ADVERTISEMENT:

 

 
 

Polisie ondersoek die voertuig waarin die verdagtes op reis was, nadat dit Maandag op die N1 oorkant CTM in Louis Trichardt afgetrek is.

Polisieman deel van vermeende roofbende

Date: 20 February 2015 By: Isabel Venter

Hierdie week het letterlik ‘n blou Maandag gehad op Louis Trichardt, met die manne in blou wat een van hul eie moes arresteer.

Lede van die Makhado Polisie het vyf verdagtes vasgetrek wat daarvan verdink word dat hulle die Wylliespoortwinkel tussen Louis Trichardt en Musina beroof het. Dit sou by nadere ondersoek aan die lig kom dat een van die verdagtes ‘n lid is van die polisie se Beskerming- en Sekuriteitseenheid in Pretoria.

Volgens provinsiale polisiewoordvoerder lt.kol. Ronel Otto is die mans opgemerk in die wit Toyota Avanza bussie waarin hulle gery het, en is afgetrek op die N1 oorkant CTM.

Plaaslike polisie, lede van die Soutpansberg Dorpswag en die streek se plaaswagte het die heelaand na die voertuig gesoek. Daar is glo nog ‘n tweede voertuig, ‘n rooi Izuzu bakkie, soek.

Versteek binne-in die bussie het die polisie op twee 9 mm-pistole afgekom: een wat hulle glo van die Wylliespoortwinkel se sekuriteitswag afgevat het Sondagaand, en nog een waarvan die reeksnommer afgevyl is. Daar is ook ‘n onbekende bedrag kontant gekry en 10 selfone.

Al vyf die mans het Woensdag vlugtig in die Louis Trichardt Streekhof verskyn.

Ntakadzeni Emmaneul Takalani (28), Thizwikoni Phungo (32), Lutendo Nemuramba (32), Thomas Nndwamoto Thovhokale (56) en Shumani Ludere (32) staar klagtes van roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie in die gesig.

Die polisielid, Takalani, staan op ‘n verdere klag tereg van die besit van ‘n vuurwapen met die opset om ‘n misdryf te pleeg. Daar word ondersoek ingestel om vas te stel of hy betrokke was by die roof, en of hy sy dienspistool gebruik het.

Plaaslike polisiewoordvoerder konst. Irene Radzilane het bevestig dat die moontlikheid ondersoek word dat die mans dalk betrokke kon gewees het op die moord van mnr. Bhavesh Desai (43), die eienaar van die Wylliespoortwinkel, in Oktober verlede jaar.

Al vyf sal in polisie aanhouding bly tot 13 Maart, waarna hulle na verwagting ‘n formele borgaansoek sal bring. 

 

 
 
 

Viewed: 5603

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Die verdagtes het Woensdag vlugtig in die Louis Trichardt Streekhof verskyn. Van links na regs is Ntakadzeni Emmanuel Takalani, Thiwikoni Phungo, Lutendo Nemuramba, Nndwamoto Thomas Thovhokale en Shumani Ludere. Voor die mans is hul regsverteenwoordiger, mnr. Desomond Mphaphuli.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT