ADVERTISEMENT:

 

 
 

Staat meen sy wil vlug

Date: 09 January 2015 By: Isabel Venter

‘n Vrou wat glo landuit wou vlug nadat sy van bedrog aangekla is, is sedert Oujaarsaand in polisie-aanhouding.

Die 29-jarige Kathy-Lee Mostert het Dinsdag in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn. Sy staar 11 klagte van bedrog en een klag van diefstal in die gesig. Volgens haar klagstaat word sy daarvan beskuldig dat sy ongeveer R700 000 by Blouberg Dierekliniek gesteel het, terwyl sy as ‘n administratiewe beampte daar werksaam was.

Dit het Dinsdag, tydens haar borgaansoek, aan die lig gekom dat sy reeds skuld erken het op ‘n bedrag van bykans R60 000 wat sy gesteel het van Blouberg. Volgens haar prokureur, mnr. Charles Pieterse, het Mostert ‘n bedrag van R70 000 in ‘n trustrekening terugbetaal aan Blouberg.

Sy het regshulp gekry nadat sy gedurende Desember ‘n resolusie onderteken het om die geld terug te betaal en dissiplinêr verhoor is deur die kliniek. “Daar was onderhandelinge tussen ons, haar prokureurs, en Blouberg se prokureurs om te poog om die saak buite die hof te skik,” het Pieterse aan die hof verduidelik.

Mostert het na bewering oor ‘n aantal jare geld wat sy veronderstel was om aan die kliniek se verskaffers te betaal in haar eie persoonlike bankrekening inbetaal.

Die Makhado Polisie is gevra om tussenbeide te tree toe dit aan die lig gekom het dat Mostert glo werk gekry het in Dubai en ook aansoek gedoen het vir ‘n nuwe paspoort. Volgens dr. Freddie Harris, mede-eienaar van Blouberg, het hulle betroubare inligting ontvang dat Mostert en haar eggenoot, Dirk, besig was om te vlug en al hulle bates privaat van die hand begin sit het. Hy het vir die Staat getuig, wat Mostert se borgaansoek geopponeer het.  

Dirk het getuig dat hy nie saamgesweer het met sy vrou om haar te help vlug nie. Dit was sy voorstel dat sy in Dubai gaan werk, want hy het geweet sy sal nie weer werk kry as dit aan die lig kom dat sy skuldig bevind is aan diefstal nie. “Die plan was om solank die bal aan die rol te kry, sodat sy in Dubai kon gaan werk sodra die saak afgehandel was,” het Dirk getuig.

Dirk het verder ‘n gesprek wat hy oor WhatsApp met sy suster in Dubai gehad het vir die hof voorgelees. Volgens die boodskappe kon Kathy-Lee al in Januarie in Dubai begin werk.

Die Staat voer egter aan dat Kathy-Lee geweet het dat sy in groot moeilikheid is, omdat sy gejok het oor die bedrag wat sy gesteel het.

Harris het getuig dat die R70 000 wat Kathy-Lee terugbetaal het net ‘n voorlopige skikkingsbedrag was, omdat hulle in daardie stadium nog besig was met hul ondersoek. “Sy het tydens haar dissiplinêre verhoor erken dat sy R100 000 skuld en onderneem om later ‘n verdere R30 000 in die prokureurs se rekening te betaal,” het Harris getuig.

Dit het egter nie gebeur nie en verdere ondersoek, het Harris gesê, het gewys dat daar tot dusver meer as R600 000 vermis word. Hy het genoem dat een verskaffer se rekening 'n R300 000 tekort gewys het. “Ons wag nog steeds op bankstate wat ons van haar en haar prokureurs aangevra het, sodat ons die ondersoek kan afhandel en die presiese bedrag kan vasstel,” het Harris gesê.

Die Mosterts se verweer was dat hulle die hoop gehad het dat hulle die saak buite die hof kon skik en besig was om die uitstaande R30 000 bymekaar te maak. “Mens kan nie bloed uit ‘n klip tap nie, en dit wil nou voorkom of aanhouding en arrestasie meer van ‘n straf is as die amptelike prosedure,” het Pieterse namens sy kliënte getuig.

Die koerant het intussen verneem dat Dirk nie in dié stadium saam sy met vrou aangekla word nie. Hy is wel, volgens Harris, besig met ‘n swartsmeerveldtog teen die dierekliniek. Harris het getuig dat Dirk aan verskeie kliënte gesê het dat hy sal sorg dat Blouberg se deure gesluit word.

Teen druktyd was die hof nog besig om uitspraak te gee in Kathy-Lee se borgaansoek. 

 

 
 
 

Viewed: 671

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT