ADVERTISEMENT:

 

 
 

Op 85 jaar is Louis Trichardt se geliefde oom WAS Nel op en wakker. Te midde van al sy bedrywighede het hy begin om sy herinneringe van dieTshilidzini Sendinghospitaal neer te pen.

Oom WAS wil Tshilidzini se verhaal laat voortleef

Date: 30 April 2015 By: Linda van der Westhuizen

Op 85 jaar is Louis Trichardt se geliefde oom WAS Nel op en wakker. Te midde van al sy bedrywighede het hy begin om sy herinneringe van die Tshilidzini Sendinghospitaal neer te pen.

Tydens sy 85ste verjaarsdagviering op 22 April het oom WAS (Willem Andries Stephanus) aan die Zoutpansberger gesê dat hy die Here daarvoor dank dat dit sedert Februarie vanjaar weer klopdisselboom met sy gesondheid gaan.

Natuurlik mis hy tannie Berdina wat hom op 1 November 2012 ontval het. Hulle sou twee dae voor sy verjaarsdag 58 jaar getroud gewees het. Sy het op 1 November 1958 saam met hom by Tshilidzini in Shyandima in die destydse Venda begin werk. Oom WAS rits die datums sonder enige moeite af. Hy was die eerste sekretaris van die Tshilidzini Sendinghospitaal wat op 31 Mei 1958 geopen het.

Foto’s teen die muur in die sitkamer wys die brand by die Tshilidzini NG Kerk in Afrika, wat reg langs die hospitaal geleë is. Die hele kerk het afgebrand, behalwe die bekende naaldtoring. Dit het in 1976 gebeur en die versekering het aangevoer dat dit met oproer verband hou en het geweier om uit te betaal. Oom WAS kon die situasie beredder omdat hy, uit hoofde van sy posisie as inligtingsoffisier by die kommando’s, kon bewys dat daar geen oproer was nie.

Oom WAS is steeds een van die trustees van die raad wat die Soutpansberg Kommando, wat in 2005 ontbind het, se geboue bestuur.  Hy is ook een van die trustees van Ons Tuiste en is onlangs weer vir die soveelste keer herkies as president van die plaaslike Gideonslaer. Baie kere beman oom WAS die kantoor vir sy kleinseun (een van 11 kleinkinders) wanneer dié na omliggende gebiede reis. Dis veral dan wanneer oom WAS die pen nadertrek. Sy twee lêers met handgeskrewe inligting bly permanent in sy aktetas.

So tussen die koek en tee deur vertel oom WAS een van die staaltjies wat hy neergepen het. “In die tyd wat die regering besluit het om net geel mieliemeel te maal, het die pasiënte al die geel mieliepap op die vloer uitgegooi, omdat hulle wit mieliepap wou gehad het. Ek moes mooi gaan verduidelik dat daar nie meer kos is nie en dat die geel mielies noodgedwonge gemaal moet word,” vertel oom WAS. Hy het ook baie moeite gedoen om jong Vendas, gewoonlik diegene met standerd 6, geduldig op te lei totdat hulle administratiewe poste in die hospitaal kon beklee.

Oom WAS nooi graag ander oud-hospitaalpersoneellede van Tshilidzini uit om hul herinneringe vir hom aan te stuur. Hy kan gekontak word by 0726478446.

 

 
 
 

Viewed: 159

 

 
 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT