ADVERTISEMENT:

 

 
 

Alex Smail (heel links) verlede week in die Louis Trichardt Streekhof. Hy is afgeneem waar hy met sy advokaat, Johan Engelbrecht (met sy rug na die kamera), en 'n familielid gesels tydens 'n kort verdaging van die hof.

Apartheid se skuld

Date: 13 February 2015 By: Isabel Venter

Apartheid is nie net meer die holrug-geryde argument van politici vir alles wat hulle verkeerd doen nie.

Die 66-jarige Alexander Smail van Buysdorp, wat skuldig bevind is daaraan dat hy Cornelius Bruce Joachim (20) en Sergio Buys (21) doodgeskiet het, meen apartheid dra deels die skuld vir sy dade.

Smail is sedert Desember verlede jaar in aanhouding in afwagting op sy vonnis van die Louis Trichardt Streekhof.

Buiten vir die twee klagte van moord waarop hy skuldig bevind is, is Smail ook skuldig bevind aan twee klagte van poging tot moord.

Smail het in Desember 2009, net voor die skietvoorval, gedreig om vir Joachim, Buys en hulle vriende, Levit Harris en Dominique Buys, te skiet. Buys het getuig dat hy daarvan oortuig was dat hulle by sy onderneming, Smails Fountain op Buysdorp, by verskeie geleenthede ingebreek het. Sy verweer was dat hy Joachim se groep gekonfronteer het, maar nie bedoel het om hulle te skiet nie. Smail het getuig dat hy blindelings skote afgevuur het, nadat een van die mans (hy kon nie presies onthou wie nie) gebuk het, en hy gedink het die man buk vir ‘n wapen. Sergio is in die kop getref en Joachim in die bolyf. Harris en Dominique het ontsnap.  

Smail het getuig dat daar gereeld by sy onderneming ingebreek is, en dat hy al oor die jare groot finansiële verliese as gevolg daarvan gely het. Hy het ook getuig dat die polisie op Buysdorp hom nie van veel hulp was nie, en dat hy radeloos was en nie meer geweet het waar om vir hulp aan te klop nie.

Smail het verlede Vrydag weer hier in die hof verskyn, waar hy ‘n in-diepte sielkundige verslag ingedien het ter vonnis versagting, naamlik korrektiewe toesig in plaas van gevangenisstraf. 

Die verslag is deur ‘n kriminologiese sielkundige opgestel in opdrag van Smail se regsverteenwoordiger.

Smail het vertel dat die polisie gedurende die apartheidsjare met geweld opgetree het teenoor ander rassegroepe. Vandag, het hy aangevoer, word misdaadvoorkoming amper op dieselfde wyse gedoen en gevolglik het hy nie die hulp van die polisie gekry wat hy so dringend en male sonder tal versoek het nie.

Die sielkundige het ook bevind dat Smail ware berou het vir sy dade, maar nie ‘n poging kon aanwend om die familie om vergifnis te vra nie, want hy is Buysdorp belet tydens die duur van sy verhoor. Verder was dit ook die sielkundige se mening dat Smail nie met opset opgetree het die dag toe hy Joachim en Buys doodgeskiet het, maar eerder uit frustrasie blindelings die skote afgevuur het. 

Tydens kruisondervraging deur die Staat het dit aan die lig gekom dat die sielkundige net ‘n paar uur met Smail ‘n onderhoud gehad het, en die verslag se inhoud voorgeskryf is deur Smail se prokureur.

Weens al die tyd wat afgestaan is aan die verslag, is Smail se saak uitgestel tot 5 Maart, waarna sy prokureur nog getuies sal roep ter vonnis versagting.

Smail sal tot dan steeds in aanhouding bly.

 

 
 
 

Viewed: 468

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT