ADVERTISEMENT:

 

 
 

Malaria neem toe, maar geen rede tot paniek

Date: 06 February 2015 By: Andries van Zyl

Is daar rede tot kommer dat Louis Trichardt sy malaria-vrye status verloor het?

Gedurende Januarie was daar twee gevalle waar inwoners, uit verskillende wonings, vir malaria behandel moes word. Dit opsigself is nie ongewoon nie, maar wat wel vir baie mense ongewoon was, is dat die inwoners meen hulle het die malaria in die dorp opgedoen. Dit is belangrik om te onthou dat alhoewel malariagevalle in die streek voorkom, die wyfieAnopheles muskiet, wat die malariaparasiet versprei, nie endemies aan Louis Trichardt is nie.

Die Zoutpansberger het met ‘n paar kundiges op die gebied van malaria gaan praat en die boodskap was duidelik: Mens moet versigtig wees om nie onnodig paniek te saai nie.

Volgens plaaslike geneesheer dr. Casper Venter is daar maar altyd ‘n insidensie van malariagevalle in die streek. Dit kan toegeskryf word aan die feit dat die dorp grens aan ‘n verklaarde malaria-area. (Sien meegaande kaart).  Tans is daar ‘n groter kans vir die voorkoms van malaria, vanweë gunstige weersomstandighede vir die verspreiding van die siekte. Die hoogseisoen vir die voorkoms van malaria strek vanaf Oktober tot Maart, en die laagseisoen vanaf Maart tot Oktober.

“Daar is altyd ‘n akuut, met ander woorde, ons is in ‘n endemiese area [vir die voorkoms van malaria] ... Partykeer gaan daar meer gevalle wees en partykeer gaan daar minder wees. Dit hang af van die weersomstandighede, hoe effektief die spuitery [teen malaria] was op ander plekke, wat in die buurlande aangaan, hoeveel mense hier deurbeweeg – dit hang af van ‘n vreeslik klomp goed. Die groot vraag is altyd: Het ons skielik ‘n reuse-uitbreking? Daarvoor moet mens baie versigtig wees om ja of nee te sê,” sê Venter.

Hy maan dat mense moet waak teen paniek. Hy het verduidelik dat as ‘n bekende persoon in die dorp malaria kry of daaraan doodgaan, almal daaroor praat. In teenstelling hiermee, sê hy, kan vyf mense in Tshikota malaria kry of daaraan sterf en mens hoor nie daarvan nie. “Nou kry twee mense dit in ons gemeenskap en almal sê: 'Het julle gehoor hier is nou ‘n groot insidensie van malaria?' Maar ‘n mens moet baie versigtig wees met die feite en syfers,” sê Venter.

Venter het die huidige malariagevalle toegeskryf aan die normale seisoenale voorkoms daarvan. “Dit is miskien so 'n bietjie meer hierdie jaar as voorheen, maar dit kan mens net sê as mens die regte feite en syfers het. Is dit nodig om oor die insidensie paniekerig te raak? Ek dink nie so nie.”

Maar hoe doen inwoners malaria op as hulle nie die dorp verlaat het nie en die malariamuskiet nie endemies aan die dorp is nie?

“Enkele gevalle kan toegeskryf word aan reisende muskiete. Dit is waar 'n muskiet wat reeds met die malariaparasiet geïnfekteer is, in 'n voertuig saamreis en iewers uitvlieg, en waar 'n malariageval dan voorkom,” verduidelik mnr. Philip Kruger, senior bestuurder van die Departement van Gesondheid se malariabeheerprogram in Limpopo.

Kruger meen dit is heel waarskynlik “reisende” of sogenaamde “taxi-muskiete” wat die malariagevalle in Louis Trichardt veroorsaak het. “Ons vermoed Louis Trichardt is steeds ‘n malaria-vrye gebied. Die een of twee gevalle wat voorgekom het, word deeglik ondersoek,” sê Kruger. Hy het ook gemaan dat daar nie na die een of twee gevalle verwys moet word as ‘n uitbreking van malaria nie. “’n Uitbreking in Louis Trichardt kan net geklassifiseer word as daar talle gevalle skielik in een woonbuurt voorkom,” sê Kruger. Dit is nie die geval nie.

Kruger het ook genoem dat daar tans ‘n toename van malariagevalle in die provinsie is, maar dat dit nie ongewoon is nie. “Daar is gewoonlik 'n toename van malaria in Limpopo in Januarie elke jaar en hierdie jaar is nie 'n uitsondering nie. Die meerderheid gevalle wat in Januarie aangemeld word, is van persone wat gereis het tydens Desember, na hoofsaaklik ons buurlande,” sê Kruger.

Kruger het inwoners die versekering gegee dat daar goeie malariabeheer in Limpopo gehandhaaf word. Jaarliks, sê hy, spandeer hulle sowat R100 miljoen op malariabeheer en beoog hulle om vanjaar ‘n totaal van net meer as 1.1 miljoen strukture te spuit ten opsigte van die bekamping van malaria. “As ons kyk oor die afgelope 15 jaar was daar min of meer in Limpopo ‘n geleidelik afname in malaria gevalle, party jare meer as ander jare,” sê Kruger.

As daar geen rede tot paniek is en ook nie ‘n uitbreking van malaria in Louis Trichardt is nie, kan inwoners dan ontspan?

Volgens mev. Sylvia du Plessis van die Departement Gesondheid in Louis Trichardt moet inwoners in geen stadium gemaklik raak ten opsigte van malaria nie. Sy waarsku dat malaria hier is om te bly. “Malaria kan genees word, maar kan die dood veroorsaak as dit nie in ‘n vroeë stadium korrek gediagnoseer en behandel word nie,” sê Du Plessis en beklemtoon die belangrikheid van voorsorg eerder as nasorg.

Du Plessis het die mite besweer dat dit beter is om nie profilaksie [anti-malaria pille] te neem nie, omdat dit die simptome verminder en dan die diagnose van malaria moeiliker maak. “Dit is verkeerd om so te redeneer, want al is dit nie 100% doeltreffend nie, neem dit langer vir die simptome om te ontwikkel, die simptome is minder erg en dit kan die risiko van erge komplikasie verminder ... Dit is beslis sinvol om profilaksie te neem indien hoë-risiko areas besoek word in die warm, hoë-reënval seisoen,” sê Du Plessis. Ten spyte van die beskikbaarheid van anti-malaria medikasie, het Du Plessis egter steeds hoë-risiko besoekers (swanger vroue, kinders onder vyf jaar en mense met milt- en ander immuniteitsverwante komplikasies) afgeraai om hoë-risiko malaria-areas te besoek.

 

 
 
 

Viewed: 415

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT