ADVERTISEMENT:

 

 
 

‘n Kunstenaarsvoorstelling van die voltooide nuwe dagsaal-vleuel by die Zoutpansberg Privaathospitaal. Die saal sal geleë wees net links van die hospitaal se bestaande hoofingang in Joubertstraat.Skets verskaf.

Uitbreiding deel van hospitaal se visie

Date: 26 February 2015 By: Andries van Zyl

Die Zoutpansberg Privaathospitaal in Louis Trichardt het Dinsdag sy volgende fase van uitbreiding betree met die hou van ‘n sooispit-seremonie vir die aanbou van ‘n nuwe dagsaal-vleuel.

Dit was ‘n blye dag vir die direkteure en personeel van die hospitaal ná jare se gestoei vir amptelike goedkeuring vanaf die Departement van Gesondheid, asook goedkeuring van bouplanne en die registrasie van titelaktes.

Die nuwe dagsaal sal ‘n addisionele 10 beddens tot die hospitaal se bestaande 22 beddens voeg. In effek sal dit egter net ‘n addisionele agt beddens ekstra beteken, aangesien die hospitaal twee van hulle bestaande hoeveelheid beddens sal moet afstaan as deel van die nuwe saal se inskakeling by die bestaande hospitaalgebou.

Een van die hospitaal se direkteure, mnr. Martin Kennealy, het tydens die seremonie gesê die nuwe vleuel vorm deel van die hospitaalbestuurder se deurlopende visie om die hospitaal uit te brei. “’n Paar jaar van nou af sal ons hierdie seremonie herhaal wanneer ons ‘n verdere 50 plus beddens en addisionele teaters byvoeg. Hierdie [nuwe uitbreiding] is maar een deel van ‘n hele proses. Die punt wat ek wil maak is dat hierdie hospitaal, van ‘n nederige begin, deurlopend ten opsigte van behoefte vorentoe beweeg. Ons doen dit in klein en volhoubare treë,” het Kennealy gesê. Hul oorhoofse doel, sê Kennealy, is om mediese dienste vir almal meer toeganklik te maak.

Volgens Kennealy was die hospitaal by tye die afgelope paar jaar oorval. Hy sê die nuwe dagsaal, vir pasiënte wat dieselfde dag ontslaan kan word as wat hulle opgeneem is, sal dus verligting bring ten opsigte van die beskikbaarheid van beddens in die bestaande hospitaal. “Ons hoop en vertrou dat dit ‘n groot verbetering sal meebring vir ons pasiënte en hul families,” het Kennealy gesê.

Die seremonie is voorafgegaan met die amptelike terreinoorhandiging. Volgens dr. Anton Stroebel, ook 'n hospitaaldirekteur, sal bouwerk binne die volgende paar dae in alle erns begin, met ‘n voltooiingsdatum van 24 Oktober vanjaar. “Ons sal probeer om die werksaamhede se impak op die bestaande hospitaal en omgewing te minimaliseer. Dit behels dat daar onder meer nie na-ure en oor naweke gewerk sal word nie. Ons het ook planne in plek om die gerief van ons pasiënte te verseker en toe te sien dat die normale werksaamhede van die hospitaal kan voortgaan,” het Stroebel gesê en inwoners en pasiënte versoek om asseblief geduldig te wees met die bouwerk.

Die nuwe vleuel sal opgerig word op die terrein links van die hospitaal se hoofingang in Joubertstraat. Die area het tot onlangs die hospitaal se administratiewe kantore gehuisves. Dié kantore is intussen verskuif na ‘n vooraf-voorbereide geplaveide area wes van die bestaande hospitaal. Buiten die ekstra beddens, maak die nuwe saal ook voorsiening vir ekstra kantoorruimte. Die bestaande ontvangsarea sal ook verskuif na die nuwe saal, aangrensend tot die huidige hoofingang by die hospitaal. Sien meegaande skematiese voorstelling van die nuwe vleuel.

 
 
 

Viewed: 291

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

‘n Skematiese voorstelling van die nuwe dagsaal by die Zoutpansberg Privaathospitaal. Die addisionele beddens sal groot verligting bring ten opsigte van die beskikbaarheid van beddens in die bestaande hospitaal. Skets verskaf.

Afgeneem tydens die sooispit-seremonie Dinsdag is voor, van links na regs, mnre. Deon Stapelberg (argitek), dr. Lappies Labuschagne (hospitaaldirekteur), Piet van Staden (boukontrakteur), dr. Anton Stroebel (hospitaaldirekteur), Fanie van Zyl (hospitaal se fasiliteitbestuurder), Freek Vi viers (bourekenaar) en Dirk du Preez (ingenieur). Agter is dr. Michiel Roos (hospitaaldirekteur), André Slabbert (elektriese ingenieur), Martin Kennealy (hospitaaldirekteur), dr. Emile Gaigher (hospitaaldirekteur) en Eugene Barnard (argitek). Afwesig tydens die neem van die foto was dr. Fred Badenhorst (hospitaaldirekteur).

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT