ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Joao Lombard. Foto verskaf.

“Die mooi herinneringe sal nooit sterf nie”

Date: 19 February 2015 By: Frans van der Merwe

“Die enigste ding in die wêreld wat nooit kan sterf nie, is mooi herinneringe, en daar is soveel daarvan...”  sê  gesinslede van Joao Lombard, lid van ‘n bekende Soutpansbergse pioniersfamilie en geliefde eienaar van die gewilde, alombekende Hengelparadys by die Albasinidam.

Lombard is voorverlede Donderdag in die hospitaal opgeneem en is Sondag, 8 Februarie, oorlede. Hy was 79 jaar oud. ‘n Roudiens is Maandag,  16 Februarie, vir Lombard gehou vanuit die AP Kerk op Louis Trichardt.

In ‘n huldeblyk sê sy gesin: “Pa was ‘n skatryk man in die dinge op aarde wat hemelse waarde het: Liefde, omgee en medemenslikheid – nooit, ooit kwaad gepraat nie.

“Pa was ‘n mens wat met soveel positiwiteit elke dag aangepak het – so lief vir die lewe – so trots op elke stukkie handewerk. Die Hengelparadys, omring deur die Soutpansberge, is armer, want ‘n groot boom het geval.

“As ‘n pa het hy ons deur sy lewe laat sien dat God die Vader, die Seun, en Heilige Gees die Here van die hede, verlede en toekoms is.”

Oom Joao was die tweede oudste van die vier seuns van J.J. Dons Lombard en Christina Helena (neé Albasini) op die plaas Beja. Hul sussie Esma (15 jaar jonger as Joao) sê as kleuter was dit  moeilik om die vier broers se name te onthou, totdat haar ma vir haar gesê het om net ‘n “Ja” vooraan te sit. Toe word dit Ja-Pierre, Ja-oa, Ja-pok en Ja-christo.

Sy vertel  ná die geboorte van Joao op 30 Augustus 1935 het die bekende oom Ben Lavin, wat sonder kinders was, opgedaag om vir die tweede seun met harde kontant ‘n aanbod te maak : “A thousand pounds!” om hom as kind op te eis. 

“Joao was soos sy karre, ‘n smooth operator, never missed a beat en as Casanova met ‘n weglê snor het hy teruggekeer van Johannesburg se blink liggies om sy pa op die plaas te kom help en sy sussie te kom grootmaak.

“Hy was ‘n ten volle gekwalifiseerde elektromeganiese ingenieur, ‘n 100m atleet en kranige rugbyspeler as jong student. Vir sy sussie, ‘Poppelons’, het hy geleer: Spring altyd eerste met die regtervoet weg, dan is jy alreeds voor. Hy was ‘n vinnige jongman wat met sy Harley Davidson telkemale op Kyalami resies gejaag het.

“Met sy sjarme het hy toe die hart van ‘n Foschini-model,  Anthea, gewen en die knoop deurgehaak,” vertel Esma.

Sy kleinkinders onthou die inspirasie wat hulle geput het uit hul oupa se ontembare lus om saam te groei met moderne tegnologie. “’n Perfekte rolmodel van hoe ‘n man in hierdie moderne lewe moet optree. Oupa was altyd net ‘n foonoproep weg en altyd gereed om kennis oor te dra. Oupa was altyd gereed om jou op te beur met ‘n grappie of twee. Ons sal ons lang gesprekke mis in die bakkie en op die stoep, wanneer die son ondergaan en sy vertellings van die manewales op die meule, myne en Yskor.”

Een van sy gewilde sêgoed was: “Die boer se beste kunsmis op sy landerye, is sy voetspore...”

 
 
 

Viewed: 1917

 

 
 

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT