ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic Image

AfriForum wil Vhembe nou vasvat

Date: 10 April 2015 By: Isabel Venter

As 'n mens nie ore het nie, moet mens voel en alle aanduidings is daar dat die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) nou gaan voel. 

Burgerregte-organisasie AfriForum het verlede week in 'n persverklaring gesê hulle het reeds die bal aan die rol gesit om die VDM aan te kla van minagting van die hof. Hierdie besluit, het plaaslike AfriForum-voorsitter mnr. Wally Schultz verduidelik, is geneem nadat die VDM nie daarin kon slaag om water aan inwoners te voorsien nie.

Dié aansoek kan moontlik lei tot die inhegtenisname van munisipale amptenare soos die munisipale bestuurder en tegniese direkteur. “Ons het die munisipaliteit bygestaan om die probleem op te los, en selfs 'n projekplan vir hulle opgestel wat hulle kon implementeer. Dit sou lopende water verseker het, ondanks lekkasies in die pypleiding van die Alabsini Dam, maar hulle kon nie eens hierdie basiese plan ten uitvoer bring nie," het Schultz gesê.

AfriForum sal in die aansoek eis dat die munisipaliteit aan al die bepalings, soos in die hofbevel uiteengesit is, moet voldoen en ook die projekplan volledig moet implementeer. 

Schultz het hierdie week ook bevestig dat daar Donderdag, 9 April, 'n prokureursbrief op die VDM bedien sal word. Hierdie brief sal die VDM 14 dae kans gee om hulle kant van die saak te stel. Indien hulle die brief sou ignoreer, gaan AfriForum hulle weer na die hof wend.

“Hierdie soort optrede deur munisipaliteite bevestig dat die Staat se vermoë om basiese dienste te lewer besig is om te verval en dat die belange van die gemeenskap nie ‘n prioriteit is nie,” het Morné Mostert, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo, bygevoeg.

Intussen het Schultz en AfriForum se regsverteenwoordigers 'n vergadering met die VDM kon reël vir 16 April. Die minister vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, mnr. Pravin Gordon, se gesant, mnr. Sandile Ndlovu, sal ook insit by dié vergadering.

 
 
 

Viewed: 866

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT