ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle dr. André van der Walt, afgeneem tydens sy en sy familie se vakansie in Marokko in 2011. Weens sy geweldige liefde en kennis van slange, vertel sy dogter Marinda, kon hy dit net nie weerstaan om afgeneem te word met hierdie slang en dié se hanteerder nie.Foto verskaf.

Hartseer vaarwel

Date: 16 January 2015 By: Andries van Zyl

Daar is min woorde wat die absolute gevoel van verlies kan beskryf  waarmee menige inwoner van die Soutpansberg steeds worstel ná die nuus van die skielike dood van dr. André van der Walt van Louis Trichardt.

Die 68-jarige André het Sondagmiddag, 11 Januarie, sy eie lewe geneem by sy praktyk in Presidentstraat.

“Onder omstandighede gaan dit goed, maar dit is maar ‘n bitter moeilike tyd vir ons,” het Yvonne, André se eggenote, Dinsdag gesê. Te verstane, worstel sy familie ook maar met vrae. “Ons weet nie waarom hy die besluit geneem het nie. Daar was geen briefie nie,” sê Yvonne.

Almal wat vir André goed geken het, sal weet dat hy ‘n geweldige liefde vir die Bosveld gekoester het. Dit was juis hierdie liefde vir die Bosveld, vertel Yvonne, wat André in 1982 laat besluit het om saam met haar en hul twee dogters vanaf Orkney na Louis Trichardt te verhuis. Aanvanklik was André as dokter  in ‘n vennootskap, maar dit was van korte duur en in 1983 het hy sy eie praktykgeopen.

“Ons het baie goeie tye saam gehad en ons onthou hom waar hy op sy gelukkigste was – om 'n Bosveldvuurtjie,” sê Yvonne en voeg by dat as André ‘n tydjie kon afknyp, het hy hierdie tyd in die veld spandeer. “Ek onthou ook net die mooi van hom. As hy ‘n goggatjie of voëltjie in die veld gesien het, kon hy jou altyd iets daarvan vertel. Hy het ‘n geweldige kennis van die veld gehad,” sê dogter Marinda.

André was een van die laaste “ou garde” dokters in die streek en die nuus van sy dood is uit alle oorde met aanvanklike ongeloof ontvang. As dokter was hy baie geliefd en gerespekteer vir die liedevolle manier waarop hy almal, nie net sy pasiënte van die afgelope bykans 32 jaar nie, maar ook sy vriende en kennisse hanteer het.

“My pa kon met almal gesels. Hy het mense met deernis behandel ...” sê Marinda.

Die familie het hul dank uitgespreek teenoor almal wat hulle bygestaan het en steeds bystaan in hul tyd van hartseer. Hulle wou niemand uitsonder om te bedank nie, maar het wel hul opregte dank uitgespreek teenoor Dirk Meissenheimer (snr.),  die polisie, Anna-Mart en Joan Joubert vir hul ondersteuning op die noodlottige en hartseer dag.

‘n Roudiens vir wyle André vind Saterdag, 17 Januarie, vanaf 11:00 vanuit die NG Kerk Soutpansberg-gemeente (h/v Stubbs- en Andersonstraat) plaas. Die diens sal waargeneem word deur ds. Petrus Kriel van die NG Kerk Levubu-gemeente.

Wyle André word oorleef deur sy eggenote  Yvonne, dogter Marinda, dogter Sunet, haar man Kosie Wolvaardt en drie kleinkinders (Petrus, André en Jacobus). “Ons gaan sy as strooi waar hy sy gelukkigste tye gehad het – in die Limpoporivier,” sê Yvonne.

Wat André se praktyk betref, het Marinda gesê dat hulle nog vir ‘n paar maande sal oop bly, maar slegs vir administratiewe doeleindes. Vir navrae in dié verband kan die spreekkamer geskakel word by tel. 015 516 5105.

 
 
 

Viewed: 679

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT