ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generiese foto

Kroniese tekorte by klinieke ‘n kopseer

Date: 10 April 2015 By: Isabel Venter

Is die provinsiale Gesondheidsdepartement besig om inwoners van Louis Trichardt in die steek te laat?

Gesels 'n mens sommer so in die algemeen oor die departement se kliniek hier in die dorp is die antwoord ja. Baie inwoners, meestal pensionarisse, bevind hulle in die knyp weens medisynevoorraad wat pal nie beskikbaar nie is by dié kliniek. 

Verlede week het die koerant met 'n gesin gepraat, radeloos van kommer, toe hulle huistoe gestuur is sonder hul medisyne. Die Theron-egpaar (skuilnaam) het 'n permanente voorskrif by die departement vir kroniese psigiatriese medisyne vir twee familielede vir wie hulle die voogde is.

Sonder hulle medisyne kan die twee pasiënte - hulle is sussies - nie net 'n gevaar vir hulself word nie, maar ook vir die ander gesinslede. Beide sussies is verstandelik gestremd en ontvang kroniese medisyne. Een sussie is ook gediagnoseer met 'n chemiese wanbalans, asook epilepsie en kan sterf as sy nie elke dag al haar medisyne neem nie. 

Altwee is wees en woon nou by die Therons, hul ouer suster en haar man, wat na hul omsien. Buiten vir die twee sussies, sorg die egpaar ook vir hulle eie twee kindertjies, en 'n ouma. 

Dit verg elke maand mooi meet en pas om die boeke te laat klop, maar omdat die sussies altyd hul medisyne by die kliniek gekry het, kon die gesin oorleef. 

Des te meer was die Therons platgeslaan toe die kliniek verlede week nie die sussies se voorskrif kon aanvul nie. Die sussies, wat ook aan epilepsie ly, se voorskrif kos ongeveer R1 800, sou dit by 'n apteek aangekoop moes word.

Die Therons is nie al gesin wat met leë hande en 'n swaard oor die kop huis toe gestuur is nie. Die koerant het verlede week van nog twee gevalle gehoor waar die kliniek nie inwoners se voorskrifte kon hernu en vul nie. 

Volgens die Limpopo Departement van Gesondheid en Sosiale ontwikkeling word medisyne partykeer laat afgelewer by 'n plaaslike kliniek. Die departement se woordvoerder, mnr. Macks Lesufi, is genader vir kommentaar. 

Hy het Woensdag telefonies bevestig dat hy reeds verlede week navraag gedoen het by die departement se provinsiale depot, vanwaar medisyne versprei word, maar het nog nie antwoord ontvang van hulle nie. 

Lesufi het vir die Therons 'n telefoonnommer by die depot gegee, sodat hulle kan uitvind watter ander plaaslike kliniek hul medisyne in voorraad het. Hy het ook ander inwoners aangeraai om direk met die provinsiale kantoor te skakel indien die Louis Trichardt kliniek se medisyne in die toekoms opraak. 

"As inwoners nie regkom by hul plaaslike kliniek nie, is daar wel een van die departement se ander klinieke wat sal kan help met die medisyne," het Lesufi gesê. 

 
 
 

Viewed: 364

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT