ADVERTISEMENT:

 

 
 

Dr. Philip Venter op die foon tydens 'n kort verdaging van die hof verlede Donderdag in die Louis Trichardt Distrikhof, waar hy teregstaan op klagte van bedrog.

Saak teen leraar sluit ná laaste getuienis

Date: 06 March 2015 By: Isabel Venter

Die leraar van Louis Trichardt wat teregstaan op ‘n klag van bedrog en oortredings van die Vuurwapenwet het verlede week weer in die plaaslike hof verskyn.

Dr. Philip Arnoldus Venter (58) en die twee ander getuies in sy saak het aangevoer dat die Makhado Polisie se wapenkantoor al vir jare wanbestuur word en in chaos is.

Venter word daarvan aangekla dat hy gedurende April 2006, onder valse voorwendsels, besit geneem het van drie van mev. Cecile Steyn se vuurwapens. Hy sou haar glo onder die indruk gebring het dat hy ‘n geregistreerde wapenhandelaar was. Al drie wapens het intussen vermis geraak, met Venter wat aanvoer dat hy dit vir sy oorlede vriend, mnr. Tewie Wessels, gegee het om te deaktiveer. Ná Tewie se dood in 2009, het Venter egter in 2010 in twee briewe aan Steyn erken dat die wapens steeds in sy besit was, met die nodige bergingspermitte (539-vorms).

Venter het in Februarie hierdie jaar, tydens sy kruisondervraging, erken dat hy die outeur van die briewe is, maar dat die bewoording verkeerd was, omdat hy dit in ‘n tydperk van geweldige persoonlike stres geskryf het. Verlede Donderdag het Venter, op verdere vrae van die hof, gesê dat hy die briewe geskryf het om Steyn gerus te stel oor haar vuurwapens.

Venter het weer aan die hof gesê dat hy homself as die eienaar van die wapens geag het, alhoewel die wapens nie fisies in sy besit was nie. Hy het ook nie die wapens as vermis by die polisie aangemeld nie, want hy het gehoop “dit sou nie nodig wees nie, en weer na vore kom.”

Ná die hof Venter klaar ondervra het, het mnr. Petrus Phillipus Visser (alombekend as Peet) vir Venter  begin getuig.

Visser se getuienis is voorlopig deur die hof toegelaat, al het dit ooreengestem met die beëdigde verklaring waarmee Venter se advokaat ‘n aansoek gebring het vir die herroep van ‘n Staatsgetuie in sy voorlaaste hofverskyning in Februarie. Dié aansoek is afgekeur, nadat die hof bevind het dat Visser se verklaring oor die wyse waarop die polisie wapenlisensies hanteer het, nie betrekking het op Venter se saak nie.

Die hof het verlede week gesê Visser se getuienis kom deurmekaar voor, en dat dit nie net die polisie was wat gefouteer het nie. Visser kon self ook seker maak dat sy permitte reg aan hom uitgereik is. “U het uself maar eintlik genooi na die partytjie,” het die hof aan Visser gesê.

Behalwe dat Visser getuig het oor lt.kol. Bez Bezuidenhout van die polisie se plaaslike vuurwapenkantoor se swak hantering van Visser se eie persoonlike wapenlisensies, het hy ook getuig dat dit destyds ‘n algemeen-bekende feit was dat die polisie se wapenkantore regoor die land in wanorde was. Hy het ook gesê dat dit na sy mening verkeerd was van die polisie om nie afskrifte van 539-permitte te hou nie, al is daar geen wetlike verpligting op die polisie om dit te doen nie.

Visser het ook getuig dat hy die dag by was toe Venter Steyn se wapens aan Wessels oorhandig het, nadat Wessels eers bergingspermitte daarvoor aan Venter getoon het.

Tydens kruisondervraging van die Staat het Visser egter erken dat hy net die permitte op ‘n afstand gesien het en dat hy eintlik maar aangeneem het dat die wapens wat Venter aan Wessels oorhandig het, dié van Steyn was. “Ek het mos die wapens vantevore gesien toe die dominee gesê het ek moet daarna kom kyk toe hy dit gekry het van Steyn ... ek het gesien dit is twee rewolwers en ‘n handwapen en geweet dit is Steyn se wapens,” het Visser getuig. 

Visser het glo dié dag wat Venter die wapens gekry het, gesien daar was 539-permitte op Venter se lessenaar. Hy het onder kruisondervraging erken hy het nie gekyk vir watter wapens dit uitgereik was nie.

Ná Visser het Wessels se eks-vrou, me. Senta Wessels, ook getuig. Sy is ná haar man se afsterwe as eksekuteur van sy boedel, wat sy wapens ingesluit het, aangestel. By nadere ondersoek, het Senta getuig, kon sy nie Steyn se wapens in haar man se kluis kry nie. Sy het ook verder getuig dat Tewie nie altyd sy wapenkluis se sleutels by hom gehad het nie, en dat daar R4 000 kontant net na Tewie se dood uit die kluis weggeraak het.

Senta het verder ook getuig dat sy in dié tyd ‘n klagskrif teen Bezuidenhout ingedien het by die polisie se onafhanklike klagtedirektoraat, omdat hy nie aan haar tydelike bergingspermitte wou uitreik vir al Tewie se wapens nie. Haar klag is nie ondersoek nie, omdat sy langer as 'n jaar geneem het om dit in te dien, en sy het ook nie op die direktoraat se advies 'n saak gemaak by die plaaslike stasiebevelvoerder nie.

Ná Senta se getuienis is Venter se saak gesluit. Daar is besluit om die Staat en die verdediging tot 12 en 19 Maart kans te gee om skriftelike betooghoofde by die hof te liasseer. Hierna sal die Staat op 23 Maart kan repliek lewer, en die hof sal dan op 7 Mei uitspraak lewer.

 

 
 
 

Viewed: 285

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT