ADVERTISEMENT:

 

 
 

Herken iemand hierdie oormerkplaatjie van een van die tientalle geslagte beeste waarvan die verrottende beesskedels langs die Tshikota vliegveldpad gestort is? Wie was hiervoor verantwoordelik?

Pad nou ‘n vrot gemors

Date: 05 February 2015 By: Frans van der Merwe

Die onbeheerde storting van vullis langs die toegangspad na die Makhado munisipale vliegveld buite Louis Trichardt is besig om ‘n nog ernstiger wending te neem met die jongste toevoeging van grootskaalse verrottende beesafval.

Langs die hele westelike grens van Tshikota is huishoudelike afval en bourommel langs die pad reeds ‘n geruime tyd al aan die orde van die dag.

Verlede week het ‘n ontstelde inwoner laat weet van die storting van verrottende beeskopreste op verskeie plekke langs dié pad, wat onder meer na die vliegveld, kleiduifklub, skietbaan en gruisbreker-onderneming gaan.

Op twee verskillende plekke langs die pad is hope van tientalle verrotte beeskoppe aangetref, wat bloot daar gestort is en oortrek is met brommers en maaiers. Op een plek is afval oënskynlik met plastiek seilsakke daarheen gebring en met sak en al uitgegooi. Elders lê ‘n ou sinkbad waarmee die rou afval daarheen gebring en uitgegooi is. Dit is veroorsaak ‘n opvallende aanstootlikheid en gesondheidsgevaar.

Nêrens langs die pad is enige kennisgewings opgemerk wat die storting van afval en rommel daar verbied nie. Die pad word oënskynlik straffeloos as informele vullisstortingsarea misbruik.

Mnr. Louis Bobodi, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê hulle is daarvan bewus dat inwoners vullis langs dié pad stort. Van die oortreders, sê hy, is betrap en skriftelike kennisgewing is aan hulle uitgereik. Dit wil voorkom of hulle nou bloot die onregmatige storting elders heen verskuif het. Die gemors wat veroorsaak is langs die pad is, sover moontlik, opgeruim terwyl pogings aangewend moes word om die skuldiges op te spoor.

Bobodi het gesê kennisgewingborde behoort by probleemareas opgerig te word om inwoners daarvan bewus te maak dat regstappe teen hulle ingestel sal word as hulle daarmee aanhou. Hy sê dit is moeilik om die oortredings te moniteer, omdat die onwettige stortings dikwels snags plaasvind.

Ingevolge die nasionale omgewingsbestuur wetgewing kan 'n persoon wat aanstootlike afval soos dierkarkasse stort by 'n ongemagtigde stortingsarea 'n boete van R1000 opgelê word.  

 

 
 
 

Viewed: 351

 

 
 

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 
 

More photos... 

'n Ou sinkbad vol verottende, rou beeskopafval is op een plek langs die Thikota vliegveldpad bloot uitgegooi en oop laat lê  - 'n onwelriekende trekpleister vir vlieë en brommers.

'n Gedeelte van die verrottende rou beesafval wat op een plek langs die Tshikota vliegveldpad gestort is. Die gemerkte oormerkplaatjies van sommige beeskoppe is op plekke sigbaar.  

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT