ADVERTISEMENT:

 

 
 

'n Massiewe ou boom voor die ingang van Die Grasdak Gastehuis is Sondag deur 'n sterk wind omgewaai. Voor die boom is die eienaar, mev. Anette du Preez, besig om haar versekeringsagent te bel.

Rukwinde laat spoor van verwoesting agter

Date: 06 February 2015 By: Isabel Venter

Die streek se inwoners het die afgelope week op hol geraak, nadat berigte ontvang is van ‘n tornado wat die Waterpoort-area getref het.

Gelukkig was dit toe nie ‘n tornado, maar net ‘n “helse storm.”

“As dit ‘n tornado was, sou die hele Waterpoort weggewaai het,” het mnr. Rudolph Otto van die boerevereniging Dinsdag teenoor die koerant opgemerk.

Vir die mense in die pad van die storm, wat gepaard gegaan het met hewige stortreën, hael en sterk rukwinde, kon dit net sowel ‘n tornado gewees het, soveel skade het hulle opgedoen. Dié storm het verlede Woensdag, 28 Januarie, kol-kol deur Waterpoort en Mopani getrek.

Volgens Otto het die area binne ‘n halfuur sowat 130 mm ontvang. Daar is ook berig ontvang van plase waar die rukwinde kwekerytonnels uit die grond geruk het, bome ontwortel het en store se dakke afgewaai het.

Lesers het die koerant gebel met die nuus van die Mostert-gesin, van Waterpoort, wie se huis in die slag gebly het. Hulle huis se dak is heeltemal afgeruk deur die sterk winde, en al hulle huisraad het kuithoogte onder die water gestaan.

Die huis waarin Bossie Mostert, sy vrou Henriette en hulle 6-jarige sentjie DJ gewoon het, was ‘n huurhuis, wat naby ‘n rivierloop gebou was. Sy het Dinsdag gesê dat van die boere in die omgewing hulle uitgehelp het met tydelike verblyf.

Laerskool Louis Trichardt, waar DJ skoolgaan, het intussen, ooreenkomstig hulle beleid van omgee, ‘n fonds op die been gebring om DJ uit te help. “Ons leer die kinders by die skool om vir mekaar om te gee en om mense te help as hulle sien daar is ‘n nood,” het die skoolhoof, mnr. Louis Linde, gesê.

Intussen was die stormskade nie net beperk tot die Bosveld nie. Sondag het ‘n warrelwind deur Louis Trichardt getrek, wat talle bome in die slag laat bly het.

Die eienaar van Die Grasdak Gastehuis, mev. Anette du Preez, het eers gedink Eskom kondig beurtkrag aan toe haar ligte met 'n "harde slag" afgaan. Dit was toe al die tyd ‘n groot boom voor die kuierplek se ingang wat ontwortel is.

Die kragtoevoer is darem later weer herstel, en die boom se oorblyfsels is deur die loop van die volgende dag opgesaag en verwyder. Anette het bevestig dat sy darem versekering het. Sy het ook almal van die Soutpansberg Dorpswag, die munisipaliteit se elektrisiteitsafdeling, asook ZC en Ria Pretorius en Brian du Plooy, wat haar tot hulp gekom het, bedank.

 
 
 

Viewed: 588

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT