ADVERTISEMENT:

 

 
 

Foto ter illustrasie. Grafiek: Zoutnet Media.

Mode-gier of tragedie wat lê en wag?

Date: 06 March 2015 By: Isabel Venter

Kontaklense kan ‘n mens nie net beter laat sien nie, maar ook ander mense twee keer laat kyk.

Kosmetiese kontaklense, wat nie jou sig verbeter nie maar bloot jou oogkleur feller laat vertoon of vreemd of monsteragtig verander, is die jongste gier onder Louis Trichardt se inwoners. Die meeste verbruikers van dié soort kontaklense, het die koerant verneem, is jongmense wat van vreemde kleure tot dier-oë prentjies dra.

Die mode-lense, Eye Voodoo, word vir die afgelope maand te koop aangebied. Ouers is egter bekommerd oor die gebruik van die kontaklense en dit blyk dat hulle rede het om bekommerd te wees. ‘n Vinnige Internet-soektog wys talle gevalle van wat verkeerd kan gaan as dié kontaklense gebruik word.

Die gebruik van enige kontaklense gaan gepaard met die verhoogde risiko van bakteriële infeksie. ‘n Plaaslike oogkundige sê verder dat die risiko meer algemeen is by geleentheidsgebruikers.

Die Zoutpansberger het by me. Sanri du Plessis van SpecSavers op Louis Trichardt gaan kers opsteek oor die kommer wat die mode-kontaklense veroorsaak. Haar grootste bekommernis is dat die meeste tieners met hul oë dobbel en hul lewens op die spel plaas.

Tieners, verduidelik sy, gebruik dikwels die lense as ‘n modebykomstigheid en nie noodwendig omdat hulle swaksiende is nie. Daarom dink hulle ook nie dit is nodig vir ‘n oogtoets nie.  Dit beteken dat die streng higiëniese voor- en nasorgmaatreëls van kontaklensgebruik nie aan hulle verduidelik word nie.

Volgens Du Plessis kan kontaklense nie verkoop word sonder ‘n afspraak met ‘n oogkundige nie; veral nie aan tieners of eerste gebruikers nie. Dit is om seker te maak elke kliënt gebruik die regte lense vir sy of haar oog en dat daar verseker word dat hulle weet hoe om dit reg in te sit en uit te haal, asook hoe om dit te versorg.

Meestal is die newe-effekte net ongemak en geïrriteerde oë, maar as ‘n tiener dalk uit onkunde sy lense in water afspoel, kan dit tot ernstige infeksies soos bakteriese keratitis ly. “Dit kan ‘n kind se dood veroorsaak of lei tot ‘n kornea-oorplanting, waarvoor mens tot twee jaar moet wag,” sê Du Plessis.

Die Zoutpansberger  het ook met mnr. Fanie Curry, wat die invoerder van die Eye Voodoo-lense is, gepraat, en hy het oogkundiges se waarskuwings as bangmaakstories afgemaak. Hy voer die lense vanaf Korea in en vertel dat hy in die drie jaar wat hy dit regoor die land verkoop nog nooit ‘n klagte ontvang het nie. “Kom ek sê vir jou, oogkundiges het ‘n probleem met ons lense, want ons is goedkoper en vat besigheid weg van hulle af,” het Curry gesê.

Volgens Curry is sy lense vir enige iemand. Elke paar lense wat verkoop word, verduidelik Curry, word vergesel van ‘n pamflet wat in detail vir kliënte verduidelik hoe om die lense in te sit en dit higiënies te versorg. “Ons gaan eintlik ‘n stappie verder as oogkundiges in die pamflet en gee soveel as moontlik inligting, sodat kliënte versigtig moet wees.”

Curry sê die kontaklense wat hy verkoop, word van ‘n hoë kwaliteit hydrogel gemaak wat 100% veilig is vir die oog en UV-beskerming bied. “Dit is nie die goedkoop gemors wat mens op vlooimarkte kry nie.”

Op ‘n vraag rondom wetgewing wat die verkoop van kontaklense reguleer, het Curry prontuit erken dat nie hy of sy verskaffers daaraan voldoen nie. Volgens die Gesondheidsraad van Suid-Afrika mag net geregistreerde oogkundiges of dokters kontaklense (voorskrif of kosmeties) verkoop. Die enigste reël wat Curry en ander verkopers soos hy het, is dat kinders jonger as 13 nie hul lense mag dra nie, en tot en met die ouderdom van 16 moet ouers toestemming gee. 

Daar was weliswaar nog nie 'n plaaslike geval van tieners wat 'n kontaklens-infeksie opgedoen het nie, maar volgens Du Plessis is daar vele gedokumenteerde gevalle en is dit nie net "bangmaakstories" nie.

 
 
 

Viewed: 661

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT