ADVERTISEMENT:

 

 
 

Vuurvegters sukkel met droë krane

Date: 20 March 2015 By: Isabel Venter

Dis een ding as ‘n mens nie water het om te drink nie, maar as ‘n leë kraan amper maak dat jou besigheid in puin gelê word, is daar nie tyd vir mooi praatjies nie.  

Sterk kragwoorde en beskrywende naamwoorde is geuiter nadat die gemeenskap weereens moes inspring om ‘n brand te help bestry. Dié brand het Dinsdagaand ontstaan by die onderneming van mnr. Lappies Labuschagne, Louis Trichardt Scrapmetals, op die hoek van Vlei- en Presidentstraat. “En hier is f$%*#l water in die dorp – dis pateties,” het Lappies gesê terwyl hy moes toekyk hoe die vlamme al hoër begin brand het.

Dit was nie net Lappies wat moedeloos was met Louis Trichardt se welbekende watertekort nie. Brandweermanne en vrywilligers wat kom help het, het in die gespartel om die brand te blus heelwat verwensings gehad vir die twee verantwoordelike munisipaliteite.

Die brand het ongeveer 20:30 uitgebreek, terwyl Lappies en sy gesin, wat langs die skrootwerf woon, besig was om televisie te kyk. ‘n Hoop skrootmetaal het aan die brand geraak. Die sarsies ontploffings vanweë die brand het Lappies eers laat dink dis donderweer, tot sy vrou gaan ondersoek instel het. “Jou besigheid brand af, my man,” het Jackie van die venster af gegil. Sy vertel dat die vlamme toe al amper-amper aan die dak van die stoor geraak het. Die ontploffings, wat soos kanonskote geklink het, was leë gasbottels wat ontplof het.

Daar was heelwat benoude oomblikke terwyl die Makhado Brandweerstasie se brandbestryders probeer het om die vlamme te blus. Veral toe hul brandweerwa se water opgeraak het, het die brand amper buite beheer geraak, danksy ‘n sterk wind wat die vlamme aangejaag het in die rigting van Lappies se stoor en huis.

Helaas was ál die brandkrane in die industriële gebied dolleeg. Die brandweerwa moes al die pad na Mount Fuji jaag om daar by ‘n brandkraan water te skep om die brand verder te bestry.

Intussen het vriende van Lappies ‘n tuinslang, wat gekoppel is aan ‘n watertenk, nadergetrek, maar dié het geen verskil gemaak nie. Die vuur is meer as twee ure nadat dit begin het eers geblus.

 
 
 

Viewed: 265

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT