ADVERTISEMENT:

 

 
 

Louis Trichardt se eie Fast and the Furious?

Date: 19 March 2015 By: Isabel Venter

[Kliek hier vir videogreep]

Wat het Louis Trichardt en die The Fast and the Furious flieks in gemeen?

Elke Sondagaand kom ‘n luidrugtige skare by die Makhado Crossing bymekaar om te kyk hoe word daar onwettig op die N1 gedice. Enige motoreienaar is welkom om ‘n ander uit te daag vir ‘n spoedtoets, en dan word daar met skreeuende bande by die kruising op die N1 weggetrek.

Die jaers jaag dan so vinnig as hulle kan van dié kruising tot by die Eltivillas kruising om te kyk wie die vinnigste is. Daar is ‘n wye verskeidenheid van deelnemers, wat in alles van ‘n skedonk Citi Golf tot ‘n Ford Focus ST insluit. Die verdedigende kampioen ry ‘n warmgemaakte Nissan 1400 bakkie.  Daar is selfs motorfietse en vrouelike jaers wat ook hul vernuf toets.

Die Zoutpansberger het ‘n maand lank na dié “wedrenne” gaan kyk, nadat ‘n versoek van ‘n ouer wie se kind self daaraan deelgeneem het en in ‘n ongeluk was, ontvang is. Die kind was gelukkig die wettige ouderdom en het nie seergekry nie. Volgens die ouer, wat graag anoniem wil bly, word daar nie gejaag vir geld nie, maar eerder vir spogregte en om te kyk wie se voertuig die beste verbeterings het.

Die renjaers het ook ‘n Facebook-blad, Louis Trichardt Racing. Op hierdie blad is dit duidelik dat die groep jaers al lank aktief is in die dorp. Daar word glo al vanaf 2012 wedrenne gehou. Verder waarsku die deelnemers mekaar ook as die polisie te aktief is, en dan word ‘n resies afgestel. Op 12 Desember 2014 was daar ‘n inskrywing van ‘n jaer dat die komende Sondag se resies afgestel is, nadat hy “inligting van die polisie ontvang het dat die polisie die jaers gaan inwag, nadat iemand se ma gaan kla het by die polisie oor die vorige Sondag se ongeluk.”

Hul eerste “baan” was die aanloopbaan op die munisipale vliegveld buite die dorp.

Die N1, vind mens uit as jy gesels met van die deelnemers, was die enigste ander “veilige” opsie toe die jaers weggejaag is van die vliegveld af en ‘n nuwe heenkome moes soek in November verlede jaar. Sedertdien word daar elke Sondagaand resies gejaag, behalwe as dit reën.

In die tyd wat die koerant na die “wedrenne” gaan kyk het, is een afgestel weens reën, maar nog nie een keer omdat die polisie of verkeerspolisie in die omgewing was nie. Party aande het die wedrenne, by meer as een geleentheid, reg onder die polisie se neuse plaasgevind.  In een geval het ‘n vangwa, wat in die teenoorgestelde rigting op pad was, by die kruising stilgehou juis toe twee jaers net weggetrek het. Lede van die Soutpansberg Dorpswag is ook opgemerk by die resies, en die koerant het verneem dat van die lede ook soms daaraan deelneem.

Ongelukkig was die renjaers nie so openlik soos op hul geslote Facebook-blad toe die koerant  hulle genader het vir kommentaar nie. Niemand wou amptelik iets sê of hul naam genoem hê in die koerant nie. Die Facebook-blad se administreerder wou niks anders sê as om die koerant uit te nooi na ‘n resies toe nie.

“Man, ons doen dit net vir die fun ... dis ‘n sport ... en hier is in elk geval niks anders om te doen in die dorp nie,” het een deelnemer gesê. ‘n Ander toeskouer met wie die koerant gepraat het, meen dit is onskuldige pret waarmee die dorp se jeug hul besig hou. “Hulle doen niks verkeerd nie, en ek sal eerder verkies dat my kind race as wat hy iewers by ‘n kuierplek gaan sit en suip,” het dié ondersteuner gesê.

Die Makhado Polisie is vandeesweek genader vir kommentaar en hulle het bevestig dat daar ondersoek ingestel sal word as iemand ‘n klag indien. “Die mense wat verantwoordelik is vir wetstoepas­sing op die N1 is eintlik die verkeersmense,” het polisiewoordvoerder konst. Irene Radzilane gesê.

Verder is mnr. Anton Peyper van die dorpswag ook gevra oor lede wat deelneem aan onwettige aktiwiteite. Hy het Woensdag gesê dat hy nie bewus is van lede wat deelgeneem het aan ‘n resies nie, maar wel van lede wat gaan kyk het na van die wedrenne. “Hierdie lede het egter in hul privaat kapasiteit na die resies gaan kyk, en nie as lede van die dorpswag nie,” het Peyper gesê.

Die provinsiale verkeersdepartement is ook genader vir kommentaar, nadat die Makhado Munisipaliteit se verkeersafdeling aangedui het dat hulle geen jurisdiksie het op ‘n nasionale pad nie. Teen druktyd is daar nog gewag op die Limpopo Departement van Paaie en Vervoer se woordvoerder, me. Kakgiso Montana, vir kommentaar nadat ‘n e-pos aan haar gestuur is.

 
 
 

Viewed: 3131

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT