ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Rasool-familie met die drie kleurvolle trooskomberse wat hulle van Nettie Gilfillan ontvang het. Van links na regs is Bobby, Nettie, Shahida en Muhammed.

Kleurvolle komberse om familie te troos

Date: 10 April 2015 By: Andries van Zyl

Drie kleurvolle wolkomberse ter nagedagtenis aan ‘n eweneens kleurvolle mens.

Dit was die geskenk wat oud-inwoner Nettie Gilfillan Dinsdagoggend aan die Rasool-familie van Cycle Centre in Louis Trichardt gegee het om hulde te bring aan eggenoot en pa Mohamed. Die altyd vriendelike en glimlaggende Mohamed is op 12 Februarie vanjaar skielik oorlede nadat hy met sy fiets geval het.

“Ons kon nie hier vir julle wees toe hy dood is nie. Ek het toe besluit om vir julle hierdie drie ‘trooskomberse’ te maak. Dit is hoofsaaklik oranje van kleur, want dit het my aan die son laat dink en Mohamed was ‘n sonstraal vir die dorp gewees,” het Nettie aan die familie gesê.

Daar is egter ‘n hartroerende verhaal agter die gee van die komberse. Nettie vertel dat sy deel is van die Anja Blokkie Trooskomberse Facebook-groep. Dié groep is in 2014 deur  Katinka, ma van die 25-jarige Anja Steyn Jansen van Vuuren, begin. Dogter Anja is skielik op 22 Januarie van daardie jaar in haar man, Hercules, se arms dood. Sy het drie jong kinders, Shantuane (10 maande), Hercules (1) en Adreana (3), asook ouers Tinus en Katinka en broer Marnus en suster Marike agtergelaat.

Anja, Marike en Katinka het almal aan ‘n Facebook hekelgroep (crochet) behoort. ‘n Dag na haar dogter se dood het Katinka ‘n foto op die groep se webblad geplaas van ‘n pers hekelblokkie met ‘n groot hart daarin om almal van Anja se afsterwe te laat weet. Pers was Anja se gunstelingkleur en die rooi hart het die hartoperasie simboliseer wat Anja moes ondergaan.

‘n Ander lid van die Facebook-groep het voorgestel elke lid van die groep moet ‘n blokkie hekel met iets pers daarin en aanstuur na Katinka toe, sodat sy vir haar ‘n “trooskombers” aanmekaar kon werk.

Die reaksie was oorweldigend. Blokkies van regoor die land en self oorsee het ingestroom, elkeen met ‘n boodskap van vertroosting. Soveel blokkies is ingestuur, dat Katinka-hulle buiten een groot kombers, nog vier kleiner komberse ook kon maak. Kort daarna is die Anja Blokkies Trooskombers Facebook-groep begin en daar is besluit om voort te gaan om blokkies te hekel vir die maak van trooskomberse vir almal wat ‘n geliefde aan die dood afgestaan het.

Mohamed se eggenote, Shahida, was duidelik aangedaan oor die gebaar en het gesukkel om die trane te keer. Mohamed se seuns Mehboob (Bobby) en Muhammed junior was eweneens emosioneel. “Elke keer as julle hom mis, draai julle toe in die kombers,” het Nettie aan die familie gesê.

Sedert 22 Januarie 2014 is daar al 350 trooskomberse gehekel. Die persoon wat die versoek insit vir die maak van so ‘n kombers moet self die blokkies aanmekaar werk wanneer dit ontvang word, asook enige addisionele prentjies of name. “Ek het gisteraand tot 02:00 gewerk om dit klaar te kry,” het Nettie gesê. Op Shahida se kombers is Mohamed se naam in groot blokletters gehekel en die woord “Dad” op elkeen van die seuns se komberse. Buiten hiervoor het Nettie ook op elkeen van die kombersie ‘n klein fietsie gehekel. 

 
 
 

Viewed: 2052

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT