ADVERTISEMENT:

 

 
 

Alle oë op Hooggeregshof oor renosterhorings

Date: 02 April 2015 By: Isabel Venter

Hierdie winter sal alle oë op ‘n boer van die streek wees wanneer hy ministers en regters sal aanvat. 

‘n Datum is reeds vasgestel vir mnr. Johan Kruger (55), 'n bekende wildboer van Alldays, se Hooggeregshofsaak waarin hy die Minister van Omgewingsake sal vra om die moratorium op die verkoop van renosterhorings te lig. Die hof se beslissing sal verreikende gevolge hê, veral as daar in Kruger se guns beslis word. 

Die kans hiervoor, meen Kruger se regsverteenwoordiger, mnr. Hennie Erwee, is baie goed. “Dit maak net sin dat die regter in ons guns sal beslis ... daar is 'n vol bank regters oor die saak aangestel, wat beteken die hof is ernstig oor die saak," het Erwee Maandag telefonies aan die koerant gesê.

Hy en Kruger sal op 15 Junie in die Hooggeregshof verskyn, heel waarskynlik ten aanskoue van die wêreldmedia. Kruger se aansoek het, sedert hy dit in 2013 gebring het, reeds wyd debat ontlok.

In sy aansoek vra Kruger dat sekere dele van die Wet op Biodiversiteit se regulasies oor beskermde of bedreigde spesies hersien en ongeldig verklaar moet word. Hy boer self met renosters en ander skaars wildsoorte, en meen dat die kommersiële handel in renosterhorings, met behoorlike beheer, 'n meer sinvolle en volhoubare oplossing vir renosterstropery sal wees. Kruger het ook die hoop uitgespreek dat die hersiening van die regulasies renosterboere in staat sal stel om ‘n wins te maak. Hy het gesê dat as sy aansoek slaag, dit die handel sal oopstel, wat daartoe sal lei dat die vraag na en aanbod van renosterhorings behoorlik gemonitor sal word.

"Die statistieke het dit bewys," het Erwee gesê. "Vóór die moratorium - in 2009 - is daar amper geen renosters onwettig gejag nie. Dit prentjie lyk nou heeltemal anders."

Kruger het in die maande ná sy hofaansoek sommer kort na mekaar vier renosters afgestaan aan stropers. Plaaslik het die jag op renosters nie net drasties toegeneem nie, dit is ook nou 'n verbode onderwerp om oor te praat. Eienaars is nou selfs onwillig om gevalle van renosterstropery te bevestig, uit vrees dat dit ander stropers na hul plase sal lok. Daar is ook baie van die wildplase wat derduisende rande spandeer aan spesialis sekuriteitsmaatskappye om hul renosters te beskerm teen stropers.

Die Zoutpansberger weet van twee onlangse gevalle waar renosters op plase in die Musina-omgewing doodgemaak is en van hul horings gestroop is. In een van die gevalle is 'n renosterkoei, wat onder streng bewaking was, doodgemaak en haar kalfie vir dood agtergelaat. Die kalfie kon darem gered word.

 

 
 
 

Viewed: 438

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT