ADVERTISEMENT:

 

 
 

Mnr. Rampie Gilfillan op die terrein van sy ontwikkeling langs Louis Trichardt se krieketveld. Die ontwikkeling, wat plaasvind in die dorp se omstrede 'Groen Gordel', het talle omgewingsliefhebbers ontstoke. Gilfillan sê egter dat sy ontwikkeling nie ‘n vernietiging van die area se boomlewe tot gevolg sal hê nie.   

Bewaring bly eerste prioriteit sê ontwikkelaar

Date: 30 April 2015 By: Andries van Zyl

Die ontwikkeling van ‘n sakesentrum in ‘n deel van Louis Trichardt se omstrede “Groen Gordel” het omgewingsliefhebbers erg ontstoke.

Sedert daar die afgelope maand begin is met die ontbossing van die terrein langs die krieketveld op die hoek van Rissikstraat en die N1, het dit behoorlik gegons op sosiale media platforms, met mense wat hul teleurstelling en misnoeë met die ontwikkeling uitspreek.

Die Zoutpansberger het die afgelope week met die ontwikkelaar, mnr. Rampie Gilfillan, gaan gesels oor sy beoogde planne vir die gebied. Gilfillan se boodskap was egter duidelik: Nie alle ontwikkeling hoef gekenmerk te word aan die totale vernietiging van die natuur nie.

Met bewaring as prioriteit, sê Gilfillan, het hulle van meet af aan die ontwikkeling as ‘n “groen projek” benader, juis sodat dit as voorbeeld kan dien vir ander ontwikkelaars dat ontwikkeling nie noodwendig ten koste van die natuur hoef plaas te vind nie. So byvoorbeeld is bouplanne so opgetrek om die maksimum hoeveelheid inheemse bome te bewaar. “Die vernietiging van bome is juis dit wat ons nie wil doen nie. Die hele ontwikkeling word so gedoen dat die minimum bome verwyder moet word. Ongelukkig is daar wel bome wat verwyder sal moet word, meestal kareebome, wat nie as ‘n beskermde boom geklassifiseer is nie. Indien enige ander boom wel verwyder moet word, sal die nodige dokumente en permitte wel in orde wees. Dit sal egter ‘n laaste uitweg wees – as ons die gebou kan aanpas om die boom te behou, sal ons dit doen,” het Gilfillan gesê.

Die totale ontwikkeling sal ook gebruik maak van sonkrag. Alle water wat op die terrein gebruik of opgevang kan word (reënwater), sê Gilfillan, sal ook gesuiwer word vir hergebruik. Aanvullend tot die ontwikkeling, sê Gilfillan, het hulle ook onderneem om te help met die instandhouding en ontwikkeling van die bestaande krieketveld, asook die park reg oorkant die krieketveld wat tans ‘n redelike seeroog is vir die dorp.

Oor hoe toestemming verkry is om in die gebied te ontwikkel en hoe die perseel bekom is, sonder dat dit op tender uitgesit is, het Gilfillan breedvoerig verduidelik. “Weens die Ford handelsmerk se geweldige groei die afgelope vyf jaar het ons huidige spasie net eenvoudig te klein geword. Ons het verskeie opsies oorweeg vir uitbreiding en die hoek van Rissikstraat en die N1 was een van die keuses. Ons het toe met die munisipaliteit gaan onderhandel oor die grond,” sê Gilfillan.

Verskeie opvolgvoorleggings is oor ‘n periode van twee jaar aan die munisipaliteit gedoen. “Dit het ingesluit ‘n omgewingsimpakstudie en ons beoogde ‘groen’ ontwikkeling met die klem op bewaring eerder as vernietiging. Die munisipaliteit was beïndruk met ons idee en het ons ontwikkeling goedgekeur,” sê Gilfillan. Hy voeg by dat dit belangrik is vir mense om te onthou dat hulle ‘n konsep aan die munisipaliteit bemark het en dat die munisipaliteit die grond aan hulle verkoop het vir daardie uitsluitlike doel. Daarom is die grond nie op tender uitgesit nie.

“Die verkoop en beplande ontwikkeling van hierdie eiendom is op 30 Mei 2014, sowel as 6 Junie 2014, in die Zoutpansberger geadverteer. Die gemeenskap het die geleentheid gehad om kapsie te maak teen die ontwikkeling of om meer inligting aan te vra,” sê Gilfillan. Hy sê hulle het twee besware ontvang – een waarvan niks verder gekom het nie en een wat hulle met die klaer kon uitsorteer. “Na aanleiding van die impakstudie het ons ook besoek ontvang van die Departement van Ekonomiese en Omgewingsake, wat toestemming verleen het dat daar met die ontwikkeling voortgegaan kan word,” sê Gilfillan.

Die ontwikkeling sluit in twee voertuig-agentskappe (Ford en Kia), ‘n familierestaurant en kleinhandel voedselwinkel.

“Ek is baie positief oor die ontwikkeling. Dit gaan ‘n eerste wees vir Suid-Afrika – heeltemal groen en omgewingsvriendelik,” sê Gilfillan. Hy het inwoners gevra om in te koop in die ontwikkeling. Sou daar egter steeds inwoners wees wat bekommerd is oor die beoogde ontwikkeling en meer inligting daaroor verlang, het Gilfillan hulle uitgenooi om persoonlik met hom daaroor te kom gesels oor hoe die Groen Gordel verbeter en ontwikkel kan word. 

 
 
 

Viewed: 372

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT