ADVERTISEMENT:

 

 
 

Oom Frikkie (82) en tannie Lettie Knoetze (81) van Marlene’s Kwekery in Louis Trichardt wat verlede Saterdag die slagoffers was van ‘n geweldadige gewapende roof by die kwekery. Tannie Lettie se beserings was Maandag nog duidelik sigbaar. Weens die trauma van die aanval is daar besluit om onmiddelik, na 35 jaar van diens, die kwekery te sluit. “‘n Mens se lewe is egter meer werd as ‘n kwekery. Dank die liewe Vader Hy was by ons,” sê oom Frikkie.

Dankbaar hulle lewe

Date: 06 March 2015 By: Andries van Zyl

Wat vir die 82-jarige oom Frikkie Knoetze die ergste was, was toe die gewapende mans die 81-jarige tannie Lettie, sy vrou, na buite dwing en hy nie geweet het of hy haar weer lewend gaan sien nie.

Die gewapende roof by die Knoetze-egpaar se familiebesigheid, Marlene’s Kwekery in Louis Trichardt, het Saterdag, 28 Februarie, vir beide skok en woede gesorg. Die nagmerrie het ongeveer kwart voor een die middag begin ontvou.

Oom Frikkie en tannie Lettie het buite hul woonhuis, aan die agterkant van die kwekery, saam met hul dogter Alice (61) en dié se man, Pieter Oosthuizen (65), gekuier. Meteens het hulle gille van hul arbeiders in die kwekery gehoor.

Onmiddellik het hulle besef dat daar groot moeilikheid is. Tannie Lettie, Alice en die huishulp het die huis in gevlug. Binne sekondes was ‘n groep van vier of vyf gewapende mans egter by die sekuriteitshekkie wat die huis en kwekery skei. Dié het hulle oopgekry en oom Frikkie en Pieter is beveel om op hul mae te lê. “Jy is magteloos ... Wat kan jy doen as drie 9mm-pistole op jou gerig is!?” het ‘n steeds getraumatiseerde oom Frikkie Maandag aan die Zoutpansberger gesê. Eweneens was tannie Lettie steeds baie ontsteld en emosioneel oor die aanval.

Soos wat tannie Lettie-hulle die huis in gevlug het, het hulle die kombuis-, gang- en kamerdeur, waar hulle gaan skuil het, gesluit. Die gewapende aanvallers, almal in hul twintigs, het die kombuisdeur oopgeskop, waarna hulle oom Frikkie, Pieter en al die kwekery se arbeiders die huis in geboender het. Soos wat hulle deur die huis beweeg het, het die rowers die een na die ander deur oopgebreek – tot in die kamer waar tannie Lettie-hulle geskuil het.

In die kamer, tot oom Frikkie se benoudheid, het twee van die mans vir tannie Lettie gegryp en haar teruggeneem na die kwekery, waar sy die kluis moes oopsluit. Ook in die kamer het die drama voortgeduur, waar hulle vir Alice gedwing het om die kluis in die huis oop te sluit. Daaruit het hulle geld en oom Frikkie se handwapen gesteel. Dit was duidelik dat die aanvallers geweet het van die twee kluise.

“Die hele tyd was die mans met selfone in kontak met mekaar,” sê oom Frikkie. Hulle was baie aggressief en het Engels, Venda en Sotho gepraat. “Daar was een wat die hele tyd vir my pa gesê het: Old man, I am going to shoot you!” sê oom Frikkie se seun, Franna. Hy was uitstedig ten tye van die aanval.

In ‘n poging om die situasie te ontlont, het Pieter deurlopend die mans probeer kalmeer. “Hy het vir die mans gesê: ‘Ons het nog geld, bring net eers die ou vrou terug’. Met dié het die een ‘n oproep gemaak en kort daarna het hulle tannie Lettie teruggebring,” sê oom Frikkie.

By die kamer teruggekom, het die een man tannie Lettie so hard met sy pistool se kolf teen die kop geslaan dat sy op die bed neergeval het. Ook Alice is teen die kop geslaan. “Hulle het baie tyd gehad en was seker ‘n halfuur met ons besig. Hulle het geweet wat hulle doen en het sommer so in een beweging jou beursie en juwele van jou afgevat,” sê oom Frikkie.

Ná wat soos ‘n ewigheid gevoel het, is almal in die kamer beveel om op die vloer te gaan lê, nadat hulle met cable ties vasgebind is. Oom Frikkie en tannie Lettie is egter toegelaat om op die bed te lê. “Dit was toe dat die een man sê: 'Let’s shoot them!' " sê oom Frikkie. Genadiglik was een van die aanvallers egter baie meer beleefd gewees. “Ek vermoed hy was die leier. Hy het dit duidelik gestel dat niemand geskiet sal word nie,” sê Franna.

Nadat die mans uit die kamer is, het hulle die families se bakkiesleutels gegryp en was in die proses om die bakkies te probeer steel, toe twee manskliënte daar opdaag. Die klank van die kliënte se skielike stemme het blykbaar die aanvallers ontsenu en hulle het te voet op die vlug geslaan. Die twee kliënte het deurgestap na die huis toe en geklop. Oom Frikkie was toe reeds besig om almal los te sny en het vir die mans geskreeu dat hulle sopas beroof is. Hulp is dadelik ontbied en tannie Lettie het mediese behandeling ontvang vir ‘n oogwond.

Vir Franna was dit duidelik dat die aanvallers vir ‘n geruime tyd die kwekery dopgehou het. “Van ons arbeiders het ná die aanval vir ons kom sê hulle het twee van die mans herken. Hulle was blykbaar verlede Dinsdag oor etenstyd by die kwekery en het doelloos rondgestap. Toe een van die arbeiders vir hulle vra of sy hulle kan help, het hulle vir haar gesê dat hulle net kyk en later sal kom koop,” sê Franna. Net een van die rowers was gemasker en almal het handskoene gedra.

Afgesien van die trauma waardeur die familie gegaan het, het die aanval ‘n verdere hartseer nadraai gehad, met Franna wat besluit het om onmiddellik die kwekery te sluit. “Misdadigers dink nie daaraan dat hulle optrede mense hulle werk kos nie. Ons weet almal wat die ekonomiese omstandighede is. Ons het die plek probeer aan die gang hou vir my pa en ma en het mense wat al 30 jaar vir ons werk. Hierdie mense sit nou sonder werk. Mense mag dink ek het oorhaastig besluit om te sluit, maar ek soek dit nie op my gewete as so iets weer gebeur nie,” sê Franna.

Vir oom Frikkie is die besluit om te sluit eweneens hartseer. Hy sou kon aanbly by die kwekery, maar noem dat tannie Lettie niks daarvan wil weet nie. “Jy weet, Desember verlede jaar was ons 35 jaar by die kwekery ... nou is alles net verby. Weet jy hoeveel kliënte het al vir ons gesê ons moet nooit toemaak nie, want dan is hulle verlore. ‘n Mens se lewe is egter meer werd as ‘n kwekery. Dank die liewe Vader Hy was by ons,” sê oom Frikkie. Terselfdertyd het hy namens die Knoetze-familie al hul gereelde kliënte bedank vir hul ondersteuning deur die jare. “Dit is ‘n móét sluit, en nie lekker nie,” sê hy.

Franna het almal bedank wat sy ouers en familie bygestaan het ná die aanval. Hy het veral hoë lof gehad vir die Soutpansberg Dorpswag, wat binne twee minute nadat hulp ontbied is op die toneel was. “Ek kan dit nie genoeg beklemtoon hoe belangrik dit is vir mense om aan te sluit by die dorpswag nie. Mense moet betrokke wees, want die situasie kon Saterdag baie maklik anders gewees het!” sê Franna. 

 
 
 

Viewed: 842

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT