ADVERTISEMENT:

 

 
 

Nicholson se bakkie waarmee hy met pap bande van sy “aanvallers” gevlug  het. Foto verskaf.

Weermag skiet op boer

Date: 24 April 2015 By: Andries van Zyl

‘n Gesamentlike ondersoek deur die polisie en weermag is geloods om te kyk na die omstandighede wat daartoe gelei het dat weermaglede Maandagaand op ‘n prominente boer van die Tshipise-omgewing geskiet het.

Mnr. Peter Nicholson van die plaas Alicedale het Dinsdag die gebeure van die vorige aand herleef. “Ek wil nie hê hierdie ding moet begrawe word nie. Hierdie [insident] is teen alles waarvoor ‘n demokrasie staan. Daar is geen manier hoe ons dit kan aanvaar nie,” het Nicholson aan die Zoutpansberger gesê.

Die dramatiese gebeure van 20 April het omstreek 20:30 begin toe Nicholson deur sy sekuriteitswagte ingelig is dat hulle ‘n skoot op die plaas gehoor het. “Omdat daar baie onwettige jagters by ons is, het ek toe my sekuriteitsmense uitgestuur op die plaas en ek het besluit om op die teerpad te ry, die R525, om te kyk of ek ‘n voertuig sien wat verdag lyk,” het Nicholson gesê.

Nicholson het teen ongeveer 80 km/h op die pad gery, toe hy skielik stemme hoor wat in die donker nag uit die bosse skreeu. “Ek het besluit dat ek nie konfrontasie wil hê nie, daarom het ek net verby gery. Ek kon nie sien wie so skreeu nie,” het Nicholson gesê. Hy het aanvanklik vermoed dit was sy sekuriteitswagte, wat vanaf sy huis deur die bos na die pad beweeg het, wat die “onwettige jagters” betrap het.

“Skielik was daar ‘n lig in die pad. Ek het aangery in die rigting van die lig en die volgende oomblik het daar iets oor die pad beweeg wat soos ‘n slang gelyk het.” Omdat Nicholson deur die lig verblind is en dit so skielik gebeur het, kon hy nie betyds stop nie. Hy het bo-oor die “slang” gery, maar ‘n slang was dit nie. Dit was toe weliswaar ‘n stel spykers wat om ‘n ketting [spikes] gedraai was, wat voor hom in die pad gegooi is. “Dit het drie van my voertuig se bande laat bars.”

Nicholson was in daardie stadium sowat drie kilometer vanaf sy huis. “Toe besluit ek ek gaan nie stop nie omdat ek niemand kan sien nie. Ek dog toe dit is ‘n plaasaanval, dat iemand my uitgelok het. Ek het op die pap wiele aangehou ry. Die volgende oomblik kom iemand met ‘n militêre uniform met ‘n geweer voor in die pad te voorskyn en die ou trek toe los op my met sy geweer,” het Nicholson gesê. Een skoot is geskiet.

Met die adrenalien wat pomp het Nicholson met pap wiele en al steeds aangehou ry na sy buurman se afdraai en huis. Nicholson het onmiddellik die polisie daarvandaan geskakel. “Hulle reaksie was baie vinnig en hulle was binne vyf minute op die toneel gewees.”

Vanaf die toneel waar die skietery plaasgevind het, het die polisie vir Nicholson geskakel en meegedeel dat hulle saam met verskeie weermaglede daar vir hom wag. Hy het saam met sy buurman teruggery, omdat sy bakkie nie meer kon ry nie. “Toe ons daar kom, vra ek vir die polisie hoekom hulle op my geskiet het? Toe sê hulle dit was ‘n (geval van) ‘mistaken identity’ ... hulle het gedink ek is ‘n sigaretsmokkelaar!”

Die weermaglede se verskoning het ‘n wrang smaak in Nicholson se mond gelaat. “My vraag is: Hoe kon hulle my skuldig bevind, op my skiet en my voertuig verwoes met soveel geweld op grond van ‘n ‘mistaken identity’? So, ek is skuldig tot ek my onskuld kan bewys!” het Nicholson gesê. Die eerste keer dat hy ‘n weermaglid gesien het, het hy gesê, was toe daar op hom geskiet is. Gelukkig is nie hy of sy bakkie getref nie.

‘n Hele paar van die aand se gebeure maak nie sin vir Nicholson nie. Hy sê die weermaglede, in volle militêre uniform en met militêre wapens, nie kon verduidelik wat hulle daar gesoek het nie en ook nie hoe hulle daar gekom het nie. Daar was, volgens Nicholson, ook geen offisier saam met die weermaglede nie. Die skoot wat sy sekuriteitswagte aanvanklik gehoor het, kon ook nie verduidelik word nie. “Wat ‘n mens bekommer, is hoe daar op 'n siviele persoon op ‘n nasionale pad geskiet kan word, en hoe sy voertuig verwoes kan word met hierdie spikes, sonder dat daar enige poging was om dit op ‘n ordentlike manier te doen. Dit was nie asof ek vir iemand weggejaag het nie. Ek het normaal op ‘n normale pad gery, en die mense wat veronderstel is om ons te beskerm, is die mense wat daai vlak van geweld gebruik, omdat hulle vermoed jy is dalk ‘n sigaretsmokkelaar.”

Die stemme wat Nicholson langs die pad gehoor het, sou hy later uitvind, was blykbaar die weermaglede se “informante” wat hom verkeerdelik uitgewys het as ‘n sigaretsmokkelaar. Daar was egter geen teken van die informante op die toneel nie, want volgens die weermaglede het hulle weggehardloop. Nicholson het egter sy eie vermoedens oor wat die aand gebeur het, nadat hy met van sy mense op die plaas gepraat het. “Blykbaar is die weermag in ‘n proses waar hulle hierdie sigaretsmokkelaars aanval – van die pad af trek – en dan die geld waarmee hulle hierdie sigarette koop, met ander woorde hierdie geld waarvan niemand veronderstel is om te weet nie, van hulle afneem. Dit klink vir my dat hierdie mense nie op amptelik weermagwerk was nie, maar dat hulle as vigilantes opgetree het...” het Nicholson gesê.

Provinsiale polisiewoordvoerder kol. Ronel Otto het Dinsdag gesê dat die polisie en weermag saamwerk om die voorval te ondersoek. Sy het bevestig dat twee sake, een van poging tot moord en een van opsetlike saakbeskadiging, by die polisie in Musina aanhangig gemaak is en dat een van die weermaglede, die een wat die sneller getrek het, wel gearresteer is. Teen druktyd was dit onduidelik of die verdagte al in die hof verskyn het, te midde van verdere polisie-ondersoek. Otto kon ook nie sê aan watter eenheid die weermaglede verbonde is nie. “Ek kan voorlopig noem, maar dit is nog nie bevestig nie, dat die weermaglede wel amptelik aan diens was, maar dat hulle nie op hulle pos was nie,” het Otto gesê.

Oor Nicholson se vermoedens dat die weermaglede dalk daar was om sigaretsmokkelaars te beroof, wou Otto haar nie uitlaat nie. Sy het wel genoem dat so iets nie onmoontlik kan wees nie en verwys na die voorval in Desember verlede jaar waar die polisie 19 van hulle eie lede in die provinsie gearresteer het vir hul beweerde betrokkenheid om, teen betaling, beskerming te bied aan sigaretsmokkelaars. Die 19 polisiebeamptes was onder meer gestasioneer in Louis Trichardt, Morobeng (Soekmekaar), Maleboho en Botlokwa.

 
 
 

Viewed: 1054

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Van die weermaglede wat op Nicholson geskiet het, omdat hulle glo gedink het hy is ‘n sigaretsmokkelaar. Foto verskaf.

Die “slang” in die pad was toe al die tyd ‘n ketting met spykers daarin gevleg. Nicholson het drie van sy bakkie se bande verloor, toe hy oor hierdie spikes gery het. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT