ADVERTISEMENT:

 

 
 

Mnr. Daan Nel vertoon ‘n afskrif van die gedenkrol wat in 1986 verseël en ingemessel is in die Steenbokskeerkring aanwysingsnaald langs die N1. Die verseëlde rol bevat ‘n boodskap van die inwoners van Louis Trichardt wat  in 2100 uit sy verseëlde houer aan die volgende geslag deurgegee sal word, wanneer die keerkring se korrekte ligging weer verskuif sal moet word.

Terugblik na 1986 se toekomsvisie oor 2100

Date: 23 April 2015 By: Frans van der Merwe

Sou lesers graag ‘n kykie wou hê in ‘n geskrif wat eers in die jaar 2100 aan die publiek beskikbaar sou word?

Die Zoutpansberger het die voorreg bekom van ‘n vorige burgemeester van Louis Trichardt om te kyk na die afskrif van ‘n merkwaardige dokument wat in 1986 verseël is in die gedenknaald vir die Steenbokskeerkring. Lesers kan nou kyk na die boodskap wat deur destydse burgemeester, raadslid Daan Nel, in sy eie handskrif opgestel is en wat verseël is tydens die gedenknaald se onthulling op 8 Februarie 1986.

Tydens dié geleentheid is inwoners van Louis Trichardt se goeie wense oorgedra aan Polokwane met hul eeufeesviering. Saam met die destydse Pietersburgse burgemeester is toe ook ‘n boodskap in ‘n verseëlde houer by die verskuifde keerkring gedenknaald geplaas.

Die boodskap lui onder meer: “Om in die jaar 1986 ‘n boodskap te skryf vir die jaar 2100, maak ongetwyfeld by ‘n mens die besef wakker van die kortstondigheid en die nietigheid van die mens, in hierdie groot en wonderlike skepping van ons Hemelse Vader. ‘Dit is ‘n alwyse Godsbestel dat ons, sterflikes nie kennis vooruit het nie’ – D.F. Malherbe.

“Ja, vorentoe kan ons nie sien nie, maar ons kan wel dankbaar terugkyk en in afhanklikheid opkyk.
“As ons, die geslag van 1986 terugkyk, dan weet ons dat ons Heer en Meester ons deur die jare in Sy hand gedra het. Hy het vir ons gesorg in gevare, in ekonomiese krisistye, deur oorloë, droogtes en soms duistere toekoms. Dit was Sy wil dat ons as mense van hierdie eeu hier en nou moes leef met ‘n spesiale doel en roeping –

“As ons egter in afhanklikheid opkyk na die Een wat die vergesig het, dan weet ons dat nie ons nie, maar Hy die geskiedenis lei. Hy is immers ... die Alfa en die Omega, die begin en die einde, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige (Opb. 1:8).

“Bokant die volgorde van jare, dekades en eeue, staan die Heer van die geskiedenis – Hy wat self die gebeurtenisse in die wêreld laat voortkom uit Sy plan met die mens en met die wêreld.

“En as ons in ons nietigheid en kleinheid dink aan die pad vorentoe, dan het ons alleen maar die gebed in die hart dat Hy D.V. ook die geslagte wat mag kom tot in die jaar 2100 en die geslagte daarna, veilig sal voortlei aan sy Vadershand. Mag dit veral ook waar wees van u wat dan die voorreg sal hê om te mag woon in hierdie mooi deel van ons geseënde land – in Louis Trichardt en Pietersburg distrikte. Mag u oog gerig wees op Hom wat alles in stand hou, Hy wat die lotgevalle van mense, volkere en nasies bepaal. Mag u vrede, voorspoed en liefde ervaar -  liefde tot God die Vader maar ook in liefde vir mekaar, dié liefde wat aan ons geskenk word van Christus Jesus ons Verlosser.

“Volgens kenners beweeg die denkbeeldige lyn van die Steenbokskeerkring sowat 14 meter elke jaar. So is daar gedurig verandering en beweging in die wêreld, so verander ook die mensdom met die gang van jare. Oor een ding kan ons egter seker wees, ons Heer en Heiland verander nooit – Hy wat gister en vandag en more en tot in ewigheid dieselfde is. Mag Hy ook vir u wat D.V. in die volgende eeu sal leef, die Here en Koning wees, die God van Liefde en Genade.”

Die gedenknaald  as merker vir die keerkring is by die geleentheid in 1986 verskuif vanaf sy vorige plek langs die nabygeleë rivierbrug na die hoogte waar dit tans staan.

 
 
 

Viewed: 548

 

 
 

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT