ADVERTISEMENT:

 

 
 

Frik Kroucamp.

Man verbrand hande in ‘n poging om huis te red

Date: 27 March 2015 By: Isabel Venter

Vir baie inwoners van Louis Trichardt het Saterdag se kragonderbreking beteken dat hulle nie verder die rugby kon kyk nie, maar vir die Kroukamp-gesin was dit ‘n stryd om te keer dat hulle huis nie afbrand nie.

Frik Kroukamp, ‘n kaptein in die plaaslike polisie, het in die proses beide sy hande flenters verbrand. Alles het begin met ‘n kers wat aangesteek is toe die elektrisiteit Saterdagaand uitgeskop het.  

Terwyl Frik buite was om die kragopwekker aan te skakel het sy vrou, Jenny, begin soek na ‘n gaslampie om aan te steek. Die kers, in een van die ou tipe metaalblakers, is in die sitkamer gelos vir lig, maar moes in ‘n stadium omgeval het. Teen die tyd wat Jenny besef het daar is fout, was die sitkamerbank al in ligte laaie gewees.

“Nou moet jy weet, ek het ook nog gesukkel met die kragopwekker, want dan is die krag af, dan is dit weer aan, en die volgende hoor ek Jenny se gille dat die huis brand,” vertel Frik.

Hy het alles net so gelos en na die sitkamer gehardloop met die brandblusser. Intussen het die gordyne ook vlam gevat, en die vlamme het aan die plafon begin raak. Ongelukkig was die brandblusser maar klein en twee spuite later was die tenk leeg. “En ek kon niks sien nie ... jy kan nie glo hoé dig die rook was nie, en met die krag wat af was ... dit was nag,” sê Frik.

Frik het besluit - óf die huis, óf hy. Hy het die sitkamer se veiligheidshek, wat op die koop toe na binne in stede van na buite oopgemaak het, oopgegooi en die brandende bank oor die drumpel geforseer en na die tuin gedra. Brandende kussings en gordyne is ook buite in die tuin gegooi.  

Dit was eers toe hy die tuinslang probeer afrol het, dat hy agtergekom het dat sy hande nie meer so lekker wou raakvat nie. “Adrenalien is ‘n bokker. Mens voel mos eers later, maar ek vat eerder hierdie pyn as wat ons dalk alles verloor het,” het Frik gesê.

Die pyn waarna hy verwys is die derdegraadse brandwonde wat hy opgedoen het. Sy regterhand het so erg verbrand dat die vel tot amper op die been oopgebars het. Sy linkerhand en –arm is vol massiewe blase.  

Vriende, wat ‘n entjie van Frik se huis af bly, het sy gille gehoor en gaan ondersoek instel. Hulle het gehelp om die vlamme te blus met die tuinslang. “As dit nie was vir dié man nie, weet ek darem nie,” het Frik gesê. Jenny het intussen ook kon hulp ontbied, sodat Frik na die hospitaal geneem kon word.

“Ek is rêrig baie dank verskuldig aan die Soutpansberg Dorpswag wat so gou kom help het,” het Jenny gesê.

Frik is Dinsdag Johannesburg toe, waar spesialiste die brandwonde sal behandel. Dit was toe nog te gou om te bepaal of hy die gebruik van sy hande verloor het.

Intussen het die Makhado Munisipaliteit se woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, gesê hy weet nie van die kragonderbrekings, wat indirek die oorsaak van die Kroukamps se nare ondervinding was, nie.

 

 
 
 

Viewed: 355

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT