ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wees op die uitkyk vir hierdie diewe

Date: 23 January 2015 By: Isabel Venter

Louis Trichardt se inwoners is alreeds goed bekend met die streke van diewe wat by hulle motors inbreek met behulp van ‘n afstandbeheer.

Hierdie pestilensies is moeilik om voor stok te kry, maar verlede week het twee jong verdagtes hulle vasgeloop in die lang arm van die gereg.

Die twee mans is naby die sentrale sakegebied van die dorp gevang. Makhado polisiewoordvoerder konst. Irene Radzilane het bevestig dat ‘n handvol afstandbeheerders in die mans se besit gevind is.

Die mans het verlede Vrydag vlugtig in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn op klagte wat verband hou met diefstalle uit voertuie. Hulle is nie gevra om te pleit nie en sal in aanhouding bly tot en met hul borgaansoek.

Die mans se arrestasie is wyd verwelkom, maar die polisie het steeds gewaarsku dat inwoners waaksaam moet wees om nie slagoffers van sulke diewe te word nie. Volgens Radzilane is hierdie tipe kriminele moeilik om te vang.

Die diewe slaan vinnig toe met afstandbeheerders wat hulle vir goedkoop plaaslik of oor die Internet kan kry, en los geen fisiese bewyse agter nie. Slagoffers kom eers agter hulle is beroof as hulle weggery het van die misdaadtoneel.

Boonop, weens die gebrek van bewyse of geforseerde toegang, is dit baie moeilik vir inwoners om hierdie verliese terug te eis van hul versekering.

Die koerant het met plaaslike versekeringsmaatskappye gepraat, en almal was dit eens dat dit op die einde van die dag die eienaars se verantwoordelikheid is om te verseker dat hulle motors veilig is. Alhoewel die maatskappye in die verlede sulke eise ontvang het, was daar nog nie een wat suksesvol uitbetaal is nie.  

Radzilane het bevestig dat die polisie baie las verduur met afstandbeheer-diewe en gereeld geskakel word om voorvalle te ondersoek. Sy waarsku dat veral die Checkers-, Spar- en Game-parkeerareas, asook Songozwistraat, gewilde uithangplekke is vir dié diewe.

Radzilane se raad is dat inwoners eerder niks in hul motors moet los nie, en om seker te maak dat al die deure gesluit is. Inwoners kan ook ekstra moeite doen en sommer hulle kajuitkissies laat oopstaan, sodat die diewe kan sien daar is niks waardevols om te steel nie. Dit is ook nie wys om iets soos ‘n skootrekenaar in die kattebak toe te sluit in ‘n parkeerarea ten aanskoue van almal nie.

 

 
 
 

Viewed: 246

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT