ADVERTISEMENT:

 

 
 

Dominee pleit “onnosel” oor vuurwapenkennis

Date: 20 February 2015 By: News Correspondent

Die leraar van Louis Trichardt wat teregstaan op ‘n klag van bedrog en oortreding van die Vuurwapenwet sê hy verstaan nie die klagtes wat teen hom gebring is nie.

Dr. Philip Arnoldus Venter (58) het onnosel gepleit toe hy deur die Staat kruisondervra is. Hy het verlede week weer in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn.

Venter word daarvan verdink dat hy in April 2006, onder valse voorwendsels, besit geneem het van drie van mev. Cecile Steyn se vuurwapens. Hy sou haar glo onder die indruk gebring het dat hy ‘n geregistreerde wapenhandelaar was. Al drie wapens het intussen vermis geraak, nadat Venter dit glo vir ‘n vriend gegee het om te deaktiveer. Ná die vriend se dood in 2009, het hy steeds in 2010 in twee briewe aan Steyn erken dat die wapens in sy besit was, met die nodige bergingspermitte (539-vorms).

Voordat Venter verlede week in die getuiebank geklim het, het sy advokaat, mnr. Neil Duvenhage, ‘n aansoek gebring om lt.kol. Bez Bezuidenhout te herroep vir verdere kruisondervraging.

Die aansoek was geskoei op ‘n verklaring van ‘n vriend en sakekennis van Venter, mnr. Petrus Phillipus Visser (alombekend as Peet). Visser het glo oor inligting beskik wat Venter se saak sou kon help. Volgens Visser het hy in November verlede jaar van die hofverrigtinge in die koerant gelees en besef dat lt.kol. Bezuidenhout, wat as deskundige vir die Staat getuig het, gelieg het as hy gesê het dat alles volgens prosedure gedoen is in die polisie se plaaslike wapenlisensiekantoor.

Duvenhage het aangevoer dat Visser se getuienis “essensieel” tot die saak is, omdat dit sal bewys dat lt.kol. Bezuidenhout se getuienis nie in alle opsigte korrek was nie.  

In die aansoek het Duvenhage weer die hof probeer oortuig dat die Makhado polisie se wapenlisensiekantoor in totale wanorde funksioneer. Hiervoor het Visser verskeie bergingspermitte (539-vorms) as bewys in sy besit, wat Bezuidenhout glo uitgereik het aan hom sonder om dit behoorlik te voltooi. “Visser het eers nie gedink hierdie dokumentasie is belangrik nie, maar dit kan bewys dat hy [Bezuidenhout] nie aan die reëls en regulasies voldoen het nie. So, hierdie bewering van die Staat dan, dat dit alles so mooi en ordentlik gedoen is, kan dus nie aanvaar word nie ... en Bezuidenhout moet dus kom verduidelik,” het Duvenhage gesê.

Die hof het die aansoek afgekeur en die Staat gelyk gegee dat die nuwe getuienis van Visser nie betrekking het op die wapens in Venter se saak nie. Verder het die Staat ook gesê dat daar ‘n ernstige vraagteken oor die aansoek hang, en dat dit wil voorkom asof dit 'n persoonlike aanval op Bezuidenhout is.

Omdat die Staat reeds hul saak  teen Venter verlede jaar gesluit het, het Duvenhage die verdediging se saak geopen met Venter se getuienis.

Venter se verweer was dat hy Steyn ‘n guns gedoen het om die wapens by haar oor te neem en te laat deaktiveer. Sy het, volgens hom, die wapens verniet weggegee, en dit sou hom baie geld kos om dit te laat doen deur ‘n wapensmid. Daarom het hy vir wyle mnr. Tewie Wessels, wat ‘n goeie vriend van hom was, gevra om van sy kontakte gebruik te maak en dalk die wapens kosteloos gedeaktiveer te kry.

Venter het getuig dat hy die wapens en hul bergingspermitte net ‘n paar dae in sy besit gehad het, voordat hy dit aan Wessels oorhandig het. Wessels het glo die wapens by Venter se huis afgehaal, waarvoor hy ook permitte laat uitreik het om dit wettig in sy besit te hê. Visser, het Venter gesê, sal hiervan kan getuig, want hy was die dag by gewees.

Hierna, het Venter getuig, het hy nooit weer die wapens gesien nie en ook aangeneem dat Wessels dit vir ‘n smid gegee het. Omdat hy geweet het die deaktivering sou lank vat en sy eie bergingspermitte intussen verval het, het hy die vorms weggegooi.

Wat die briewe aan Steyn betref, het Venter getuig dit moet saam gelees word,  en dat hy bedoel het hy het besitreg op die wapens, al was dit nie fisies in sy besit. Die briewe se swak woordkeuse, sê hy, was omdat hy gedurende die tyd onder geweldige druk was om ‘n proefskrif klaar te skryf en later deur die NG Kerk se Ring verhoor is.

“... so, ek weet ek het daardie brief geskrywe, ek ontken dit nie, maar ek kon nie onthou wat ek daarbinne geskryf het nie,” het Venter getuig.

Venter het onder kruisondervraging van die Staat getuig dat dit vir hom nuus was dat hy nie ‘n geregistreerde wapenhandelaar was nie, en dat sy aansoek net halfpad voltooi was. Hy het getuig dat hy nooit in 2006 vir Steyn onder dié indruk gebring het, of haar vertel het dat hy van plan was om Turner's, ‘n plaaslike wapenhandelaar, te koop nie. Hierdie aanbod het eers in 2008 na hom gekom.  

Verder het Venter vir die Staat gesê dat hy nie uitvoerige kennis van die vuurwapenwet gehad het nie, ongeag dat hy verskeie sertifikate aan die hof getoon het wat gewys het dat hy daaroor eksamens afgelê het... “Ek pleit dan onnosel,” het hy aan die aanklaer gesê toe hy uitgevra is oor sy bewerings dat die polisie se wapenkantoor chaoties was en by verskeie kere aan hom half-voltooide 539-permitte uitgereik het.

Nadat Venter klaar getuig het, is sy saak uitgestel tot 26 Februarie.

 
 
 

Viewed: 292

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT