ADVERTISEMENT:

 

 
 

Oom Willie Agenbacht van Louis Trichardt, wat sedert Januarie 1985 daagliks getrou die reënvalsyfer by sy woning in Malvastraat opteken, is optimisties oor ‘n goeie reënvalseisoen. “As ek kyk na die miere – mens kan dit nie beskryf nie – dan loop hulle nie, hulle hardloop na hoër grond. Ek dink dit gaan ‘n goeie reënjaar wees,” het oom Willie gesê.

Natste Desember in jare laat almal glimlag

Date: 09 January 2015 By: Andries van Zyl

Tuiniers en boere glimlag breed oor die lekker reën wat gedurende die Desembervakansie oor die streek uitgesak het.

In Louis Trichardt het oom Willie Agenbacht, wat sedert Januarie 1985 daagliks getrou die reënvalsyfer by sy woning in Malvastraat opteken, 257 mm reën vir Desember gemeet. Die maand het goed afgeskop met 26 mm op 1 Desember, gevolg deur ‘n paar druppels hier en daar. “Die werklik reën het begin op 16 Desember,” sê oom Willie. Tussen 16 en 18 Desember het hy 63 mm gemeet. Dit is opgevolg met 53 mm op 23 Desember en 74 mm tussen 27 en 28 Desember. Vanaf 29 tot 31 Desember het hy 29 mm gemeet.

Eweneens is goeie reënvalsyfers vir Desember regoor die streek deur lede van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie gerapporteer. Dit het ingesluit 'n reënvalsyfer van 281 mm in die Levubu-omgewing, 81 mm by Bandelierkop, tussen 150 mm en 280 mm by Vivo, 120 mm by Vivo, 270 mm uit op die Witvlagpad en 115 mm by Alldays. Die reën is goeie nuus vir wild- en beesboere wat betref weiding vir die komende maande. Die reën was ook goed vir boere wat gewasse aanplant in terme van ondervog. Verdere goeie opvolgreën sal die situasie net nog meer rooskleurig maak.

Desember 2014 was een van die natste Desembermaande sedert 2011. In Desember 2011 het oom Willie 131 mm opgeteken, gevolg deur 101 mm in Desember 2012 en 128 mm in Desember 2013. In 2012 en 2013 is die Desember reënvalsyfer met goeie reënval opgevolg in die daaropvolgende Januariemaand, met 490 mm in Januarie 2013 en 397 mm in Januarie 2014.

Die groot vraag is nou: Kan Soutpansbergers soortgelyke goeie opvolgreën vir die komende somer reënvalseisoen verwag?

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens is die moontlikheid van ‘n baie warmer en droëer reënvalseisoen vir die periode Januarie tot Mei 2015 hoog. Hul voorspelling is geskoei op die huidige swak El Niño toestand wat ‘n ondergemiddelde reënval aandui, asook hoër somertemperature. Die enigste uitsondering, sê die weerdiens, is in die Mpumalanga area, waar ‘n bogemiddelde reënval voorspel word vir vroeg herfs.

Oom Willie wou nie regtig ‘n voorspelling waag oor sy verwagtinge vir die komende reënseisoen nie. Tradisioneel, sê hy, is Louis Trichardt se weer moeilik om te voorspel asook om ‘n siklus te bepaal. Volgens sy statistieke is Louis Trichardt se normale reënval tussen 700 mm 800 mm per jaar. Daar is egter ‘n paar jaar wat uitstaan soos die 1 200 mm in 1996, die 2 000 mm tydens die vloede van 2000, die 1 000 mm in 2001, 1 144 mm in 2009 en 1 146 mm in 2014. “Al wat ek kan sê, is dat ek ‘n aardsoptimis is as dit kom by reën. As ek kyk na die miere – mens kan dit nie beskryf nie – dan loop hulle nie, hulle hardloop na hoër grond. Ek dink dit gaan ‘n goeie reënjaar wees,” het oom Willie gesê.

Wat die stand van die vernaamste damme in die streek betref, soos op 5 Januarie, is die jongste damvlakke kort voor druktyd eindelik bekom. Die Albasinidam het op 95.4% gestaan, met die Nandonidam op 101.5%, Nzheleledam op 90%, Tzaneendam op 78.1%, Middel Letabadam op 46.4%, Vondodam op 91%, Luphephedam op 82.9%, Nsamidam op 79.7%, Glen Alpinedam op 104.5% en Nwanedzidam op 80.5%.

 
 
 

Viewed: 217

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT