soos die Kremetart, al vir jare op ‘n bepaalde tyd aangebied,” het Wagener gesê.

Wagener en die voorsitter van Limpopo Fietsry, mnr. Heine de Jager van Louis Trichardt, het ook bevestig dat die aansoek vir die Kremetart se datum nie behoorlik voltooi was nie. Volgens hulle is die faktuur waarna die klub verwys ‘n voorlopige dokument en moes dit gepaard gegaan het met ‘n goedkeuringsaansoekvorm. Daar sou dan ‘n goedkeuringsertifkaat uitgereik word wat die finale datum vir die wedren aandui, en dié datum sou dan ook aangeteken word op FSA se nasionale kalender. De Jager sê hy het die goedkeuringsaansoekvorm wel eers op 30 Maart 2015 ontvang, waarna die papierwerk vir die Kremetart afgehandel is.

Aangewys as een van die beste padwedrenne in die land, is die Kremetart ook jaarliks die grootste sportbyeenkoms plaaslik. Elke jaar lok die wedren meer as 10 000 besoekers, wat miljoene rande aan inkomste beteken vir Louis Trichardt.

Met die datumverandering was daar egter deelnemers wat hulle inskrywing moes kanselleer, omdat hulle nie hul plaaslike akkommodasiereëlings kon verander nie.

“Jammer, maar die verskoning is baie sleg op so ‘n laat stadium. Hierdie week sal Kremetart terugbetalingweek wees, want ek is in Kaapstad die naweek vir werk, en ons gastehuis kan ons nie akkommodeer vir enige ander naweek nie,” het Roelof van Huyssteen aan die organiseerders geskryf op hul Facebook-blad. Hy sou, soos baie ander deelnemers, familie saambring vir ‘n langnaweek van fietsry.

Ander fietsryers soos Hendria Viehweg het weer laat weet dat niks haar sal kan weghou nie.

Teen druktyd het Alexander bevestig dat daar weinig kansellasies ontvang is, en dat meeste fietsryers hul akkommodasie kon verander. Sy het ook aangedui dat haar span harder as ooit sal werk om te verseker dat die nuwe datumreëlings nie ‘n demper op die Kremetart plaas nie, en om dit ‘n groter geleentheid as vorige jare te maak.

Fietsryers wat hul verblyfreëlings moet verander of ander verblyf moet reël, kan die Kremetart se webtuiste, by www.kremetartcycling.co.za, besoek vir meer besonderhede van beskikbare plek in en om Louis Trichardt.

 

 
 
 

Viewed: 304

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT