ADVERTISEMENT:

 

 
 

Tannie Juliana Kruger met die toestel wat haar glo derduisende rande sou bespaar, maar wat haar amper net soveel duisende rande uit die sak gejaag het.

Swendelaars het visier op dorp se bejaardes

Date: 24 April 2015 By: Isabel Venter

Gedagtes aan wraak en marteling swerf vrylik deur ‘n mens se gedagtes terwyl jy moet aanhoor hoe gewetenlose skurke bejaarde inwoners van Louis Trichardt probeer verneuk uit hul swaar-verdiende geldjies.

Twee bedrieërs het in die week hul visiere ingestel op tannie Juliana Kruger en tannie Johanna en Oom Bobby Eyssel en hulle om die bos gelei met slim praatjies.

Maandag bel tannie Juliana ontsteld die koerant: “Ek dink ek is uitgevang,” sê sy benoud. Oomblikke tevore was daar ‘n “vriendelike jongman” by haar huis wat ‘n toestel aan haar gesmous het. Dié apparaat kan ‘n mens glo derduisende rande bespaar aan elektristeitskostes.

Die man het homself voorgedoen as ‘n agent van Universal Technic. Later sou dit aan die lig kom dat Universal Technic ‘n fiktiewe maatskappy is, met ‘n straatadres wat toe maar net ‘n verlate ou gebou iewers in Durban is. (‘n Google soektog wys ‘n prentjie van ‘n grys geboutjie met ‘n skewe “Te Huur” bordjie daarop).

Dinsdag was tannie Juliana nog by die bank om haar kaarte te kanselleer toe die skelms vir oom Bobby en sy vrou tannie Johanna ‘n gat in die kop gepraat het. Behalwe vir die bedrae wat uit hulle geswendel is, is hulle stories dieselfde.

Eers bel ‘n gladdebek agent genaamd “André”, wat hom voordoen as ‘n werknemer van die Johannesburgse Munisipaliteit - hy weet waar bly die slagoffers – en vra of sy kollega ‘n huisbesoek kan doen.

Minute later sal André dan terugbel, sodat die huismense vir kollega “Alec” die hek kan oopmaak.

Alec loop oor van die sjarme en is op die koop toe ook ‘n Christen, vertel hy, “wat hulle nie sal indoen nie.” Universal Technic doen volgens hom, ‘n evaluasie van pensionarisse in hierdie moeilike ekonomiese tye, en kan hulle baie geld spaar op hul elektrisiteitsrekening deur middel van ‘n tenklose waterverwarmer. Dis ‘n boksie wat direk aan ‘n waterkraan geïnstalleer word, en lae hoeveelhede elektrisiteit verbruik om water te verhit.

‘n Mens betaal net eenmalig vir die verwarmer, en dan elke maand R600 of so aan Universal Technic, wat hulle dan self oorbetaal aan die Makhado Munisipaliteit en voila!

Wat tannie Juliana en die Eyssels se hare laat rys het, is die feit dat “Alec” amper al hul munisipale rekeningbesonderheide uit sy kop geken het, en die debiet- en kredietbedrae kon opnoem. In tannie Johanna se geval het hy ook geweet dat sy vroeërjare by ‘n plaaslike bank werksaam was.

Alec het ‘n mini-voorlegging gedoen om presies te beduie hoe die toestel en betalings werk, maar in beide gevalle was daar ‘n “warboel van dokumentasie en sommetjies.”

“Ek moes eintlik lankal muishond geruik het,” vertel tannie Juliana, "maar elke keer as ek hom oor iets vra, dan het hy weer vinnig en baie begin praat om dit te verduidelik.” Volgens oom Bobby was die man se verduideliking baie tegnies.

Alec het ook baie persoonlike vrae gehad, en gedurig ‘n aanknopingspunt probeer vind deur na familie en vriende uit te vra. Hy is ook tegnologies aangelê, en kon vinnig oom Bobby se foon se klank afsit en ‘n foto van homself (wat oom Bobby geneem het) uitvee. “Ek het eers later agtergekom my foon lui nie en dat die foto weg is – hy moes dit gedoen het toe hy kastig sy kontakbesonderhede op my foon ingetik het,” het oom Bobby gesê.

By tannie Juliana het Alec R3 000 uit haar geswendel. Hy wou aanvanklik R8 000 gehad het, maar omdat tannie Juliana ‘n limiet op spandering het, kon sy nie dit in een bedrag betaal nie. Die behulpsame “Alec” het aangebied om vinnig die limiet te verhoog via die Internetbankdienste. “Gelukkig kon hy dit nie regkry nie, en het hy ook nie my PIN gesien nie,” het tannie Juliana gesê.

Soos wat die tyd aangestap het, het Alec senuweeagtig voorgekom, en hy het die R3 000 aanvaar, wat betaal is uit tannie Juliana se spaarrekening deur middel van ‘n mobiele kaartbetaalpunt (speedpoint). Nadat hy vort is met die geld, en tannie Juliana tyd gehad het om alles te oordink, het sy besef dat dit ‘n swendelary was. Sy het dadelik hulp ontbied, maar groot was haar skok toe sy haar bankstate nagaan op die Internet en sien dat daar nog twee groot bedrae van by die R60 000 deur Universal Technic op haar kredietkaart bygevoeg is. Die bedrae was gelukkig nog hangend en nie finaal goedgekeur deur die bank nie.

Vir oom Bobby het die wiele ook begin draai toe Alec daar weg is, en die gedagte dat hy verneuk is het hom hartkloppings gegee. “Ons is twee pensionarisse, en het gedink dit sal goed wees as mens kan spaar op die elektrisiteitsrekening,” voeg tannie Johanna by terwyl sy oom Bobby paai.

Behalwe vir R31 000 wat hulle oor 48 maande sou afbetaal op hul kredietkaarte, het “Alec” ook R170 kontant uit hulle wat hy verhaal het as afleweringskostes van die verwarmer. Dit het oom Bobby ‘n verdere R200 gekos by die bank om sy kredietkaarte te kanselleer om te verhoed dat die geld nie aan Universal Technic betaal word nie.

Net so moes tannie Juliana ook haar kaarte kanselleer. Haar bank is egter nog besig met ‘n ondersoek om die R3 000 wat uit haar spaarrekening betaal is te probeer verhaal. Die kanse dat sy die geld kan verloor is groot, omdat sy self die transaksie laat deurgaan het.

Sy en die Eyssel-egpaar is dit eens dat mense uiters versigtig moet wees vir die skelms, en hulle onder geen omstandighede toegang tot hul huise moet gee nie.

Intussen is ‘n beskrywing van Alec en sy voertuig aan die polisie en Soutpansberg Dorpswag deurgegee, in die hoop dat hulle vasgetrek sal word. Alec is vermoedelik van Indiese afkoms, in sy twintigs, middelmagtig gebou, en het ‘n groot neus. Hy ry in ‘n wit voertuig met ‘n GP registrasienommer saam met ‘n tweede Indiër man.

Teen druktyd het die Makhado Munisipaliteit bevestig dat geen derde partye, behalwe hul aangestelde skuldinvorderaars, toegang het tot inwoners se rekeninge nie. Die woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, het belowe om verdere terugvoer te gee later in die week.

 
 
 

Viewed: 235

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT