ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Johann Hollander (18). Foto verskaf.

Weerlig eis jong lewe

Date: 02 April 2015 By: Isabel Venter

Dit is 'n oproep wat geen ouer wil kry nie. 

Gerhard en Christien Hollander het vreeslik daarna uitgesien om die komende Paasnaweek saam met hul sonskynkind te spandeer, maar verlede Vrydag is hulle meegedeel dat Johann (18) dood is. Hy is deur weerlig getref gedurende 'n donderstorm. 

Johann, wat verlede jaar gematrikuleer het aan die Hoërskool Louis Trichardt, het vir verdere studies aangesluit by die Bosveld Akademie in Mokgophong. Hy was besig om 'n kursus te voltooi in verkoeling, en sou na afloop daarvan by Madikor 16 hier in Louis Trichardt begin werk het.

Die akademie is geleë op 'n plaas, waar Johann ook gebly het. Hy het amper elke middag na klas saam met sy medestudente by die plaasdam gaan visvang.

Johann en 'n maat het Vrydag ook weer gaan visvang, en vinnig opgepak toe hulle sien dit begin blits en al koes-koes huis toe gehardloop. “Sy maat wat by hom was toe dit gebeur het, sê hy onthou net dat hy saam met Johan gehardloop het, en toe hy weer bykom, het Johan net daar langs hom gelê...,” het Gerhard Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê. 

Daar was niks wat vir Johan gedoen kon word nie. "Dit was só vinnig ... ons het die oproep gekry, maar daar was niks wat ons kon doen nie ... ons het Saterdag darem die plek besoek waar Johan gelê het..."

Johann, vertel Gerhard verder, was 'n spontane sonskynkind wat altyd reggestaan het met 'n grappie. "Hy was lief daarvoor om drukkies uit te deel; al sy maats het van hom gehou. Hy sou in Oktober sy 19de verjaarsdag gevier het.”

Daar is Woensdag 'n roudiens vir Johann gehou vanuit die AGS Charisma in Louis Trichardt. Hy laat sy ma, pa, jonger boetie Tiaan (Graad 10) en kleinsus Annemarie (Graad 1) agter. 

Gerhard het namens sy gesin almal bedank wat kom inloer het by die huis, of gebel het met 'n mooi boodskap, en in besonder ook Madikor vir hul bystand.

 
 
 

Viewed: 399

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT